Die soen
Elsa Winckler
Dis nou al nege maande, hopelik is daar vandag ’n antwoord van die uitgewer oor haar storie.
Met ’n glimlag en ’n wuif van haar arm, groet Annemarie al haar kollegas wat in die groot, oop ruimte voor hulle werkstasies sit voordat sy by haar kantoor instap en voor haar rekenaar inskuif.
’n Vinnige loer na haar horlosie bevestig sy het nog ’n halfuur voordat een of ander politikus van die opposisieparty opdaag vir ’n fotosessie. Rick of Mick of iemand. Sy is so geïrriteerd met die hele ding. Goed, sy verstaan daar word oral besnoei, maar sy is die leefstylredakteur, verdomp, nie ’n pimp vir plaaslike politici nie. Plaas dat die vent doen wat hy veronderstel is om te doen en die regering op sy tone hou. Nou wil hy sy foto in ’n tydskrif sien.
Sy blaas haar asem uit. Maar sy gaan haar nie vandag opwerk nie. Haar oë gly oor haar e-posboodskappe en haar asem raak heeltemal weg. Daar is dit – die e-pos van die uitgewer. Haar vinger huiwer bokant die lyn.
Vandat sy kan onthou, lees sy liefdesverhale. Honderde, duisende, bokse vol liefdesverhale. En ja, sommige is minder goed as ander, maar die bekoring van die meeste van dié stories laat haar keer op keer ’n volgende boek koop.
Om self ’n liefdesverhaal te probeer skryf, was ’n logiese volgende stap. Sy wou ’n storie skryf wat sy graag sou wou lees. Sy het entoesiasties begin. Die storie was nie ’n probleem nie. Glad nie. Haar karakters het sy volgens die aanwysings van die bronne wat sy geraadpleeg het, ontwikkel. Prentjies van hoe haar heldin en held lyk, het op die aansteekbord voor haar rekenaar by die huis gepryk.
Die storie het gevloei, die tweetjies het mekaar op die eerste blad ontmoet soos dit hoort, die vonke het gespat, maar toe bereik sy die punt waar die held en heldin moet soen. En net daar het sy . . . wel, stoom verloor.
Die feit van die saak is, sy is ses-en-twintig en ’n maagd. En nog erger, volgens haar beste vriendin Leen is sy in elk geval nog nooit behoorlik gesoen nie. Skynbaar tel die skewe soen wat Klein-Koos Verwey een Kersfees vir haar gegee het toe hulle sewe was, nie. Dat sy met die soentoneel gesukkel het, is met ander woorde heeltemal normaal, gegewe haar gebrek aan ondervinding. Aldus Leen.
Maar sy laat haar nie onderkry nie. Sy kan oor ’n soen skryf sonder die nodige ervaring. Dis sekerlik net soos om ’n resep te volg. Die internet is ’n onuitputbare bron van inligting, selfs oor iets soos hoe om ’n soen te beskryf.
Tydens haar navorsing het sy op ’n boek afgekom wat handel oor haar onderwerp – die soen. Die skrywer is ’n wetenskaplike joernalis met ’n biologie-agtergrond. Dit het geklink asof sy die soenery heel logies en sistematies benader en Annemarie het die boek op haar e-leser afgelaai.
Aande lank het sy gelees oor hierdie interessante menslike handeling: Waar in die geskiedenis van die mensdom word die eerste keer na ’n soen verwys? Wat presies gebeur met jou gesigspiere wanneer jy soen? Hoekom is reuk belangrik vir potensiële soenmaats, en (iets waaroor sy nog nooit gewonder het nie) wat is die toekoms van die soen? Sy het elke moontlike brokkie inligting oor hierdie verskynsel opgeslurp en in haar storie gebruik.
Sy het ’n wenner, sy is seker daarvan. Die uitgewer moet dit net bevestig.
Uiteindelik klik sy op die e-pos en maak dit oop. Dit duur ’n paar sekondes voordat die woorde wat sy lees, sin maak. ’n Hol kol vorm op die krop van haar maag.
Baie dankie vir die manuskrip. Dit voldoen egter nie aan die nodige vereistes nie. Ek hou van jou storielyn, van jou karakters, maar die tonele waar die twee hoofkarakters soen, oortuig nie. Onthou: show, don’t tell. Beskryf die tonele in groter detail – skep afwagting by die leser, beskryf die held en heldin se reaksies. Byvoorbeeld, wat ervaar sy wanneer sy hande om haar gesig vou? Wat doen die kreungeluide in haar keel aan hom? Watter sintuie word gebruik? Kyk na prentjies van paartjies wat soen, kyk na flieks, kyk na mense. Eksperimenteer self. Wanneer jy dié tonele meer geloofbaar gemaak het, kyk ek met graagte weer na jou manuskrip.
Ontsteld leun sy terug in haar stoel.
“En nou?” vra Leen, die moderedakteur en haar vriendin, van die deur af. “As jy die rekenaar so aangluur?”
Dikmond staan Annemarie op en kyk vinnig op haar horlosie. Nog tien minute voordat sy die politikus moet laat goed lyk.
Sy beduie na die rekenaar. “Ek het uiteindelik van die uitgewer gehoor oor my storie.”
“En?” vra Leen terwyl sy inkom en die deur agter haar toemaak. Sy buk oor die rekenaar en begin die e-pos lees.
“Die tonele waar die twee hoofkarakters soen, oortuig nie,” haal Annemarie sarkasties aan.
Leen gooi haar hand in die lug. “Wel, ek stem saam. Jy kan honderde boeke oor die soen lees, maar as jy dit nie self ervaar nie, kan jy nie daaroor skryf nie!” Sy beduie na die e-pos. “Dis wat die uitgewer ook voorstel – eksperimenteer.”
“En op wie sal ek nou eksperimenteer, dink jy?” vra Annemarie vies terwyl sy deur toe stap. “En waar sal ek tyd kry daarvoor? As jy vier-en-twintig-sewe werk soos ons, is dit onmoontlik.”
“Wat van . . .?”
“Vergeet daarvan,” val sy Leen in die rede. “Ek is beslis nie een wat teen ’n kroegtoonbank gaan hang in die hoop dat ’n man my raaksien én skielik oorweldig word deur die lus om my te soen nie.”
“Ek wou sê,” lag Leen, “. . . wat van die internet?”
“Moenie laf wees nie,” sê Annemarie voor die deur. “Buitendien, in die boek wat ek gelees het oor die soenery, bevraagteken die skrywer internet-ontmoetings. Volgens haar is dit noodsaaklik om jou potensiële maat te kan ruik ook. Dis een van die maniere om vas te stel of julle by mekaar sal pas.”
Leen begin giggel en Annemarie kan nie help om saam te glimlag nie. Met Leen in die omtrek, kan niemand lank vies bly nie – en die situasie ís uiteindelik vrek snaaks. Hartseer, maar snaaks.
“Ek moet gaan, een of ander politikus wil afgeneem wees.”
Leen se oë begin vonkel.
“Dáár is jou antwoord,” lag sy en maak die deur oop. “Oefen sommer op hom!”
“Gmf, ek twyfel of ’n politikus kan soen,” sê Annemarie. Sy draai om en gee ’n tree, maar loop haar vas in ’n soliede vleismuur. Sy snak na haar asem en kyk op. Vas in die diepste blou oë wat sy nog ooit gesien het. En toe is dit asof sy onder water verdwyn, sentimeter vir sentimeter. Alles om haar vervaag.
“Ek is op soek na Annemarie Steyn,” sê ’n stem wat beelde van swart satynlakens en soel nagte optower.
Annemarie. Dis haar naam. Sy moet seker iets sê, maar hoekom wil haar mond nie saamwerk nie?
“Jy het haar gekry!” lag Leen vrolik. “En ek aanvaar jy is die politikus wat hier is vir ’n fotosessie?”
Hy steek sy hand uit na Leen. “Rick Fourie. En ja, ongelukkig het ek nie ’n keuse nie. Dis glo goed vir die beeld van die party,” brom hy.
“Annemarie Steyn,” beduie Leen, “is ons leefstylredakteur, maar word baie dae ook ingespan om die stilering by fotosessies te doen.”
Nog staan Annemarie asof betower.
Toe Leen aan haar stamp, kom Annemarie weer bokant die water uit. Sy skep ’n diep teug asem en steek haar hand uit na die man.
“Welkom,” prewel sy, haar mond kurkdroog.
Warm vingers vou om hare en haar hart wil-wil uit haar borskas spring. Vinnig trek sy haar hand terug.
“Die plek waar die foto’s geneem word, is dié kant toe,” sê sy kortaf en stap voor hom uit.
***
Rick glimlag en hurk soos die mooi blondekop vra. Hy het so opgesien na dié fotosessie, maar vandat die meisiekind haar groen oë opgelig het na hom, is hy gefassineer. Veral toe hy besef sy is die een wat wil oefen om te soen.
Hy het nie bedoel om af te luister nie, maar die twee se stemme was nie juis sag nie. So hy weet: een, sy is nog nooit behoorlik gesoen nie; twee, sy wil skryf daaroor, maar moet oefen, en drie, sy het niemand om op te oefen nie.
Nou ja, hy is grootgemaak om uit te help, om na sy medemens om te sien. En as hy vandag die dametjie kan help, hoekom nie? Sy lyk vir hom juis so opgestres. ’n Soen van iemand wat weet hoe, is net wat sy nodig het.
En vir hom sal dit beslis nie ’n straf wees nie. Hy wonder al die hele oggend oor haar vol, sagte pienk lippe. Maar hoe gemaak met ’n studio vol mense?
’n Uur later kan Annemarie haar hare uit haar kop trek. Die woord oor die aantreklike politikus het beslis die rondte gedoen, want al wat vrou is wat hier werk, het kwansuis ’n rede ontdek om juis vanoggend vir haar ’n vraag te kom vra.
***
Hulle moes al ’n uur gelede klaargemaak het, maar met al die onderbrekings kry sy nie gefokus nie. Die feit dat die man nog nie sy oë van haar lippe afgehaal het nie, help ook nie eintlik nie. Die uiteinde is, daar is nog nie ’n foto waarmee sy gelukkig is nie.
Die fotograaf staan nader. “Wil jy iets anders probeer?” vra hy. Dis duidelik sy geduld is op.
Annemarie probeer objektief na Rick kyk, maar dis moeilik, so met sy oë op haar.
Die agtergrond. Dis die fout. Die spierwit muur pas nie by die man se . . . se voorkoms nie. Alhoewel hy netjies aangetrek is, is daar iets in sy oë, iets wat nie getem kan word nie. Vir ’n oomblik flits ’n lig in die einste paar oë en sy kyk vinnig weg.
Wat is daar in die pakkamer wat hulle kan gebruik?
“Die deur!” roep sy uit en beweeg gang toe. Sy glimlag vir die fotograaf. “Die deur met die ‘distressed look’ wat ons nou die dag gebruik het?”
Die fotograaf knik entoesiasties.
“Vyf minute,” beduie sy vir almal en draf die gang af na die pakkamer.
Sy steek haar hand na die deurknop uit, maar ’n groot, bruingebrande hand sluit bo-oor hare en saam maak hulle die deur oop. Toe is hulle in die piepklein kamertjie en Rick druk die deur agter hom toe.
“Wat . . .?” is al wat sy uitkry.
“Jy het ’n probleem. Een waarmee ek kan help,” sê hy, doodernstig. “En ek help graag mense.”
“Ja?” vra sy, heeltemal sonder suurstof.
En so, asof hy al die tyd in die wêreld het, lig hy haar ken op.
“Ek verseker jou, al is ek ’n politikus, ek kán, en jy kan op my oefen.”
“Oefen?” Haar breinselle werk nou glad nie.
“Om te soen,” sê hy en buk af.
Sy kop sak laer totdat sy lippe millimeters van hare is. Sonskyn. Hy ruik na helder sonskyn. Sy kan iemand soen wat so ruik. Sy lippe raak-raak eers net vlugtig aan hare. Haar oë gaan toe, die soen verdiep.
Vergeefs probeer sy om elke sensoriese sensasie te ontleed, om te onthou waar sy hande is, om te besluit hoe haar lyf op sy liefkosing reageer, om te kyk of haar neus in die pad is, maar sy kan nie dink nie, sy kan nie ontleed nie, sy kan nie redeneer nie, sy kan net voel.
Stadig lig hy sy kop. “Het jy iets geleer, dink jy?” vra hy doodernstig. “Want jy kan enige tyd weer op my oefen as jy wil. Miskien kan ons dit ’n ander tyd van die dag probeer, soos in die aand, byvoorbeeld. Of vroeg in die oggend.”
Haar kop knik nog voordat haar breinselle werk. “Dit klink vir my na ’n baie goeie plan. Ek skryf ’n storie, sien, en ek sukkel met die soentonele.”
“Regtig?” vra hy en trek haar nader. “Ek sou dit nooit kon raai nie.”
En toe soen hy haar weer.
’n Maand later ontvang Annemarie weer ’n e-pos van die uitgewer.
Dit is vir ons aangenaam om jou mee te deel dat ons jou manuskrip vir publikasie aanvaar. Die soentonele slaag nou honderd present – om die waarheid te sê, ons sal hier en daar moet sny sodat sensitiewe lesers nie ontstel word nie.
Baie geluk!