Die moeilikheid met Piña Coladas
Elsa Winckler
Een
“Ek het jou gesê Gerrit Bos se oë sit te na aan mekaar,” sê Brenna voor sy die kelner weer ’n keer nader wink.
“Ek kan nie glo hy’t jou ontwerp gesteel en as sy eie aan jou baas voorgelê nie. En dit terwyl hy maak asof hy belangstel in jou. As ek hom darem in die hande kry …” dreig Ellen.
Mientjie kan nie eens glimlag vir die idee dat die fyne Ellen dink sy kan iets aan Gerrit doen nie; sy’s net te kwaad. Kwaad omdat sy haar laat flous het deur die man se breë glimlag; kwaad omdat sy so naïef was om te dink hy stel werklik in haar as mens belang, en absoluut woedend omdat hy nie dink hy hoef verskoning te vra nadat hy haar idee vir ’n nuwe logo vir een van hulle groot kliënte gesteel het nie. Stommerik wat sy was, het sy dit vir hom so maklik gemaak – sy het dit ewe vir hom gewys.
Sy neem ’n lang sluk deur die strooitjie van haar piña colada en beduie vir Brenna sy wil nog een hê. “Nie net het hy my idee gesteel nie, hy het ook die bevordering gekry wat myne is. Myne!”
Dis Donderdag, amper naweek, en almal in die besige kuierplek in die hartjie van Kaapstad is meer luidrugtig as gewoonlik, so niemand sal hulle aan haar uitbarsting steur nie.
“Ek dink net nie jy moes sommer bedank het nie; hoekom het jy nie eerder net vir jou baas gesê dis jóú ontwerp nie?” vra Sunette.
Mientjie trek die naalde uit haar bolla wat styf op haar kop vasgemaak is en skud haar hare los. “Gmf, wie dink jy gaan hy glo? Nee, wat. Die klomp mans het mos hulle eie klub. Ek moes net eenvoudig bedank; daar’s nie ’n manier dat ek weer saam met daai vent kan werk nie.”
“Maar wat gaan jy nou doen?” vra Brenna. Altyd die praktiese een.
“Annie, my kleinsus, trou Saterdag. Ek sou in elk geval môre na werk gery het; nou kan ek vroeër ry.”
“Dit was darem alles baie skielik. Het sy nie maar nou die dag die man ontmoet nie?”
“Drie maande gelede,” antwoord Mientjie. “Hulle het iewers letterlik in mekaar vasgeloop en volgens haar, het sy dadelik geweet Eben is haar trouman.”
“Waar is die troue nou weer?” vra Sunette. “Iewers in die boendoes?”
“Iewers in die Cederberge. Dalk bly ek sommer ’n paar dae langer.” Mientjie gooi haar hande in die lug. “Ek het tyd. Vir die eerste keer vandat ek begin werk het, sal ek actually tyd hê vir myself.”
Die kelner bring ’n skinkbord met nog piña coladas vir elkeen. “Bring asseblief nog ’n rondte?” vra Mientjie terwyl sy haar glas by hom neem.
“Die moeilikheid met piña coladas is, dit smaak soos koeldrank, ” begin Ellen en Mientjie sien hoe sy onderlangs na hulle ander twee vriendinne loer. “En ’n mens doen dalk net dinge wat jy nie móés gedoen het nie. Dink nie jy moet stadig nie? Jy drink mos nie eintlik nie.”
“Presies. Ek is die goody two shoes. Ek drink nie, ek slaap nie rond nie, oukei, behalwe daai een keer, en ek doen my werk. En kyk wat het gebeur?! Mense loop sommer bo-oor my. Nee wat, dis tyd dat ek die lewe met albei hande aangryp.” Sy beduie met haar hande voor sy weer aan haar strooitjie suig. “Ek het klaar besluit. Die eerste man wat vanaand in my rigting kyk, vat ek huis toe.”
Brenna stik in haar piña colada, Sunette giggel en Ellen se oë rek.
“Seriously?” kry Ellen uit.
“Seriously.” Mientjie draai om in haar stoel en kyk rond in die gepakte vertrek. “Help my na ’n kandidaat soek. Een met sulke ek-wil-jou-opeet oë.”
“Moenie laf wees nie, Mientjie,” raas Brenna. “Dis nie in jou aard om rond te slaap nie. In dié tyd en dae kan jy nie sommer enige javel optel en huis toe vat nie, jy is só nie die one-night stand tipe nie.”
“Dis die piña coladas wat praat,” giggel Ellen.
Sunette grinnik en beduie met haar oë na regs. “Wel, hier langs ons sit ’n paar manne wat almal drop-dead gorgeous is, maar daar is een wat nog nie sy oë van jou kon afhaal nie.”
“Waar?” vra Mientjie en draai haar kop in die rigting wat Sunette beduie. ’n Paar pers-blou oë sluk haar feitlik in. Om haar raak dit doodstil. Gehipnotiseer gly haar oë oor die man se vierkantige kakebeen, af teen sy nek tot waar gespierde boarms styf pas in ’n wit hemp. Sy das is losgetrek, die boonste knoop oopgelos. ’n Paar slierte van sy inkswart hare val oor sy voorkop tot teenaan sy digte wenkbroue.
Haar binnegoed word omgedolwe. ’n Versengende hitte versprei binne sekondes deur haar lyf en dreig om haar te verswelg. Asemhaling is feitlik onmoontlik.
Sonder om sy oë van haar af te haal, staan hy op, gooi geld op die tafel en begin in haar rigting beweeg.
***
“En nou?” roep Lafras agter hom, maar Tiaan haal sy oë nie van die blondekop af nie. “Waarnatoe gaan jy? Ons is nog besig om ons planne vir die naweek te finaliseer,” probeer sy broer weer sy aandag kry.
“Ek het gedink hy’s nog dikbek oor die laaste girl wat hom vir ’n Italianer gelos het,” lag Marnus.
“Wel, hy’s duidelik oor haar,” sê Reinier. “Ons het mos klaar gepraat oor wie wat saamneem. Ons sien Tiaan hopelik môre by die werk. Hy is darem een van die strooijonkers by Saterdag se troue; hopelik sal hy nie daarvan vergeet nie.”
Maar Tiaan steur hom nie aan sy broers nie. Hy het die blondekop en haar vriendinne raakgesien toe hulle instap. Al vier vrouens is aantreklik en sexy, maar daar was net iets in die gloed op die blondine se wange, en die manier waarop sy haar ken hou, wat dit moeilik gemaak het om weg te kyk. Duidelik is sy ontsteld oor iets.
Dit was erg genoeg om haar dop te hou terwyl sy aan haar strooitjie suig, maar toe sy haar hare losmaak en haar goue lokke oor haar skouers val, het begeerte se vuishou hom op die krop van sy maag getref. Heeltemal onverwags. Hy hou van vrouens, weet wat begeerte is, maar wat hy nóú voel, is ’n eerste.
Hy het die piña coladas wat sy verorber het, getel. Drie glase. Die tafels in die kuierplek is naby mekaar en dit was nie moeilik om te hoor waaroor die vrouens gesels nie.
Die rede vir haar ontsteltenis het gou duidelik geword, maar dit was toe sy begin rondkyk vir iemand wat sy kan “huis toe vat”, soos sy dit gestel het, dat hy net eenvoudig moes opstaan en sy hulp aanbied.
Hulle ma het hulle mooi grootgemaak om te help waar hulle kan en met ’n one-night stand kán hy help. Om die waarheid te sê: hy verkies dit. En in hierdie geval hoef hy nie eens vooraf te probeer verduidelik dis net een nag nie – dis presies waarna dié girl soek.
Trou en kinders grootmaak is nie deel van sy toekomsplanne nie. Sy eie ouers is geskei toe hy en sy broers in die hoërskool was en waardeur hulle is, wens hy niemand toe nie; verál nie sy eie kind nie.
So, as hy die girl vir een aand kan uithelp, doen hy dit graag. En om die een of ander rede is die idee van haar saam met ’n ander man, glad nie iets waaraan hy wil dink nie. Sy’s beautiful, sexy en …
Sy staan op, haar oë op hom. Onder haar kort, wye rompie flits ’n paar sexy, bruingebrande bene. ’n Ligblou T-hemp pas styf om haar bolyf, maar dis die stywe puntjies wat teen die sagte materiaal beur, wat sy aandag vasvang.
Begeerte hang swaar in die lug om hulle.
Met nog een tree, is hy by haar. “Tiaan.” Dis nie die tyd vir lang sinne nie.
’n Pienk tong glip oor haar onderste lip, sy keel trek toe. “Mientjie.” Haar stem is hees.
“Waar bly jy?” Hy vleg sy vingers met hare.
“Groenpunt.”
“Ek is nader. My motor is in die parkeergarage langsaan.”
“Oukei.” Sy glimlag. Sy mond word kurkdroog.
“Oukei,” kry hy uit voor hy vinnig in die rigting van die deur beweeg.
Twee
Tiaan het sy hand op haar bobeen gesit en waar sy vel aan hare raak, gloei dit soos ’n kool vuur. Rukkerig probeer sy asem skep. Dis ’n wonderwerk sy het nog nie in vlamme uitgeslaan nie.
Nie een van hulle twee het weer ’n woord gesê vandat hy uit die stad weggery het nie. Al wat hoorbaar is in die beperkte ruimte van sy sportmotor, is albei se onreëlmatige asemhalings.
Tiaan. Sy naam is letterlik al wat sy van hom weet. Die moeilikheid met piña coladas is nie net dat dit soos koeldrank smaak nie; dit maak haar ook heerlik onbevange. Sy is glad nie op haar senuwees nie. Inteendeel.
Sy is opgewonde. Dis asof sy haar hele lewe vir hierdie oomblik wag. Vir hierdie hitte, hierdie intensiteit, hierdie emosies. En dis net by hom moontlik. Sy het nog nooit so gevoel nie en sy weet sy gaan nooit weer só intens begeer nie.
Dis nie asof sy by die huis sit en wag vir ’n ridder op ’n wit perd nie, sy gaan uit, maar sy het al begin dink sy is miskien maar een van daai koue vrouens waarvan ’n mens soms hoor. Geen man kon al die vlammetjie in haar binneste aansteek soos wat vanaand gebeur het nie.
Die kanse dat sy hierdie man ooit weer gaan sien, is nul en dis ook oukei. Want g’n mens kan só begeer vir ’n leeftyd lank nie;, sulke intense gevoelens sal ’n mens vernietig. Sy glimlag. Maar eendag sal sy vir haar kleinkinders kan vertel bandelose passie bestaan wel en dat ’n mens jouself een nag daarvan mag gun.
“En dié glimlag?” vra hy.
Sy skud haar kop. “Ek het nie geweet dis moontlik om so … so …”
“… intens te begeer nie?” Sy hand gly hoog teen haar been op en stop teen haar hitte.
Mientjie snak na haar asem en gryp sy hand vas. Sy vingers vou krampagtig om hare, die motor skiet vorentoe. Binne minute draai hy by ’n oprit in. ’n Hek gaan oop en hy ry tot binne.
Sy het geen idee waar in die Kaap hulle is nie, sy het nie na die pad gekyk nie, en sy gee regtig ook nie om nie. Al wat sy op hierdie stadium weet, is dat sy hierdie man so gou as moontlik uit sy klere wil kry.
Voor die motor nog behoorlik stilhou, spring sy uit. Haar hele lyf ruk soos iemand wat koorsig is.
Tiaan rek sy treë om die motor, vat haar hand in syne, en stap tot by die voordeur. Hy probeer die deur oopsluit, die sleutel val, hy swets. Sy giggel.
“Jy dink dis snaaks?” Sy oë glim in die half-lig van ʼn straatlamp.
“Kom ek probeer?” vra sy.
Hy gee vir haar die sleutel. Terwyl sy buk om die sleutel in die slot te sit, is hy agter haar. Groot, warm hande vou om haar heupe. Die sleutel val. Hy buk eerste, tel die sleutel op dié keer sluit hy die deur oop.
Haastig stap sy voor hom in. Sy hoor hom die deur agter haar sluit. ’n Leeslamp is die enigste lig in die vertrek. Skielik is dit doodstil. Die stad se geluide is ’n veraf gedreun, elkeen van haar sintuie is ingestel op die man agter haar.
“Mientjie.”
Niemand het nog ooit presies só na haar gekyk nie. Dis opwindend, verterend én ’n klein bietjie vreesaanjaend. Hy gee ’n tree nader en toe is sy in sy arms.
“Is jy seker?” prewel hy terwyl sy mond teen haar gesig afgly. “Ek sal jou enige tyd terugvat. Dit sal heelwaarskynlik my einde beteken, maar ek sal dit doen.”
“Die moeilikheid met piña coladas, hoor ek,” begin sy en vou haar hande om sy nek, “is dit smaak soos koeldrank. Ek het dalk te veel gedrink, want ek kan aan geen ander plek dink waar ek wil wees nie.”
En toe soen hy haar. Honger, passievol, intens. Sy het beslis vantevore haar tyd met ander soene gemors. Hierdie man kán soen. En die manier waarop hy na haar kyk, is ook ’n eerste. So asof hy nie kan glo sy is hier by hom nie; asof hy haar régtig begeer. Maar meer as enigiets is sy verstom oor die gevoelens wat hy in haar wakker maak.
Haar hande gly oor sy borskas, maar eintlik wil sy sonder enige belemmering aan sy lyf vat. Haar rustelose vingers sukkel met die hemp se knope. Hy swets onderlangse, pluk sy hemp oor sy kop. Tevrede sug sy en sprei haar hande oor sy gespierde borskas. Sy vel is warm, sy hartklop onreëlmatig. Soos hare.
“Laaste kans,” prewel hy.
Sy kan net knik. Praat is heeltemal onmoontlik. Met een beweging tel hy haar in sy arms op en begin stap. Hiervan hou sy. Sy kaal bolyf is sommer hier by haar mond, sy kan net haar kop draai. Haar tong volg dieselfde pad waar haar hande netnou was.
“Mientjie,” kreun hy voor hy haar teen hom laat afgly. Sy warm hande beland op haar heupe, trek haar styf teen hom vas; styf genoeg sodat sy presies kan voel hoe hy haar begeer.
’n Glimlag speel om sy mond. “Ek is so vandat ek jou vanaand sien instap het. En daai flippen strooitjie waaraan jy gesuig het …” Dringende vingers glip onder haar T-hemp in en hy lig dit oor haar kop.
Sy oë sak af tot by haar bloedrooi satyn-en-kant bra. Sy moet tog onthou om vir haar ma dankie te sê dat sy haar geleer het om altyd mooi onderklere te koop.
Toe hy weer opkyk, is sy oë amper swart. “Jy’s só, só sexy,” prewel hy. Sy hand gly oor die ronding wat bokant haar bra uitsteek. Hy het nog nie regtig aan haar gevat nie, maar sy wil in vlamme uitbars.
Nog nooit het sy aan haarself as sexy gedink nie, maar op hierdie oomblik voel sy sensueel en sexy.
Hy buk af terwyl hy ’n tree nader gee. Agter haar wag die bed. Vir ’n oomblik vou paniek om haar keel, maar sy mond vang hare vas en saam syg hulle op die bed neer. Groot hande gly liefkosend oor haar lyf en die angstigheid maak plek vir ’n nuwe vlaag passie. Hiervan gaan sy nooit genoeg kry nie.
Die moeilikheid met piña coladas is ook dat sy hoegenaamd geen inhibisies het nie.
Haar hande gly deur sy hare, haar lyf buig sonder instruksie op na hom toe. Sy mond gly oor haar gesig, sentimeter vir sentimeter, af teen haar nek. Gefrustreerd haak sy haar been om syne. Sy mond is nog nie waar sy dit wil hê nie.
Hy lig sy kop en grinnik voor hy sy mond om een harde puntjie vou. Die kreun wat vanuit ’n diep plek binne haar uitglip, kan sy op geen manier keer nie. Golwe lyflike genot spoel oor haar. Is dit moontlik om dood te gaan hiervan? Op hierdie oomblik klink dit glad nie vergesog nie.
Dit was die kreungeluid uit haar keel. Begeerte was nog die hele tyd daar, gloeiend op die oppervlakte, maar die gebroke geluid verander die atmosfeer binne sekondes na ’n intense, desperate hitte.
Terwyl sy mond elke bors liefkoos, gly sy hande om haar lang, soepel bene te bemin. Haar spiere span styf, haar vel sidder. Rusteloos beweeg haar hele lyf onder hom.
Haar geur maak hom mal, hits hom aan om haar te verorber. Maar met inspanning katrol hy homself in. Want hy weet, wanneer hy die leisels laat los, word beide van hulle verteer.
Ongeduldig, pluk hy aan haar romp. Sy help hom. Sy hart struikel. Die bloedrooi piepklein driehoekie laat hom omtrent kwyl. Hy lig homself op, skop sy broek uit. Haar oë rek.
Binne sekondes is hy weer by haar en vind sy hand uiteindelik haar hitte. Haar lyf ruk boontoe, ’n kermgeluid glip oor haar lippe terwyl haar hand om hom vou.
Deur die waas van begeerte voel sy hoe sy beheer toeneem. Sy mond wat weer om ’n bors vou, is meer desperaat, sy vingers wat haar kern bo-oor satyn liefkoos, rukkerig. Hy klop warm in haar hand; sy wil seker maak hy ervaar net soveel genot soos sy, maar sy liefkosing dryf haar meedoënloos oor die eerste krans.
Toe sy weer grond vat, sien sy deur halfmas oë hoe sy mond teen haar afgly, laer en laer en … Koorsige oë vang hare vas voor hy afbuk en haar met sy mond liefkoos.
Haar lyf span styf soos ’n boog, maar hy hou nie op nie. Binne sekondes skiet sy weer geruisloos oor die volgende krans.
Hy wag totdat sy haar oë oopmaak voor hy nogeens haar mond vasvang met syne. Passie brand witwarm; saam rol hulle oor die bed. Hygend, sidderend vou sy haarself om hom, haar lyf sidderend in afwagting.
“Gereed?” kreun-vra hy en hys hom bokant haar op.
“Nog altyd.” Sy hou haar arms uit na hom toe. Hierdie prentjie sal hy nooit vergeet nie. Haar mond nat van sy soene, haar blonde hare uitgesprei oor sy kussing, haar blou oë vol vertroue op hom.
Met ʼn enkele beweging is hy in haar. Hitte ontmoet hitte; die ontploffing van lyflike genot is vinnig, oorweldigend, ’n harde en onstuimige storm wat sy siel, sy hele wese, oorstroom. Haar kermgeluide en sy gehyg is die enigste geluide in die kamer.
Nog. Dis al waaraan hy kan dink. Hoe sal hy ooit genoeg van haar kry? Sy hande vat die bedkopstuk bokant hulle vas sodat meer van hom deel van haar kan word. Sy buig op, aanvaar hom.
Hy hou haar gesig dop; absorbeer elke emosie in haar oë. Eers toe sy sy naam uitsnik, neem hy haar vinniger en hoër as voorheen oor die volgende krans en terwyl sy onder hom smelt, stort hy agter haar aan, met haar naam op sy lippe, ver na benede.
Drie
Teen die tyd wat sy Vrydagmiddag Ceres binnery, is Mientjie se binnegoed nog aan’t bewe. Nooit in haar hele lewe drink sy weer ’n piña colada nie. Sy’t ’n one-night stand met ’n wildvreemde man gehad. Een wat sy in haar hele lewe nooit sal kan vergeet nie.
Van slaap was daar hoegenaamd nie sprake nie. Teen seweuur vanoggend het sy ’n halfhartige poging aangewend om huis toe te gaan, maar hy het by haar in die stort geklim.
“Ek dink die piña coladas is uitgewerk, of hoe?” het hy gevra.
Toe sy weer kyk, was dit agtuur.
Hy het ’n Uber vir haar bestel, eers na die man se ID gekyk voor hy die motor se deur vir haar oopgemaak het. Sy was nog in ʼn dwaal; sy het nie eens aan haar eie veiligheid gedink nie.
Voor hy haar in die motor gehelp het, het hy haar vir oulaas gesoen.
“Dit was … onverwags, maar onvergeetlik.” Sy laaste woorde.
Sy was nie gebore in staat om iets te sê nie.
By die huis het sy op haar bed gaan lê met wydgesperde oë en tot haar verbasing aan die slaap geraak. Sy het heeltemal verslaap en eers halfvyf wakker geskrik. En die eerste ding waaraan sy gedink het? Tiaan. Sy weet nie eens wat sy van is nie.
Haar foon lui. Dis die bruid. Met ’n sug antwoord sy. Sy is hopeloos laat, sy weet.
“Mientjie, waar’s jy?!” vra Annie sonder om te groet. “Jy moes al lankal hier gewees het. Ek het jou nodig. Jy’s my suster én my strooimeisie en jy’s nie hier nie!”
“As jy nie so oorhaastig was om te trou nie, was ek dalk nie laat nie,” brom Mietjie.
“As ’n mens weet, dan weet jy. Hoekom wag?”
“Ja, oukei, ek weet hy’s jou soulmate en al daai dinge, maar hoekom moet julle in’ie mirrel van flippen nêrens trou?” Mientjie rol die foon se skerm terug na die aanwysings.
“Sê asseblief net vir my jy’s darem al by Piketberg verby?” vra Annie.
“Piketberg? Ek het sopas in Ceres aangekom.”
“Wa-a-at?!” gil Annie. “Maar jy moes nie Ceres omgery het nie! Wat op aarde het jou …?”
Die volgende oomblik is haar pa op die foon. Dis duidelik die bruid is ietwat uitgefreak. Annie is gewoonlik die rustigheid self, maar die vinnige troureëlings is skynbaar een te veel vir haar.
“Mientjie, my liewe kind,” sê haar pa, “… jy moes die N7 gevat het; ek het mos vanoggend vir jou ’n boodskap gestuur?”
“Dit was … die dag was ʼn bietjie deurmekaar,” mompel Mientjie. Om van die vorige nag nie te praat nie. Haar wange begin sommer weer gloei.
“Oukei, jy kan nie nou meer omdraai nie. Luister mooi, ek sal verduidelik, maar ek sal ook vir jou die aanwysings aanstuur. Ná Ceres sal jy oor die Gydo-pas moet ry. Ek wens jy kon vroeër wegkom; dit word nou vinnig donker en ek hou nie van die wolke wat ek sien nie. Jy gaan deur Op die Berg ry. Jy sal ’n bord sien met Cederberge/Ceres Karoo op. Daar draai jy regs. Ry totdat jy ’n grondpad kry …”
“Grondpad?!” Sy rol haar oë. Dit kom nou van te veel piña coladas ….
“Ek is bevrees, ja, seker so ’n uur en ’n half se ry. Onthou, jy kan nie vinnig ry nie. Jy gaan verby Mount Ceder, ry net reguit aan. Die volgende punt is Cederberg Oasis. Wag daar vir my, ek sal ry tot daar, want dis moeilik om die pad van daar af tot by die Lodge te verduidelik.”
“Oukei, Pappa. Dankie. Sien later.”
“Mooi ry, Ounooi.” Haar pa se rustige stem is presies wat sy nou nodig het.
Sy groet haar pa en kyk weer na die aanwysings op haar foon. Toe sy vyfuur wakker skrik, moes sy nog inpak en haar motor se tenk vol maak. Sy het die adres op haar foon getik en begin ry, duidelik nie altyd die beste plan nie.
By die volgende stopstraat sien sy die aanwysing na die Gydo-pas. Ten minste weet sy nou sy ry in die regte rigting en sy ry weg uit die Kaap, weg van Tiaan en sy bultende spiere, sy sexy oë en sy dringende hande.
Haar hart begin weer wild in haar binneste klop. Al word sy ’n honderd jaar oud: laasnag sal sy nooit, ooit in haar lewe vergeet nie. Maar sy sal die man nooit weer sien nie en sy is innig dankbaar daaroor. Wat tussen hulle gebeur het … Haar asem raak sommer weer weg.
Sy loer deur die voorruit na die dreigende wolke wat van nêrens begin saampak. Flippit, dis die begin van Desember, dis die Boland, dis nie veronderstel om nou te reën nie.
En natuurlik. Die volgende oomblik stort emmers water oor haar Fiatjie neer.
Tiaan pluk sy natgeswete T-hemp oor sy kop voor hy die bier by Marnus vat. Sy ander broers, Lafras en Reinier, het klaar hulle hemde uitgetrek; dit was baie warm toe hulle gaan draf het. Hulle het so ’n uur gelede by die Cederbeg Oasis aangekom waar hulle vir die naweek plek bespreek het. Môre wil hulle voor die troue van die roetes verken en het daarom vandag al ’n drafsessie ingepas.
“Ons moet maar vroeg môreoggend die 4X4-roete gaan ry,” stel Lafras voor. “Die troue begin vieruur, en Eben het gevra ons moet asseblief teen halftwee by hom wees.”
“Vir wat so vroeg?” brom Reinier.
“Seker foto’s en stuff,” sê Lafras. “Ek het nie gevra nie. Die arme ou weet nie of hy kom of gaan nie; dié troue is mos binne drie maande gereël. Maar ons is sy strooijonkers, en ons is hier om dinge vir hóm makliker te maak.”
Marnus se foon lui en hy stap ’n end weg om te antwoord.
“Het jy weer iets van jou blondine gehoor?” terg Reinier.
Tiaan maak of hy nie hoor wat Reinier sê nie. Sy broers terg hom al heeldag omdat hy so laat by die werk opgedaag het. Hulle wou details weet, maar hy het hulle net ignoreer.
Hy het haar nie verwag nie. Mientjie. Hy probeer sy asem intrek, maar dis asof ’n band styf om sy borskas geklamp is sedert sy weg is met die Uber; hy sukkel om asem te haal. Laasnag is nog in sy kop, in sy lyf, en hy is nie seker wat om met al die gevoelens te maak wat in hom rondkarring nie. Vir sy broers se tergery en ’n flippen troue is hy regtig nie lus nie.
Marnus kom teruggestap. “Dit was Pieter. Vanmiddag se onderhoud het toe nie ’n grafiese kunstenaar opgelewer wat aan ons vereistes voldoen nie.”
“Hoekom is dit so moeilik? Ek dog mense soek werk?’ vra Reinier.
“Wel, soos jy weet is ons baie spesifiek met wat ons wil hê. Nie almal weet wat ’n internet- en sagteware maatskappy doen nie,” beduie Lafras voor hy frons. “Maar as ek reg onthou, is die bruid se suster ’n grafiese ontwerper. Sy werk glo by ’n advertensiemaatskappy. Dalk is sý ʼn moontlikheid, of wat dink julle?” voeg hy lig spottend by. Maar die onderdrukte toon van desperaatheid ontgaan nie die ander nie.
“Kom ons kyk maar eers hoe lyk die sussie,” sê Reinier met ʼn glimlag. “Die hoop beskaam immers nooit.”
Buite val die reën hard.
“Sal ons eerder binne braai?” vra Marnus.
“Ek dink so,” antwoord Tiaan. “Die hout is agter in my kar. Ek gaan kry dit gou.”
Hy pluk die voordeur oop en verstar. Die stoep se lig is aan en val oor ’n sopnat gereënde vrou. Haar hande is onder haar armholtes ingedruk; haar hare nat slierte oor haar gesig.
Maar die groot blou oë is onmiskenbaar háár oë. Sý Mientjie s’n.
Vir minute staar hulle na mekaar. Die stywe band om sy lyf gee skiet, maar sy asem het in sy keel gestol. Hy kan nie ’n woord uitkry nie.
’n Motor toet iewers in die donker agter haar, sy kyk oor haar skouer en voor hy kan keer, draf sy weg en klim in die motor. Toe eers kry sy voete lewe.
“Mientjie!” roep hy, maar die motor se ligte het reeds om die hoek verdwyn.
“Na wie roep jy?” vra Reinier van die deur af.
“Ek … dit was ….” Tiaan laat sak sy hand. “Niemand nie. Ek bring die hout.”
Hy kry die sak hout agter uit die bagasiebak en stap terug na die ou plaashuis wat hulle vir die naweek huur; sy gedagtes ’n totale warboel. Mientjie hier? Hoe’t sy hier gekom en wat soek sy hier? Hy moes haar ingenooi het, vir haar ’n handdoek aangebied het, maar in plaas daarvan, het hy net na haar gestaar.
“Als oukei?” vra Lafras met sy foon in sy hand. “Dit lyk of jy ’n spook gesien het.”
“Ek’s fine. Wat neuk julle so?” brom Tiaan en begin die hout uithaal.
Hoe kry hy Mientjie weer in die hande? Want van een ding is hy nou baie seker – een nag saam met haar was nie naastenby genoeg nie. ’n Leeftyd sal nie genoeg wees nie.
Teen die tyd wat Mientjie die volgende middag in die paadjie voor die drie ander strooimeisies uitstap, het haar hart nog nie sy lê gekry nie.
Tiaan was die allerlaaste mens wat sy gisteraand verwag het om in die enigste gebou met ligte aan by die Watsenaam Oase te kry. Maar dit wás hy. Elke gespierde sentimeter van hom. Reg voor haar. En wat doen sy? Sy hol weg.
Laasnag het sy weer niks geslaap gekry nie. Die paar kere wat sy wel weggeraak het, het stomende drome van warm hande, sý hande, oral op haar lyf, haar in elk geval wakker geruk.
In die voorste bank sit haar ma met oë nat van trane. Sy buk vinnig af en gee haar ’n drukkie voor sy verder stap. Annie se bruidegom staan voor die kansel; sy oë agtertoe op die deur. Sy glimlag. Sy is só bly vir haar sus. Net voor sy haar plek inneem, kyk sy vir die eerste keer na die vier strooijonkers wat so ’n ent agter haar amperswaer staan.
’n Paar persblou oë sluk haar feitlik in. Sy struikel effens voor sy haar balans kry. Die een kant van sy mond trek op. Hy lag vir haar, die ellendeling. Letterlik val sy amper voor sy voete en hy lag vir haar!
Sy druk haar hand op haar maag waar ’n hele swerm skoenlappers baldadig rondflap. Hy’s hier. By die troue. En sy kan nie eens ’n piña colada skuld gee vir die manier waarop haar lyf op sy teenwoordigheid reageer nie.
Die troumars se eerste noot vul die vertrek, Annie verskyn in die deur, maar Mientjie se kop swaai weer vanself na links. Tiaan se oë is op haar.
Help.
Die troufotograaf het die hele gevolg en familie aan die agterkant van die trouvenue bymekaar gekry. Van hier is daar ’n lieflike uitsig op die berge; die foto’s behoort pragtig te wees. Op die oomblik is die fotograaf besig met foto’s van die bruidspaar en hulle ouers.
Sy voel Tiaan agter haar voor sy hom sien.
“Mientjie.”
Met ’n bomenslike poging plak sy ’n glimlag op haar gesig voor sy omdraai. “Tiaan. Dis ’n verrassing om jou hier te sien.”
Tiaan maak sy mond oop om iets te sê, maar vinnig naderende voetstappe laat hom opkyk.
“Mientjie!” roep Marnus en kom met lang treë aangestap. Reinier en Lafras is ’n kortkop agter hom. Hy steek sy hand uit. “Marnus Weber, Tiaan se een broer. Ons hoor nou net by Eben jy’t bedank by jou werk. Ons is dringend op soek na ’n nuwe grafiese kunstenaar. Stel jy belang?”
“En julle is?” vra sy verbouereerd.
Lafras staan ook nader en steek sy hand uit. “Lafras. Ons is Weber Vier. ’n Internet- en sagteware maatskappy.” Sy oë vernou. “Maar het ons jou nie al iewers …”
Tiaan sit sy hande op haar heupe en trek haar styf teen hom vas. Sy broers se oë rek. “Dis my broers. Die een wat jy nog nie ontmoet het nie, is Reinier. Jammer julle, sy kan nie vir ons werk nie.”
“Ek het met Mientjie gepraat,” sê Marnus. “Ek het nie geweet jy ken haar nie?”
“Ek ken haar … baie goed. En tensy julle ’n gedeelte van die maatskappy se beleid verander, kan ons nie vir Mientjie aanstel nie.”
Mientjie is verstom oor die gesprek wat om haar aangaan; sukkel om ’n woord uit te kry. Maar toe sy Tiaan se laaste woorde hoor, draai sy verontwaardig om en gluur hom aan. “En hoekom nogal nie?”
“Wil ek ook weet,” reageer Reinier. Al drie sy broers kyk hom vraend aan. “Watter deel van die beleid?”
Tiaan tel Mientjie se hand op en bring dit na sy lippe toe. “Die deel wat sê dat ’n getroude paar nie vir die maatskappy mag werk nie[WE[1] .” [LE2]
“Maar …” stotter Reinier.
“Wat …?!” roep Marnus uit.
“Wel, die hele direksie is hier, ons kan dadelik ’n besluit neem,” lag Lafras.
Maar hy steur hom nie aan sy broers óf die ander lede van die trougeselskap wat naderstap nie.
“Die afgelope vier-en-twintig uur wil ek nooit weer oor hê nie. Ek het jou gemis. Jou glimlag, jou stem, jou geur, jou lyf. Vir jou.”
“Mientjie, wie is dié vent?” vra die bruid se pa en, het hy agtergekom, Mientjie se pa ook. “En hoekom weet hy hoe jy ruik?”
Tiaan steek sy hand uit. “Ek is Tiaan Weber, Oom. Gee my asseblief net ’n nog ’n minuut? Ek wil graag met u praat.”
’n Ouer vrou met Mientjie se blou oë, sit haar hand op die ouer man se arm en hy raak sigbaar rustiger. Tiaan glimlag. Dít verstaan hy. Hy kyk weer af na Mientjie.
“Gisteraand was nie genoeg nie. Waarskynlik sal ek sonder jou kan funksioneer, maar ek wil nie. Ek wil by jou wees. Ek het jou nodig. Altyd. Trou met my?”
Mientjie knip haar oë. Sy moet hallusineer, of regop staan en droom. Dis heeltemal moontlik. Die afgelope twee nagte het sy nie geslaap nie. Maar toe sy haar oë oopmaak, staan Tiaan nog voor haar, sy vraag van netnou nog steeds in die lug om hulle.
Die fotograaf gooi sy hande in die lug.
“Mientjie?”
Mmm … so hy is nie so seker soos wat hy graag wil lyk nie. Sy druk ’n vinger teen haar ken in ’n kom-laat-ek-bietjie-dink gebaar. “Dis moeilik. Ek moet eers weet of ek ’n werk het.”
Tiaan kyk na sy broers.
Reinier glimlag breed. “Ék het nie ’n probleem nie.”
“Ek ook nie,” grinnik Lafras.
“Miskien sal sy help om jou betyds soggens by die werk te kry,” lag Marnus.
Tiaan verstrengel sy vingers met hare. “Mientjie?”
Vreugde ontplof in haar binneste. Sy weet maar vir vier-en-twintig uur van Tiaan se bestaan, maar sy weet hoe hy bemin en sy weet hoe hy omgee. Sy weet hoe hy liefhet.
Hy trek haar nader.
“Ek het reeds vir ons piña coladas bestel,” fluister hy by haar oor voor haar pa keel skoonmaak.
[WE[1]Ek hou so van die einde! Maar oukei – ek val in by julle besluit J
[LE2]NOTA: Volgens die keurder se voorstel moet die verhaal hier eindig.