Kortverhaal 3

Hoe die liefde werk

Elsa Winckler

“Ek wil nie hier wees nie,” snuif Lindie en soek in haar handsak na snesies.

“Ek kan jou verseker, dis ook die laaste plek waar ek wil wees,” sê Madelein hoogs geïrriteerd terwyl sy berekend rondkyk. Die kuierplek in die Kaapse Waterfront is, soos gewoonlik op ’n Vrydagaand, gepak. 

“Maar ek wil vir eens en altyd aan jou bewys romantiese liefde bestaan nie. Wat elke twee weke met jou gebeur, is maklik om te verklaar. Dis bloot biologie, jou brein maak jou allerhande goed wys.”

“Maar …” begin Lindie en haar onderlip bewe.

 Madelein gee haar nie kans om weer te begin huil nie. “Dis soos om verslaaf te raak – elke keer wanneer jy dink jy’s verlief op ’n hunk met ’n six-pack, is daar aktiwiteit in die primitiewe deel van jou brein, die deel wat te doen het met behoeftes, met cravings, en as gevolg van hoër dopamienvlakke in jou brein, verbeel jy jou jy’s verlief.”

Verontwaardig snuif Lindie haar neus. “Ek was regtig lief vir Pieter,” snik sy.

Madelein skud haar kop. “Nee, jy dink net so. Mans kyk rond, dis ’n feit. Jy kan nie elke keer aan die huil gaan wanneer dit gebeur nie.”

“Maar hy is so gorgeous,” sê Lindie en snuif weer.

Madelein beduie om hulle. “Kyk om jou rond. As jy ’n man wil hê, kan jy kies en keur na hartelus. Hier is hunks, sexy mans, mooi mans en ja oukei, sommige is te mooi en kyk net na ander mans, maar ek gaan jou wys om verlief te raak, is ’n mite.”

“Hoe weet jy dit?” vra Lindie vies. “Jy werk heeldag in ’n kosmetiek-laboratorium waar geen mans is nie. Na jou mislukte liefdesverhouding jare gelede, het jy nog nooit weer ’n man in jou lewe toegelaat nie. Jy’s geen ekspert oor die liefde nie.”

“Maar ek is,” sê Madelein. “Ek het juis tóé begin navorsing doen oor romantiese liefde – waar dit vandaan kom, hoekom dit gebeur, ensovoorts. Dis bloot chemiese stowwe in jou brein. Die oomblik wanneer jy dít besef, kan die cute ou in die gym maar sy flikkers vir jou gooi, jy weet die butterflies wat jy kry, is net die vlakke van die hormoon dopamien wat styg, norepinefrienproduksie wat toeneem. Maar, herstel jou hormoonvlakke na normaal, is die euforie verby.”

“En hoe wil jy dit nogal bewys?” snuif Lindie.

“Ons gaan ’n eksperiment herhaal wat ene prof Arund, ’n sielkundige gebruik het tydens ’n studie om uit te vind waarom mense verlief raak. Eerstens, kry ’n wildvreemdeling, tweedens, vertel hom intieme besonderhede van jouself en hy moet dieselde doen en stap drie, staar diep in mekaar se oë vir vier minute sonder om te praat.”

Lindie het heeltemal ophou snuif. “Is jy ernstig?” vra sy en begin giggel.

“Doodernstig,” sê Madelein. “Volgens die professor, sal jy na vier-en-dertig minute aangetrokke voel tot mekaar. Maar, en dis nou my idee, as ’n mens presies weet waarmee jy besig is, kan jy objektief bly omdat jy weet dis jou brein, jou hormone. Dis nie permanent nie en jy gaan aan met jou lewe. Geen gehuil  nie.” Madelein swaai haar hand in die rondte. “Kyk ’n bietjie rond. Sien jy potensiële proefkonyne?”

Vir die eerste keer vandat hulle ingestap het, kyk Lindie rond. En sy glimlag. Madelein sug verlig. Al vergeet Lindie net vir ’n paar uur van Pieter, was die aand nie ’n volslae mislukking nie.

Lindie se kop swaai terug, haar oë steek bokant Madelien se kop vas. 

“Ek het so ’n idee ons hoef nie verder te soek nie.”

***

“Wat maak ons hier?” vra Kobus uit die hoek van sy mond, maar glimlag vir die twee vrouens by die tafel.

“Ons gaan help met ’n eksperiment,” sê Philip onderlangs.

Toe die twee donkerkoppe vroeër instap, het al wat ’n man is, se oë in hulle rigting gedraai. Syne ook. Hy hou van vrouens en die twee is beslis iets vir die oog.

Hulle het by die tafel reg langs hom en sy vriende gaan sit. Aanvanklik het hy hom nie aan die vrouens se pratery gesteur nie, sy vriende was nog besig om vanmiddag se game te ontleed. Dis eers toe hy die woord ‘brein’ hoor en die oorvereenvoudige verduideliking wat gebeur wanneer mense verlief raak, wat hy skaameteloos afgeluister het.

Hy en Kobus stap om die tafel en helder blou oë vang syne vas, iets beweeg in sy binneste, half verdwaas sluk hy. Maar sy kyk hom koelbloedig op en af asof hy ’n laboratoriumrot is en hy byt op sy tande. Hy sal graag vir haar wil help om duidelikheid te kry. 

“Hallo,” glimlag hy. “Ek is Philip en dis Kobus,” sê hy en trek twee stoele nader.

“Madelein en Lindie,” sê sy en beduie na haar vriendin.

Philip gaan sit styf teen Madelein en vat haar hand in syne. Tyd is min. Haar oë rek. 

“Wat doen jy?” vra sy kil en probeer haar hand wegtrek.

“Vertel my van jouself,” sê hy.

Haar mond gaan oop, maar sy kyk by hom verby na haar vriendin, en sy glimlag. 

“Nou goed. Wat wil jy weet?” vra sy.

Sy kry nie asem nie. Madelein probeer ’n teug skep, maar haar lyf is te klein. Sy duim vryf oor haar pols. Twee minute in die man se geselskap, en sy is in die moeilikheid. 

Dis net haar brein, daar is aktiwiteit in die ventrale tegmentale area van die brein, die A10-selle maak dopamien, ’n natuurlike stimulant en dit versprei na die res van die brein. Dis hoekom sy lighoofdig is.

Teen môre is alles weer terug na normaal. As sy net kon opstaan, maar hierdie is vir Lindie. Buitendien, hoe lank kan vier-en-dertig minute nou wees? 

Hy wag vir ’n antwoord. Wat was die vraag nou weer? O, ja. 

“Ek werk in ’n kosmetieklaboratorium,” sê sy. “En jy?”

“Mediese dokter. Johannesburg.”

Sy ontspan effens. Na vanaand hoef sy hom nooit weer te sien nie.

“So hoe beland jy hier?” vra sy.

“Stormers game.”

“En jy vlieg wanneer terug?”

“Oor so twee ure.”

“Great,” glimlag sy verlig en kyk vlugtig na haar horlosie. “Ter wille van Lindie, is ons besig met ’n eksperiment. Ek wil aan haar bewys romantiese liefde bestaan nie regtig nie, jou brein laat jou glo jy is verlief.”

“En die eksperiment?” vra hy, sy oë halfmas.

 “Ek en jy is vreemdelinge, ons het inligting gedeel. Stap drie sê ons moet vir vier minute in mekaar se oë kyk. Sit bietjie nader,” beveel sy en rus haar elmboog op die tafel, haar ken in haar hand.

Sy hou nie baie van die lig in sy oë nie, maar sy kan nie nou kop uitdraai nie. Philip skuif nader, stut sy ken ook in sy hand. Hulle gesigte is ’n paar sentimeter van mekaar af, hulle oë op mekaar. 

Dis oraait, sy kan dit doen, sy ken hom nie. Sy weet wel hy het die mooiste, mooiste bruin oë wat sy nog gesien het. Sy trek haar asem rukkerig in, sy muskusgeur spoel oor haar. Elke senuweepunt in haar lyf begin tintel.

Wat is aan die gebeur? Half paniekerig probeer sy wegkyk, maar hy lig sy hand en hou haar gesig in plek. 

Daar is iets in sy oë wat haar knieë lam maak, haar mond droog. En sy kry nie asem nie.

Dis net haar dopamienvlakke wat styg, dis biologie, dis haar brein, dis nie rêrig nie. Maar maak nie saak hoeveel keer sy dit vir haarself sê nie, haar lyf het ander idees. Sy kan tog haar brein beheer, hoekom word die regte seine nie na die res van haar lyf gestuur nie?

“En wat gebeur nou?” vra Philip.

Madelein spring op. Of vier minute verby is of nie, hier moet sy vinnig wegkom. 

“Nou is die eksperiment klaar,” glimlag sy. “Kom, Lindie, ons kan waai!” roep sy en begin na die uitgang stap. 

Voor sy ’n tree verder gee, vou ’n hand om haar bo-arm en word sy teruggedraai. 

“Wat …?”

Gesmelte sjokolade. Dis soos sy oë nou lyk. Philip buig haar oor sy arm en soen haar. Soen haar soos sy nog nooit, ooit gesoen is nie. Haar hart struikel en ruk tot stilstand.

Dis chemie, dis al. Dopamien is ’n stimulant, dis die enigste rede … Maar die soen verdiep en die besef sink stadig in: dis nie net haar brein wat hier betrokke is nie, elke senuweepunt, elke sintuig, vrek, elke bleddie orgaan in haar lyf neem entoesiasties deel.

“Net biologie?” glimlag Philip stram. 

Die volgende oomblik staan sy alleen en staar verstom na sy rug.

“Madelein!” lag Lindie langs haar. “Jy’s reg! Ek en Kobus het so lekker gesels. En ja, ek het so ’n bietjie kortasem geraak toe hy glimlag, maar ek het net elke keer vir myself gesê, dis net jou dopamienvlakke, Lindie.” Sy haak by Madelein in. “Ek is nie verlief nie!”

Madelein gee een tree voor die ander, knik haar kop, glimlag selfs, maar logiese sinne is onmoontlik. 

Sy het so waar as wragtig binne sekondes haar hart verloor. Sy weet nie meer van haar dopamienvlakke nie, wat sy wel weet is, sy is verras, verlore, verlief.

***

’n Week later lê sy uitgemergel van verlange op haar bed toe haar foon blieb. Dis ’n boodskap op Facebook: Hoe gaan dit met jou dopamine-vlakke. Myne is deur die dak. Philip.

Met ’n snik begin sy tik.

Myne ook.

Sekondes later blieb haar foon weer.

Sien jou more.

“So, dis hoe die liefde werk?” vra sy.

“Ja,” antwoord hy. “Vertrou my ek is ’n neurochirurg. En ek ken al die paadjies na jou brein.

Kortverhaal 3
Share this post with your friends

Leave a Reply