Quinn

Sutherandbroers 2
Lapa Uitgewers Mei  2024
 
Die Skot Quinn Sutherland het Ella du Toit se hart ses maande gelede gebreek toe hy bloot opgehou het om op haar teksboodskappe te antwoord. Sy kies koers Londen toe waar sy as beleggingsontleder gaan werk. Dan bars ‘n skietery los by die restaurant waar sy een aand kuier en Quinn is die een wat met haar hospitaal toe jaag. Hulle besef die vonk tussen hulle is nog lank nie uitgebrand nie. Quinn is egter nie van plan om gou te trou nie en Ella is lugtig vir hom nadat hy haar so seer gemaak het. Dan stel sy ‘n kortstondige romanse van drie weke tussen hulle voor. Dit behoort genoeg te wees om hulle vir goed uit mekaar se gestel te kry, of hoe?

Wie hoor wense?

Via Uitgewers Februarie 2024

6 Kortverhale vir tieners

Wie hoor wense?

Die dans, die boeknerd en ’n soen

’n Geval van quid pro quo

Wanneer planete verskiet

Want dis doodgewoon by jou

Daar moet borrels wees

Omdat ek en jy

Protea Boekhuis Maart 2024
 
Omnibus met die drie Mulder-susters se stories – Leen, Livie en Bella:
Omdat jy my liefhet
Omdat jy jy is
Omdat ons saam is

Vereistes vir ‘n trouman

Lapa Maart 2024

Vandat Emily kan onthou, droom sy oor haar troudag: die ring, die rok, die onthaal, die blomme. Sy het ook ’n lysie met die presiese vereistes vir haar trouman gemaak. En Ryno Henning, hoe knieëknakkend sexy hy ook al mag wees, voldoen nie aan ’n enkele een van hierdie vereistes nie. Die stomende drome wat sy snags oor hom droom, sal dus net by drome bly. Ryno het ’n oog vir ’n mooi vrou en Emily is een van die mooistes wat hy nog gesien het, maar hy weet hy kan nie vir haar gee wat sy wil hê nie. Trou en kinders kry is nie deel van sy toekomsplanne nie. Dan, op ’n dag, hou Emily in die gietende reën stil om ’n hond te red en kry nie haar motor weer aan die gang nie. Dis Ryno wat tot haar redding kom. Sal haar troumanlysie en sy planne in hul pad bly staan of sal die vonk tussen hulle die oorhand kry?

Alan

Lapa – Januarie  2024
 
Toe Alan Sutherland en sy broers by haar blommewinkel inbars, vervies Corinne Hansen haar dadelik vir die Skot. Hy mag dalk dodelik aantreklik wees, maar hoe durf hy vir haar sê sy is nie sy tipe nie? Sy sal hom eenvoudig ‘n les moet leer… As mede-eienaar van ‘n groot maatskappy, is Alan nie net op soek na ‘n trouvrou nie, maar ook ‘n sakevennoot: Iemand wat stemmig is, gedienstig is, die pad vir hom gelyk kan maak. Met haar vreemde klere, ritse armbande en vurigheid is Corinne allesbehalwe stemmig. Sal Alan sy kop volg en aanhou soek na die vrou wat netjies by sy planne inpas of sal hy swig voor dít wat sy hart wil hê?

Engele in Kosmoslaan

LUCA Uitgewers Januarie 2024

Dis twee jaar ná ’n oudkollega Julia en haar seun Rudi se lewe hel gemaak het. Maar die inwoners van Kosmoslaan het herstel en aanbeweeg. Dit blyk op die oppervlak asof dinge weer vreedsaam is in Kosmoslaan.

’n Knorrige man met ’n fyn meisiekind en ’n hartseer verlede trek in Ida se huis in. Vanaf die eerste oomblik wat hy trompop in haar vasloop, ontwrig hy Julia se lewe. Watse verspottigheid laat haar nou skielik op twee-en-veertig in vervoering raak oor ’n befoeterde man? En wie saboteur haar en Rudi se eiendom skielik?

Ida voel en lyk soos ’n ou en halwe vrou na ’n ontdekking. En Alma se Jurie is deesdae so omgekrap dat niemand met hom kan huishou nie. Ellie en Justin smag steeds na ’n baba van hul eie na haar vorige miskraam, terwyl hul grootste wens soos ’n ryp perske in Hugo en Claire se skoot val. Ellie smee egter ’n onverwagse band met ’n kinderhuismeisie wat gereeld by Marella se teruggetrokke seun, Bouwer, kuier. En Bouwer is nie Marella en Lourens se enigste bekommernis nie. Marella voel deesdae nie haarself nie … Boonop kom Klein-Lourens met groot nuus wat sy en Sabina se lewens kan verander.

Daar is dinge wat broei in Kosmoslaan en die vriende en families tot hulle uiterstes toets. Gelukkig is daar ook engele in Kosmoslaan.

Jy’s my Kersgeskenk

Lapa Desember 2023
 
“Nicola moet fokus op haar nuwe werwingsagentskap, en nie dagdroom oor Etienne Fouché, een van die direkteure van DFHM Capital nie. Sy wil in elk geval nooit trou nie, want sy kom uit ’n huis vol konflik en drama. Dit is beslis iets wat sy nie weer in haar lewe wil hê nie.
Maar toe daag Etienne by haar werkplek op. Hy’t nie geweet sy is die Nic Ackerman met wie hy ’n afspraak het nie, en al die gevoelens wat sy – én hy – die afgelope ses maande probeer onderdruk, borrel na die oppervlak. Hy soen haar, maar is baie gou om vir haar te sê sy voldoen nie aan die vereistes wat hy vir sy toekomstige vrou stel nie.
Anders as sy twee vriende saam met wie hy in die kinderhuis was, wil Etienne wel eendag trou. Nicola voldoen net glad nie aan een van sy vereistes nie. Maar hoekom is sy die enigste vrou by wie hy wil wees?
Die lug vol Kersmusiek kan ’n man dalk net van plan verander …”

Sien jou in my drome

Lapa Julie 2023

Biokinetikus Mina Strydom weet sy’s anders. Soos haar Ierse Ouma Wilhelmina, voel sy ook mense vir wie sy lief is, se pyn aan. Haar bekommernis oor haar ma, twee sussies en drie vriendinne is erg genoeg, sy wil haar nie oor nóg mense bekommer nie. Dis hoekom trou en kinders kry nooit deel van haar toekoms kan wees nie. Maar toe beland sy in Louw de Ridder se arms en dit raak al hoe moeiliker om by haar voorneme te hou.

Louw de Ridder en sy drie vriende het hulle kinderhuislewe lankal agter hulle gelaat en besit vandag ’n florerende maatskappy. Hy is nie van plan om ooit te trou nie, iets wat ’n probleem blyk te wees vir ’n potensiële kliënt.

Sy vriende stel voor dat hy die mooi brunet wat in sy arms geval het saamnooi na die kliënt se verjaardagpartytjie. ‘n Kamma-afspraak met geen bybedoelings vang Louw en Mina onkant toe hulle mekaar ewe skielik in hul drome begin ontmoet.

By jou is dit anders

Lapa – Maart 2023
 

Boek 4 – Die Steyns van Steynslanden

 
Die lewe kan in ‘n oogwink verander.
Trou en kinders kry is nie deel van prokureur Lelanie Walter se toekomsplanne nie, maak nie saak hoe lam Werner Steyn, Steynslanden se wynmaker, haar knieë met sy soene maak nie. Werner stel nie belang in enige ander vrou nie, maar hy weet ook dat Lelanie nie wil trou of kinders hê nie. Sy begin boonop mettertyd al minder op die plaas kuier. Maar die lewe het ‘n manier om alle planne vinnig te plooi soos hy dit wil hê. Dít leer Lelanie toe sy ná haar kollega en vriendin se dood hoor sy is as voog benoem vir haar drie maande oue baba, Emma.
Werner se ma vang hom onkant toe sy hom vra om Lelanie op die lughawe te gaan haal. Maar niks kon hom voorberei op die prentjie wat hom inwag nie: Lelanie mét ‘n baba

Kerfeeswonderwerk

Lapa Desember 2022

Boek 3 – Die Steyns van Steynslanden

Liefde… toegedraai vir Kersfees!
Jess Faber is groot vriende met haar vriendin Sabella se swaer, die bekende sjef Erasmus Steyn. Sy is nie onbewus van hoe aantreklik hy is nie, maar sy is nie van plan om ooit te trou nie. Om vriende te wees is net baie minder gekompliseerd. Maar toe kry sy nie die bevordering waarop sy gehoop het nie en besluit om al haar lysies en boksies weg te gooi. Sy oorweeg selfs ‘n one-night stand met ‘n vreemdeling. Toe Erasmus ewe hulpvaardig aanbied om haar one-night stand te wees, verander hulle vriendskap binne minute in iets heeltemal anders. Jess is huiwerig om haar hart oop te maak vir liefde en bly skuil agter haar ongelukkige kinderjare. Kan ‘n kersfeeswonderwerk twee harte een maak?
Hierdie verhaal bevat al die kenmerke van Elsa se boeke: humor, tydigheid en passie. Dit ondersoek die idee van toeval, maar ook tweede kanse, in moderne verhoudings.

‘n Hart wat pas

Lapa Uitgewers (Augustus 2022)
 

Boek 2 – Die Steyns van Steynslanden

 
Die liefde en warmte van die Steyn-gesin waarvan Sabella deel geword het toe haar broer met hulle dogter getroud is, is nie iets wat sy ken nie. Sy het hoë mure om haar hart en baie slotte aan haar voordeur om seker te maak sy is veilig en kry nie weer seer nie. Alles verloop seepglad totdat Hardus Steyn, ’n hartebreker en wingerdboer, haar soen. Hardus is ’n man wat dinge wil doen, probleme oplos en sy geliefdes beskerm en help. Trou en kinders kry was egter nog nooit deel van sy toekomsplanne nie. Totdat hy vir Sabella Morkel soen. Skielik het hy ’n hart gekry wat by syne pas, maar is hy bereid om al sy planne te verander ter wille van liefde?

Die Vroue van Kosmoslaan

LUCA  Augustus 2022

Die vroue van Kosmoslaan vertel die stories van vyf uiteenlopende vroue. Ellie skryf kinderboeke en wens sy kan swanger raak en haar stories vir haar eie kind vertel. Ida Scholtz se man en seun is saam in ’n motorongeluk dood en nou bly Claire, haar skoondogter by haar. Marella is ’n prokureur en lewe streng volgens voorafuitgewerkte lysies. Julia en haar seun, Rudi, bly ook in die laan en Julia is bly dat sy destyds die huis in haar naam gesit het want haar man het saam met sy sekretaresse weggeloop en nou het sy en Rudi darem ’n dak oor hul koppe. Alma en Jurie bly langs Ellie en wanneer Alma se dogter verdwyn begin almal in die laan na haar soek.
Die vroue deel hul pyn en vreugde met mekaar wanneer hulle eenkeer ’n maand bymekaar kom om te brei. Dit was Marella se idee om die groep te begin al was dit nie die intensie om so gereeld bymekaar te kom nie. Die breigroep word die vroue se toevlug en die kosmosblom word ’n teken van tweede kanse, hoop, drome en geluk.
Die boeiende verhaal is elke vrou se verhaal. Die vroue van Kosmoslaan ervaar God se genade en sy belofte om te voorsien wanneer hulle dit die nodigste het.

Vrydagaand

Protea boekhuis Maart 2022
 
Liefdeskortverhale deur 27 bekende Afrikaanse skrywers om jou naweek op ‘n romantiese noot mee te begin. Laat die week en sy gewoel agter met dié stories uit die pen van Juanita Aggenbach, Bernette Bergenthuin, Henk Breytenbach, Malene Breytenbach, Alma Carstens, Alta Cloete, Leona Conradie, Trisa Hugo, Madelie Human, Jaco Jacobs, Anzil Kulsen, Kristel Loots, Cliffordene Norton, Susan Olivier, Didi Potgieter, Gerrit Rautenbach, Felicia Snyman, Cecilia Steyn, Dibi Symington, Louise van der Merwer, Santie van der Merwe, Nanette van Rooyen, Frenette van Wyk, Antoinette Venter, Louise Viljoen, Magdaleen Walters en Elsa Winckler.

Party dinge is vir altyd

Lapa Uitgewers Maart 2022

Liefde is vir altyd. Jeanie McMillan land op Kaapstad twee jaar nadat sy weggehardloop het op haar troudag. Op die lughawe loop sy in Gerard de Lange vas, die rede hoekom sy toe nie getroud is nie. Vir haar sal hy altyd dié een wees, maar hulle het hulle beurt gehad, sy het die leuens oor hom geglo en dis tyd om aan te beweeg. Maar die rooi nommertjie wat Gerard uit sy tas haal, is nie syne nie. Dis Jeanie s’n. Hul tasse is omgeruil op die lughawe. Hy sal weet, hy was die een wat ewe opgewonde twee jaar gelede vir hulle identiese tasse gekoop het vir die wittebrood wat nooit gebeur het nie. Hy is nie troumateriaal nie, kinders wil hy beslis nie hê nie. Maar hy wil, nee, hy moet by Jeanie wees en stel voor sy trek by hom in. Sy voorstel is veronderstel om net ’n tydelike reëling te wees, maar hy besef amper te laat dat liefde nie tydelik is nie, liefde is vir altyd.

In die sterre geskryf

Lapa Uitgewers – Desember 2021
 
Boek 1 – Die Steyns van Steynslanden
 
Niemand het weerstand teen die liefde wanneer Kersfeesklokke lui nie …
Tessa Steyn is mal oor Kersfees. Soos in gaan-voluit mal: die musiek, die boom, die engeltjies, die kerse, die ligte, die klokkies, álles. Na ’n kort kuier in Johannesburg, vlieg sy George toe, die naaste lughawe aan Buffelsbaai waar haar mense elke jaar Kersfees hou. Aan die grompot langs haar in die vliegtuig, gaan sy haar nie steur nie. Gelukkig gaan sy hom nooit weer sien nie.
Veearts Sias Reynecke haat Kersfees. Hy is net op die vliegtuig omdat sy suster ’n huis vir hulle twee vir Kersfees op Buffelsbaai gehuur het. Dis nou as hy daar aankom sonder om iets aan die irriterende beeldskoon vroumens wat langs hom in die vliegtuig beland het, te doen. Hopelik sien hy haar nooit weer nie.
Maar soos Tessa se ouma, Liesbet, verduidelik: Sommige dinge is reeds lank terug in die sterre geskryf en niemand het weerstand teen die liefde wanneer Kersfeesklokke lui nie.

Omdat alles sin maak by jou – Lapa September  2021

Hoekom blom die liefde vir almal behalwe die bloemis?
Christie is bly haar susters en broer het hulle sielsgenote gevind, regtig, sy is. Maar daai  tipe geluk is nie noodwendig vir almal beskore nie. Dalk moet hierdie bloemis maar vrede maak daarmee dat sy nie haar asem moet ophou vir ’n ruiker rose van haar eie nie.
Wanneer dokter Renier Visser, net so onverantwoordelik aantreklik soos die res van die Visser-broers, vir Christie vir advies vra met sy liefdeslewe, probeer sy opreg help. Dis nie asof daar enige tekens van ’n vonk tussen hulle is nie. Tot hulle op ’n dag oor die tou trap.
Renier beweer nog altyd hy is nie van plan om ooit te trou nie. Maar hoe meer tyd hy saam met Christie deurbring, hoe meer besef hy, by haar maak
die lewe sin.

 
Hoe dans jy as die lied in jou hart stil geraak het?
Bekende musiekster, Zander Breedt, se muses het hom verlaat. Die helder ligte van die verhoog het hul glans verloor, en dit klink asof die suiwer melodieë in sy kop vervang is met ’n droewige klaaglied.
Boonop is daar sy nuwe skoonsus, Anine Vos, ’n joernalis, ’n spesie waarvoor hy nie baie ooghare het nie. Hy moet haar gedoog, al maak sy dit duidelik dat sy nie tyd het vir ’n popster soos hy nie. Tog, om een of ander
rede begin die note weer helder deur Zander se gedagtes klink wanneer sy naby is.
Anine kan nie verstaan hoekom juis sý die opdrag moes kry om ’n in diepteartikel oor Zander te skryf nie. Sy het mos niks verloor by hierdie mislike
musikant nie. Om deur sy lewe te krap is die laaste ding wat sy wil doen terwyl haar eie hart nog gebreek is. 

Omdat jy my gesoen het

Lapa Mei 2020

Hoe gee jy jou hart vir ’n man wat nie syne kan volg nie? Debbie bring haar dae om deur koeke te bak vir ander mense se spesiale geleenthede, meestal vir die troues wat haar familie besigheid reël. Maar vir hierdie kekkelbek lyk daai spesiale dag nog ver weg, veral na die pandemie enige kans op romanse vernietig het. Maar wanneer Debbie op ’n dag in die hysbak saam met haar nuwe swaer se aantreklike broer vassit, verander haar vooruitsigte. Syne ook. Want Alec was nog altyd die stil een, die ongekompliseerde een, die een sonder planne vir langtermyn liefde nie. Nou sit hy egter met muisneste wat net nie wil padgee nie. Maar hierdie kwetterende koekbakster het nie tyd vir ’n man wat nie sy hart kan volg nie.

Arendsvlerke vir Siebert

LUCA (Lapa) April 2021
 
Terwyl Katinka probeer om die dood van haar man te verwerk, dring haar seun se veranderde gedrag uiteindelik tot haar deur. Sy is verslae en geskok deur die besef dat hy vasgevang is in omstandighede wat ook sy lewe kan beëindig. Wanneer vrees die oorhand kry, wend sy haar tot die Here. Here, U sê vir ons in Jesaja, die wat op U vertrou, kry nuwe krag, hulle vlieg met arendsvlerke. En Here, nou het ons sulke vlerke nodig.

Omdat jy die een is

Lapa Februarie 2021

Carina Erasmus geniet dit om saam met haar susters betrokke te wees by haar ma se besigheid en as fotograaf te werk. Tyd vir ’n man, veral een wat haar so ontstig soos Conrad Vissser, is daar nie. Die een afspraak wat sy met hom gehad het, was loshande dié goorste een waarop sy nog was.
Conrad Visser weet sedert sy tienerjare hy is nie die soort mens op wie iemand anders kan staatmaak nie, daarom het hy twee reëls waarvolgens hy lewe: moenie verlief raak nie en hou mense op ’n afstand. Sodoende kan hy niemand teleurstel nie. Totdat Carina Erasmus met haar lang bene en donker hare sy reëls kom breek.

Om weer te droom

Lapa Uitgewers – Oktober 2020
 
Nagmerries word soms mooi drome Lizet Vos ontdek tydens die opruim van haar vermoorde suster se woonstel Marina se kluitklaplys. Hierna probeer sy om alles op dié lysie te doen – al is al die gewaagde, gevaarlike dinge eintlik heel teen haar aard. Haar eie drome skuif sy ver agtertoe. Totdat haar broer Evan se lewe met dié van Anya Breedt verstrengel raak. Nou vorm haar broer Stephen en sy dogtertjie Soekie deel van familiekuiers.
Stephen spartel om na sy vrou se dood die balle in die lug te hou; hy het geen tyd vir ʼn donkerkop met blou oë wat hom hinder nie. Soekie mag dalk in Lizet se klas wees, maar hy is vasbeslote om juffrou Vos te vermy. Na ses maande kan hy egter die uitnodiging om klasbesoek te doen nie verder ignoreer nie. Vir die lewe om sin te maak, moet Stephen en Lizet beide opnuut hulle eie drome ontdek. Hierdie inspirerende verhaal ondersoek die impak van trauma en beklemtoon die belangrikheid van hoop en drome. Dit is die tweede titel in die reeks en word voorafgegaan deur Ware noord.

Toe soen jy my

Lapa Augustus 2020

Gabriella besef te laat dat sy hom nooit moes soen nie. Ja, Eben Joubert is lank en gespierd en sexy, maar hy’s ’n pel en skielik het alles verander.

Ware Noord

Lapa Uitgewers Julie 2020
 
Evan weet met al sy bagasie kan hy niemand naby hom toelaat nie en Anya is baie versigtig na ‘n mislukte verhouding, maar hulle moet saamwerk aan ‘n projek wat alles verander.

In die skadu van Paarlberg

Protea Boekhuis Julie 2020

‘n Omnibus met 3 verhale:

Om Amelie se tafel

Liefde in laslap

Liefde deur ‘n lens

Liefde in die tyd van Corona

Lapa Uitgewers – Junie 2020
 
Toe die lock-down afgekondig word, het Jenna pas haar verloofde in die bed saam met haar strooimeisie gekry, sy het verkoue en haar enigste behoefte is om weg te kom van almal se simpatieke kyke. ’n Strandhuis op Waenhuiskrans vir drie weke klink na die regte medisyne op die oomblik.
Gelukkig is die druiwe-oes af toe lock-down afgekondig word en Jacques besluit dadelik om vir die tyd na sy strandhuis op Waenhuiskrans te gaan. As introvert is die idee om drie weke stokalleen te bly, die heerlikste vooruitsig. Waarop hy nie voorbereid was nie, was die lang blonde in die sitkamer van sy strandhuis. Maar dit maak nie saak hoe sexy sy is en hoe lank haar bene is nie, dis sy huis en sy moet maar ’n ander plan maak. Maar in die tyd van die Corona is niks heeltemal so eenvoudig nie.

Vreugde vir Larissa

Lux Verbi Mei 2020

Ricardo Jantjies wat die jong Chandré beroof en aangerand het, word onskuldig bevind. Larissa was die prokureur.  Net daar besluit Larissa om Nederland toe te gaan om verder te gaan studeer. Sy kom egter terug toe sy uitvind dat die jong kind vermoor is.  Larissa weet dit was Ricardo Jantjies.

Terug in Suid­-Afrika word sy met Gideon gekonfronteer wat ‘n baie swaar verlede en trauma het wat hy moet verwerk. 

Intussen begin Ricardo Larissa agtervolg en val haar amper aan, maar Gideon en die polisie gryp in.  Op die ou end kry Larissa en Gideon dit reg om hulle trauma te verwerk en al die ou vriende kom bymekaar vir Larissa en Gideon se troue.

 

Omdat ons saam is

Lapa Maart 2020

Hy kyk altyd af teen sy neus na haar, maar hy mag dalk net vind dat hy nie sonder haar kan leef nie … Bella is die jongste van drie susters. Haar susters, Leen en Livie is onderskeidelik in die vorige twee boeke in die reeks getroud. Tannie Peet se testament bepaal dat die drie susters elkeen afsonderlik vir ‘n maand in haar huis op Greyton moet woon ten einde hul erfporsie te kan ontvang. Die hond Skim speel ‘n noemenswaardige rol in die verhaal en slaag daarin om telkens die held en heldin by mekaar uit te bring. Wian is die apteker op die dorp en worstel met sy eie probleme. Hy moes as jong man omsien na sy drie jonger broers toe sy ouers onverwags gesterf het in ‘n motorongeluk. Hy sien nie kans om weer so ‘n groot verantwoordelikheid na te kom nie, en daarom wil hy nie trou en kinders hê nie. Bella is in hart en siel ‘n kunstenaar maar is deur haar vorige vriend, Leo erg onderdruk en kon later nie meer skilder nie. Wian se jongste broer is Conrad Visser, die beeldhouer, en hy sien dadelik Bella se talent raak en help haar om weer haar skilderwerk op te neem. Intussen groei Wian en Bella se verhouding, maar dan verskyn Leo weer op die toneel en vernietig byna alles.

 

Want hy praat tjoklits

Lapa Desember 2019

Is hy haar liefde werd? Friede Tredoux het ‘n slegte stel met ‘n branderplankryer afgetrap. Hy’t nie gewerk nie en het geen toekomsvisie gehad nie. Sy ontmoet vir Matthys Combrink op Philadelphia terwyl sy en Jody by Leah kuier. Hy bak brood by die plaaslike deli. Sy is ‘n arbeidsterapeut op George en begin oefen vir ‘n marathon. Tot haar verbasing is Matthys een Saterdagoggend ook daar. Daar is beslis allerhande vibrasies wanneer sy naby hom is, maar sien sy kans vir ‘n man wat brood bak vir ‘n lewe?

Altyd net jy

Lapa Uitgewers Augustus 2019
 
Sy’s die soort magic waarmee jy trou! Leah het Max ontmoet toe sy 10 jaar oud was en iets het op daardie oomblik met haar gebeur. Op haar agtiende verjaarsdag soen hy haar, maar toe sy hom die volgende oggend gaan soek, help hy ‘n ander vrou in ‘n motor. Nou, tien jaar later, word sy gevra om ‘n onderhoud met die wêreldbekende Max Campbell te voer. Vir die eerste keer gaan hulle weer alleen in ‘n vertrek wees. Maar dit behoort nie saak te maak nie, of hoe? Sy is mos lankal oor hom. Die oomblik toe Max vir Leah op haar agtiende verjaarsdag soen, het hy geweet dis ‘n fout. Die intense emosies wat hy ervaar het, is tog nie volhoubaar nie. Hy besef dié tipe liefde kan hom vernietig – hy wil tog nie soos sy ma opeindig na sy pa haar vir sy sekretaresse gelos het nie! Daarom sê hy niks oor die model wat hy in die taxi gehelp het nie. Altyd net jy is deel van LAPA Uitgewers se liefdesverhaalreeks, Romanza. Romanza kan vergelyk word met Mills & Boon en Harlequin. In Elsa Winckler se jongste reeks is die kinders nie opgewasse teen hul geliefde peetma, Jody, nie. Jody weet instinktief wanneer sy die regte hartsmaat vir een van haar ses peetkinders gevind het. Maar sy weet ook wanneer hulle gereed is vir Liefde met ‘n hoofletter L. Altyd net jy is die laaste boek in die Jody-reeks. In elke boek is daar ‘n addisionele subtema en die reeks bestaan uit Op die sypaadjie (Desember 2017), Blameer die skoenlapper (Februarie 2018), My groot liefde (November 2018) en Want die hart weet (Januarie 2019).

Liefde vind ‘n pad

Lapa Julie 2019

Liefde vind ‘n pad is ‘n samestelling van vier van gewilde Elsa Winckler se vorige Romanzas Perfekte formule, Liefde sonder voorbehoud, Byvoordele gewaarborg en Brug na haar hart.
Perfekte formule:
Elena is pas aangestel as die laboratoriumanalis in ‘n wynkelder. Ervaring het sy nie, maar sy moet gou leer want hier moet alles vinnig gebeur. Veral vir een man moet sy bontstaan: die onweerstaanbare, humeurige wynboer met die karamelbruin oë en verskeie gebreekte vroueharte op sy kerfstok.
Elena dans egter nie na sy pype nie en maak geen geheim daarvan dat sy nooit op ‘n plaas sal aard nie. Buitendien sal dit nooit tussen hulle werk nie want hy verkies ‘n meisie met ervaring, en Elena het nog nooit eens ‘n vaste verhouding gehad nie.
En tog, ervaring op die gebied van die liefde kan blykbaar verbasend maklik opgedoen word …
Liefde sonder voorbehoud:
Selfs ‘n internasionale model se hartsbegeerte word nie noodwendig vervul nie. Dit weet Lynette maar alte goed sedert hierdie man twee jaar gelede haar lewe ingestap het. Alles het so goed gelyk, tot sy weer New York toe moes gaan.
Wat help dit in elk geval? Hy glo nou eenmaal die lewe gaan vir haar oor haar voorkoms, die loopplank en publisiteit.
Van haar ander kant weet hy nie, dié kant wat vermurwe voor hawelose kinders en diere. En sy gaan hom dit nie vertel nie. Ook nie dat sy beplan om ‘n wesie aan te neem nie. Hy voel immers nie op sy gemak oor die idee van kinders nie.
Byvoordele gewaarborg:
Lichen glo sy is ‘n koue vrou, maar dan ontmoet sy vir Regard, wat haar bloed laat bruis en haar hartklop op loop jaag. Regard sien egter nie kans vir ‘n langtermynverhouding nie, wel vir ‘n vriendskap met byvoordele.
Wanneer Lichen vir Regard liefkry, weet sy, sy gaan hom verloor, want liefde is nie deel van hulle ooreenkoms nie. Dis juis daar waar die knoop lê, want Regard trap in sy eie strik en weet nie hoe om daaruit te kom nie.
Met alle misverstande uit die weg geruim, sluit hulle ‘n nuwe ooreenkoms waarin ‘n trouring, babas en vir ewig die gewaarborgde byvoordele is, want van wanneer af laat die liefde hom voorskryf?
Brug na haar hart:
Eva loop Henno ná vyf jaar onverwags raak en besef sy het hom nog geensins vergeet nie – ook nie die soen van destyds wat haar bestaan tot in sy wortels geruk het nie.
Hulle bring ‘n onvergeetlike tydjie in die Tankwa Karoo deur, maar Eva weet daar sal nooit iets blywends tussen hulle kan wees nie, want Henno glo nie aan langtermynverhoudings nie en sy begeer ‘n tradisionele sprokieshuwelik met al sy lief en leed.
Eva aanvaar die onvermydelike en gaan weer met Pieter uit. Dit is egter in Japan waar sy dit wat sy nie kon glo nie, voor haar oë sien en weet die brug na haar hart is nie ‘n hersenskim nie.

‘n Belofte vir Bippie

Lux Verbi (NB UItgewers) – Junie 2019
 
Bippie Snyman se pad word onderbreek met ‘n onbeplande swangerskap, en sy moet groot besluite neem. Sy maak ‘n belofte teenoor die Here – sy sal nie weer ‘n man in haar lewe toelaat as hy nie met haar wil trou nie. Dan word Riekert Tredoux skielik deel van haar lewe wanneer hy die huis oorkant die straat begin restoureer. Die swanger rooikop het Riekert se oog gevang die eerste keer toe hy haar sien, maar hy kan nie vir Bippie en haar baba die toekoms bied wat hulle verdien nie. Trou is nie deel van sy toekomsplanne nie. Sy eie ma het hom verwerp, hy kan nie weer so seer kry nie. Sal Bippie haar belofte gestand kan doen? En hoekom is die enigste man wat skielik al onder haar voete is, Riekert Tredoux?

Want die hart weet

Lapa Januarie 2019

Simoné hou daarvan dat dinge presies volgens haar plan verloop en haar aangetrokkenheid tot Wessel Barendse verloop glad nie volgens planne nie. Veral met haar peetma wat probeer Kupido speel. Maar een van Wessel se glimlagte en haar stomme hart val is sy hande. Peetma speel Kupido In Elsa Winckler se jongste reeks is die kinders nie opgewasse teen hul geliefde peetma, Jody, nie. Jody weet instinktief wanneer sy die regte hartsmaat vir een van haar ses peetkinders gevind het. Maar sy weet ook wanneer hulle gereed is vir Liefde met ‘n hoofletter.

Ultra Satyn 3 

NB Uitgewers Desember 2018

In Die drieweek-reëling oorweeg Ella dit om ’n werksaanbod in Londen te aanvaar. Maar by Quinn het haar hande, haar lyf, haar mond ’n wil van hulle eie. Sal sy binne drie weke kan besluit of sy eerder op Stellenbosch moet bly?

Vir ewig my altyd

Lapa November 2018

Lien Morkel trap ‘n slegte stel af met ‘n baas in die hospitaal waar sy werksaam is. Sy gaan help uit op Haïti vir Dokters Sonder Grense en by haar terugkoms trek sy Kaap toe waar sy by ‘n mediese praktyk in Melkbos aansluit. Om in Nicol le Roux, haar nuwe skoonsuster se broer vas te loop, is ‘n skok – hy was een van die redes hoekom sy weg is uit Johannesburg.

Nicol le Roux verhuis Kaap toe waar hy mede-direkteur word van ‘n fondsbestuurmaatskappy. Die laaste mens wat hy verwag om in die Kaap raak te loop, is Lien, sy nuwe swaer se suster. Sy is een van daardie ‘moderne’ vroue wat alles self wil doen en geen hulp van ‘n man wil hê nie.

Maar nou is al twee in die Kaap en beide van hulle kom agter soms het jy tog hulp nodig, al is dit uit die laaste oord waar jy dit vandaan wil hê.

My groot liefde 

Lapa November 2018

Katryn is tevrede met haar lewe, totdat sy eendag opkyk en ‘n groot blonde man met Chris Pine-blou oë in haar deli sien stap. Vir die eerste keer in jare spring haar hart regop met ‘n en-wat-het-ons-hier?

Omdat jy my liefhet

20 September 2018 (NB)

Dis Livie Mulder se beurt om vir ’n maand in haar oorlede tante se huis op Greyton te gaan bly. Dis beslis nie die ideale bepaling in die testament nie, maar Livie benodig die erfporsie om uiteindelik ’n belangrike droom te verwesenlik. Sy moet egter noodgedwonge op mense aangewese wees wanneer alles nie volgens plan verloop nie. Bart Coetzee red haar telkemale uit ’n penarie. Dis ongelukkig dieselfde man wat haar van die eerste oomblik af verkeerd opgevryf het. Die feit dat hy dodelik aantreklik is, maak haar rug net nog stywer. Bart het Greyton toe gekom om stil te lewe, en om te probeer ontsnap van die een gebeurtenis wat hom byna vernietig het. Daarom vermy hy nou enige verdere komplikasies – veral vroue – in sy lewe. Sal hy kan aanbeweeg, en die hartseer van vier jaar gelede begrawe? Boonop moet Livie ook besluit of sy kans sien vir ’n toekoms saam met Bart.

‘n Brief vir Reina

20 Julie 2018 (Lux Verbi)

Wanneer Reina Sauer se ouma sterf, hoor sy dat sy haar huis op McGregor erf. Maar ‘n ontwikkelaar, die ontnugterde en siniese Derek Retief, wil graag die huis deel van ‘n sekuriteitskompleks maak. Al wat Derek kort is Reina se handtekening. Maar dinge is nie heeltemal so eenvoudig nie. Wat op aarde maak Reina met haar ouma se vriende wat afhanklik was van haar ouma? En wanneer Reina die huis begin opruim, kom sy op ‘n boks vol briewe in die solder af. Met verstomming lees sy hoe haar ouma dit reggekry het om ‘n onmoontlike besluit te neem wat uiteindelik haar kleindogter se lewe moontlik gemaak het. Iewers langs die pad het sy wat Reina is ophou bid, ophou glo, maar terwyl sy deur haar ouma se lewe blaai, ontdek sy weer haar behoefte aan die Here.

Eerste Keur – Omnibus van 3 verhale

Mei 2018 (NB Uitgewers)

In Van altyd af vertrou Reynecke nie Cilla se intuïtiewe benadering met diere nie. Sy krap ook al sy vooropgestelde idees oor die lewe om. Aileen kan nie wag om haar pâtisserie se deure oop te maak in Te eenders, te anders. Allen Muir, die eienaar van die perseel, is egter ’n onwelkome uitdaging. Daar is dadelik ’n onverklaarbare drif wat tussen Kalinda en Zach posvat terwyl sy die geskiedenis en ’n spook se spore volg in Tydlose liefde.

Blameer die skoenlapper  

Februarie 2018 (Lapa uitgewers)

Josh het nie hiervoor gevra nie. Hy neem vroumense uit en hy hou van hulle. Sodra hulle oor babatjies begin koer en vassteek voor juwelierswinkels, groet hy egter. Maar nou het hy Catharien ontmoet en hy wil bly …

Op die sypaadjie

 Desember 2017 (Lapa uitgewers)

Armin is te befoeterd vir Sabrina en Sabrina verkies surfers met sexy bolywe wat nie heeldag werk nie. Maar dan leer sy hom van feng shui en hy begin wonder of sy dalk die yin van sy yang is.

Bewustelik joune

November 2017 (Lapa Uitgewers)

Vyf jaar ná die aanval op Kris, wat byna haar lewe gekos en haar met ‘n letsel op die gesig gelaat het, is sy weer op koers. Wel, as mens nou die nagmerries wat haar soms ry, uitskakel. Haar aanvallers is agter tralies, haar verbreekte verlowing is iets van die verlede. Wanneer sy die kans kry in haar fisioterapiepraktyk, breek sy ook weg om kursusse aan te bied in bewustelikheid – oftewel mindfulness: Sy help mense ontdek hulle kan maar net wees, hulle hoef nie heeltyd te doen nie. Dit is wat haar met heelwording gehelp het. Dit is tydens so ‘n kursus dat haar en Luca se paaie kruis, ‘n ultra-atleet in wie se wêreld daar nie plek is vir enigiets anders nie, laat staan ‘n vrou, veral nie een met “issues” nie. Daarvan het hy genoeg gehad. Maar dit is nogal ‘n moeilike situasie as jy in dieselfde huis saam met een woon. Haar nagmerries help ook nie juis nie. En hy moet fokus vir sy volgende wedren in Amerika om sy borge tevrede te hou. Hy moet wen, anders het hy verloor, dis sy leuse.

Omdat jy jy is

Augustus 2017 (NB Uitgewers)

Kathleen en haar twee susters erf elkeen vyfmiljoen rand na hul geliefde tante Peet se afsterwe, mits hulle ’n vreemde bepaling nakom: Hulle moet elkeen eers ’n maand lank in ta’ Peet se huis op Greyton gaan bly. In hul gejaagde lewens het nie een van die drie werklik hiervoor tyd nie, maar Kathleen stem in om eerste te gaan, want sy moet in elk geval aan ’n sakeplan vir haar aanlyn-onderneming werk. Sy het egter nie daarmee rekening gehou dat iemand die kothuis agter ta’ Peet se huis sou huur nie. Beslis nie ’n aantreklike man met viooltjieblou oë nie. Sake-konsultant Steyn Erasmus se arm is in ’n hangverband en Kathleen ontferm haar oor hom. Maar wat tussen hulle broei, is veel meer as net goeie buurmanskap . . .

Omnibus – Hoe diep die liefde lê 

Junie 2017 (Lapa)

Drie stories in die omnibus wat al voorheen verskyn het

Waar liefde lê: Lana sien regtig nie kans vir die passievolle omgewingskundige wat ’n Kilimandjaro-ekspedisie reël nie. Sy vrees berge. En sy vrees die uitwerking wat hierdie dinamiese en hartstogtelike man op haar het.

Want daar’s skoenlappers:  Gemma is ’n mediese dokter en Nick ’n oorlogsfotograaf. Boonop is hulle aangetroude familie. Maar op die een of ander manier vryf hulle mekaar telkens verkeerd op. Of is hulle eintlik onweerstaanbaar vir mekaar?

Heldergeel dag: Cara en haar vriendin Lana se broer Henry kon mekaar nog nooit verdra nie. Of is dit maar hoe mense optree wat eintlik van die begin af te veel van mekaar gehou het? Hulle storie het al in Waar liefde lê en Want daar’s skoenlappers begin …

‘n Liedjie vir Anine

Lux Verbi April 2017

Zander Breedt is ’n gewilde musiekster. Maar roem het ’n wrang smaak – hy voel asof hy teen ’n muur vasbid; die antwoorde waarna hy soek, kry hy nie in sy Bybel nie. En die nuwe aangetroude familielid, Anine, maak dinge nie makliker nie. Dis duidelik dat Anine nie veel oog hare het vir popsangers nie. Tog is sy die een wat weer die majeurnote in sy binneste losmaak. Anine Vos is ’n joernalis. Haar redakteur gee haar opdrag om ’n diepte-artikel oor Zander te skryf. Sy worstel met haar eie hartseer en sien glad nie kans hiervoor nie. Maar sy het vergeet: wanneer sy nie kan nie, kan die Here. ’n Liedjie vir Anine is deel vandie reeks oor die Breedt- en Vos-gesinne se lief en leed.

Jy is huis vir my 

April 2017 (Lapa)

Hy het haar hart gebreek toe hy ná hul nag van passie met ’n blonde pop by haar koffiewinkel opdaag. Maar nou is Leila se beste vriendin met Tinus se broer getroud en hy bly onder haar voete!

#liefvirjou

Desember 2016 (Lapa)

As jy al gewonder het oor Sanet van Tussen jazz en rock se broers – hierdie is die oudste broer, Kobus, se storie  

Cara de Villiers is laat vir haar vlug na Suid-Afrika toe sy in Kobus Viljoen vashardloop. Hy luister haar selfoongesprek met haar ma af en kan nie help om te hoor dat sy ‘n metgesel na ‘n troue benodig nie.

Vroue van Kosmoslaan 

September 2016 (Carpe Diem)

Dis die betekenis van die kosmosblom wat Ellie Brink laat besluit sy wil in Kosmoslaan bly en haar kinders daar grootmaak:

joy in love and life.

Op die oog af lyk dit na ’n veilige, rustige straat. Maar hierdie straat is vol intriges en interessante mense:

Ontmoet vir Marella, ’n prokureur wat haar perfekte lewe volgens voorafuitgewerkte lysies leef.

Ellie skryf kinderboeke maar wens sy kan swanger raak en die stories vir haar eie kindjie vertel.

Ida en Claire se mans is saam in ’n motorongeluk dood. Maar dis haar verlede wat vir Ida die meeste pla.

Een van Alma se dogters verdwyn en die hele laan begin soek.

Julia se man loop met ’n ander vrou weg en haar tienerseun, Rudi, raak in ’n bakleiery betrokke.

Het dit dalk iets met Sabina se verdwyning te doen?

Asof dit nie genoeg is nie, daag Hugo Conradie, die geheimsinnige man met die mooiste blou oë, onverwags daar op …

Die vroue in die laan kom eenkeer ’n maand bymekaar om te brei en oor koeitjies en kalfies te gesels. Later word hierdie breigroep hulle toevlug en hulle gooi die maskers een vir een af. Hulle begin saam bid en deel in mekaar se hoop en drome, teleurstellings en vreugde.

Uiteindelik steek elke vrou ’n kosmosblom in haar hare en sê dankie vir ’n tweede kans op geluk. Die vroue van Kosmoslaan is ’n boeiende, menslike verhaal waar elke vrou ervaar hoe die Skepper voorsien in presies dít wat sy nodig het.

Ridderspore en rose

(Ultrasatyn Desember 2016)

In Ridderspoor en rose sê Alan dat Corinne nie sy tipe is nie; hy soek ’n “stemmige” vrou wat kliënte beïndruk. Sy sal hom wys presies hoe ónstemmig sy kan wees, sodat hy nooit weer met ’n ander vrou tevrede sal wees nie.

Liefde deur ‘n Lens  

In Junie 2016 (Satyn) 

Wanneer Nicola Meyer agter haar kamera skuil, voel sy veilig en in beheer. Dit laat enige onstuimigheid in haar binneste bedaar. Selfs toe sy, in haar beroep as fotograaf, vlugtelinge oorsee afgeneem het, het sy al die hartseer in haar foto’s gekanaliseer en dit só van haar afgeweer. Sy huil nooit nie. Maar toe sy na Suid-Afrika terugkeer, dreig haar onderdrukte emosies om uit te borrel – en dis alles Francois Olivier, haar skoonsus se baie aantreklike broer, se skuld. Hy soen haar onverwags, vat aan haar, en laat haar wêreld tol. Hy sien die hartseer raak wat sy diep wegsteek en daag haar uit om te erken hoe sy voel. Nicola probeer om met haar kamera afstand tussen hulle te skep. Maar as sy haar weer kom kry, fokus sy op sy sterk gelaatstrekke. En wat is die uitdrukking wat sy daar sien? Geen man het al ooit só na haar gekyk nie. Sal Nicola haar verskansing kan laat vaar? En is dit liefde wat sy deur die lens sien?

Omnibus van drie stories

Februarie 2016 (Lapa)

Tussen Jazz en rock

Anderkant liefhê

Sonder bagasie

Brug na haar hart 

Maart 2016  (Lapa)

Vyf jaar ná ‘n vurige soen tussen hulle by haar vriendin se troue, is Eva oortuig dat Henno uiteindelik uit haar sisteem is. Maar hy staan nou lewensgroot voor haar en haar hart tamboer sy naam.

Om weer te droom

November 2015 (Struik)

Wanneer hulle haar vermoorde suster Marina se woonstel opruim, ontdek Lizet Vos haar suster se droomlys. En van toe af probeer sy om al die drome op Marina se “bucket list” te bewaarheid, al is van die gewaagde, gevaarlike aktiwiteite eintlik heel teen haar aard. Haar droom om eendag te trou en kinders te hê, skuif sy vireers op die agtergrond – totdat haar broer Evan se lewe met Anya Breedt verstrengel raak en Anya se broer Stephen en sy dogtertjie deel word van famieliekuiers.

Byvoordele gewaarborg 

Oktober 2015 (Lapa)

Regard van Niekerk het lankal besluit om nie ernstig oor vroumense te raak nie. Tot hy op ‘n doodgewone Maandag amper een raakry wat met ‘n skilpad in haar hande in die middel van die pad staan!

Ware Noord

Struik – Januarie 2015

Evan Vos is jonk, hy speel vir die universiteit se eerste span, die moontlikheid dat hy vir die Springbokke kan speel, hang in die lug, hy het nooit ‘n tekort aan ‘n vrou aan sy arm nie. Dit gaan met hom goed, die lewe is ‘n lied. En dan word sy hart uit sy binneste geruk. Op dieselfde dag wat hy moet afskeid neem van ‘n geliefde, sien hy die oorblyfsels van die ineengetuimelde Metodiste-kerk in Somerset-Wes, vir hom tekenend van sy eie omstandighede. Die skuldgevoel wat hy saam met hom dra, le swaar op sy hart, die enigste emosie wat hy kan hanteer, is woede. En hy laat die donkerte toe om sy binneste oor te neem. Anya Breedt is in haar noppies wanneer haar pa se argiteksfirma die opdrag kry om die planne op te trek vir die herstel van die Metodiste-kerk in hulle dorp. Dis amper drie jaar nadat die pragtige ou kerkie die hele voorste fasade verloor het en die nodige fondse is uiteindelik bekom. Sy is nog meer opgewonde wanneer sy hoor sy is die projekleier. Drie jaar later speel Evan vir die Springbokspan, maar is op die krukkelys na ‘n besering. Sy pa se konstruksiefirma het die opdrag gekry om die kerkie te herstel en hy vra vir Evan om tydelik as projekleier op te tree. Evan en Anya ontmoet mekaar op die perseel van die kerkie. Hulle voel aangetrokke tot mekaar, maar Evan weet met al sy bagasie kan hy nie iemand naby aan hom toelaat nie en Anya is baie versigtig na ‘n mislukte verhouding. Anya aanvaar Evan is met ‘n doel oor haar pad gebring, en wanneer sy hoor van sy pyn, probeer sy help. Evan besef hy moet die persoon wat verantwoordelik is vir die seer in sy lewe, vergewe, anders kan hy nie aanbeweeg nie, maar hoe doen ‘n mens dit?

Ultrasatyn 2 in 1 

(Tafelberg) Sophie en Sophia en Reëls van die spel (Colette Berg)(e-boek en sagteband)

Sophie en Sophia: Sophie kort sekslesse. Sy trek langs Derek in en hulle beproef “resepte”. Reëls van die Spel: Lukas het Leila se hart vermorsel. Nou’s hy haar baas. Sy gaan hom ’n les leer. 

Eksklusief by Leserskring.

Liefde in laslap

(NB Satyn)

Kinderboekillustreerder Natalie Olivier het geen familie van haar eie nie, maar by haar vriendin Amelie se gulhartige mense voel sy tuis. Totdat Amelie se swaer van Italië terugkeer en saam begin kuier. Die aantreklike Neethling Meyer se sjokoladebruin oë wat heeltyd op haar rus, onthuts Natalie heeltemal. En toe hy haar boonop uit die bloute soen, wil haar hart net nie meer normaal klop nie.

Maar Neethling is ‘n beroemde skrywer van rillerromans wat duidelik sy lewe as vrygesel geniet. Het hy dan nie gereeld ‘n nuwe pop aan die arm nie? Natalie weet mos hy is nie die tipe wat langtermynverhoudings aanknoop nie. Wat ook al tussen hulle is, sal nie hou nie.

Jare ná haar kinderdae in die weeshuis vind Natalie uiteindelik meer oor haar verlore familie uit en begin sy om haar lewensverhaal in ‘n laslapdeken uit te beeld. Maar Neethling se silhoeët duik telkens in haar uitbeelding op. Is hul lewensstories werklik bestem om te vervleg?

Liefde in laslap is ‘n liefdesverhaal van twee karakters wat lesers uit Om Amelie se tafel sal onthou.

Liefde sonder voorbehoud 

 (e-boek en gedrukte kopie)(Lapa)

Pierre se laaste snedige aanmerking teenoor haar het veroorsaak dat sy twee jaar lank glad nie in Suid-Afrika was nie, maar nou is Lynette terug om in ‘n advertensie vir ‘n winkelkleregroep te wees en sy sien hom weer. Sal hy hierdie keer verby haar beroep as model kan kyk of sal hy haar altyd net as ‘n mooi gesiggie sien?

Om Amelie se tafel

(e-boek en gedruk te kopie)(Satyn NB Uitgewers)

Amelie doen nie groepwerk nie. Sy doen nie motorbestuur nie, en sy doen ook nie mans wat vir haar lelies of juweliersware aandra nie. Ja, sy’t ’n bietjie bagasie – en wie het nogal nie?

Maar wanneer spanbou-spesialis en bedryfsielkundige Chris op die prentjie verskyn, en boonop veroorsaak dat Amelie ’n ver ent pad moet ry om sowaar in simpel groepies te gaan rondfoeter, word haar wêreld omgekeer. Die man sukkel met haar en weet nét watter knoppies om te druk. Wanneer sy Chris leer ken en besef hy’t ’n groot, luide familie – presies die soort wat sy so graag om ’n gesellige etenstafel in haar eie tuin sou wil sien, die soort waaroor sy droom sedert haar ouers se ontydige dood – is haar kop aan die draai. Dit verg allerlei ompaaie, en harde werk van Chris se kant, om deur Amelie se bagasieknope te sny. Sal sy haar dinge kan laat staan en die familie wen waarna sy so smag? En dít voor Chris besluit sy’s net té veel moeite.

Tydlose liefde 

Satyn Tafelberg April 2014

Kalinda het uit Toronto gekom om navorsing te doen oor Kanadese soldate in die Anglo-Boereoorlog. Sy’s twee jaar gelede van Neil geskei en het Suid-Afrika agtergelaat vir ’n nuwe lewOm Amelie se tafel – Tafelberge, maar noudat sy terug is in die land, onthou sy opnuut sy dreigende laaste woorde aan haar . . .Maar vir eers het sy ander probleme. Soos die spook, jou wrintiewaar ’n regte-egte spook, wat in haar kar geklim het op pad na Paardeberg − én haar kantsakdoekie op die sitplek agtergelaat het.En dan, op die plaas aangekom, het sy te kampe met Zach, ‘n avonturier en rekenaarspeletjie-ontwerper met ‘n onversadigbare drang na werklik ekstreme sportsoorte − en die onverklaarbare drif wat dadelik tussen hulle posvat.Terwyl Kalinda die geskiedenis en haar spook se spore volg, kry sake tussen haar en Zach alte vinnig koers – maar sy hoor mos van sy arrogante drie-date-reël, en sy weet haar hart het dít allermins nodig. Boonop is Neil tóg nie iets van die verlede nie . .

Sophie & Sophia – Elizabeth Engela

Tafelberg 2013

Op sewe-en-twintig moet Sophie dit nou eenmaal erken: sy benodig sekslesse. Sy’t dan nog nooit die groot O gevoel nie, nog nie eens naastenby nie! Dan gebeur drie dinge byna tegelyk: Sophie kom in kontak met ’n skrywer van witwarm hygromans, raak lus om te begin blog soos in Julie & Julia, én trek in ’n nuwe woonstel in – langs haar broers se pel Derek. Ja, die een wat soos haar amper-ouboet is . . . Maar ook só glad nie!

Sophie verbrand haar vingers met Derek, want van hartsake weet sy so min as van kosmaak, en mens kan van albei ’n liederlike brouspul maak. Derek weet veel meer van sensuele sake, en saam-saam beproef hulle allerlei resepte wat hy reeds vervolmaak het.

Tussen Jazz en Rock 

Lapa 2009

Sanet is voos vir mans. Maar teen Jak de Beer wat een aand ‘n stripper is en die volgende dag in haar eerstejaars tutoriale klas sit, het sy geen verweer nie.

Anderkant liefhê

Lapa 2010

Martha en Hans ken mekaar al lank, maar die afgelope tyd spook sy donkerbruin oë by haar. Hoekom soen hy haar dan dat haar bene wankel, net om haar weer te los? Hy frustreer haar so!

Sonder Bagasie 

Lapa 2011

Lisa ontmoet haar nuwe baas voor sy weet wie hy is. Tot haar skande! Maar wat van sy hond en sy deurmekaar huis? Sy te blou oë en gespierde lyf is egter ‘n groter probleem …

Perfekte formule

Lapa 2011

Elena is pas aangestel as die laboratoriumanalis in ’n wynkelder. Ervaring het sy nie, maar sy moet gou leer want hier moet alles vinnig gebeur. Veral vir een man moet sy bontstaan: die onweerstaanbare, humeurige wynboer met die karamelbruin oë. Elena dans egter nie na sy pype nie en maak geen geheim daarvan dat sy nooit op ’n plaas sal aard nie. Buitendien sal dit nooit tussen hulle werk nie want hy verkies ’n meisie met ervaring, en Elena het nog nooit eens ’n vaste verhouding gehad nie. En tog, ervaring op die gebied van die liefde kan blykbaar verbasend maklik opgedoen word …

Van altyd af 

Tafelberg 2011

Cilla kan met diere kommunikeer, maar toe sy Reynecke se hings probeer help, is dit die eienaar wat die probleem het. Hoe gaan sy hom oortuig, aangesien sy self oortuig is, dat hulle twee van altyd af vir mekaar bedoel is?

Waar liefde lê

 Lapa 2012

Lana sien regtig nie kans vir die passievolle omgewingskundige wat ‘n Kilimandjaro-ekspedisie reël nie. Behalwe dat sy ‘n vrees vir berge het, irriteer groenes haar ook so. Maar skielik het sy ‘n ander vrees – die uitwerking wat hierdie dinamiese en hartstogtelike man op haar het.

Want daar’s skoenlappers 

Lapa 2012

Gemma is ’n mediese dokter en Nick ’n oorlogsfotograaf. Hy wil alewig oorvat en in beheer wees van alles. Nick voel aangetrokke tot Gemma, maar volgens sy waarneming, is sy yskoud en hou haar sy haar pasiënte op ‘n afstand. Maar, die aantrekkingskrag tussen hulle is ongewtyfeld daar. Kan die liefde in hierdie situasie tog oorwin?

Heldergeel dag

Lapa 2012

Cara en haar vriendin Lana se broer Henry kon mekaar nog nooit verdra nie. Of is dit maar hoe mense optree wat eintlik van die begin af te veel van mekaar gehou het?

Te eenders te anders 

 Tafelberg 2013

Aileen het lank rondgeval tussen beroepe en oorsee rondgerits, maar nou is sy terug op Stellenbosch en sy weet wat sy wil hê: haar eie pâtisserie wat Stellenbossers sal wys hoe fyngebak nou eintlik lyk. Sy’t reeds die perfekte perseel gevind, ook. Maar . . . die eienaar van die gebou is absoluut, heeltemal onmoontlik!