Introvertpartytjie
Elsa Winckler
“Seriously, Ava, ek weet verkies dit om aand na aand in jou woonstel te sit en lees, maar jy sal eenvoudig moet leer om af en toe te ‘mens’, soos jy dit noem. Vrydagaand is ’n goeie geleentheid. Marié verjaar, sy hou partytjie, ek help en ons het besluit dis ’n fancy-dress. Die tema is Grease. Jy hoef nie eens soos jouself te gaan nie!” Greta gooi haar hande triomfantlik in die lug
Ava druk haar bril hoër op haar gesig en draai terug na haar rekenaar toe. Vandat Greta, haar ou kamermaat van universiteit, maande gelede ook as leerklerk by dieselfde firma as sy begin werk het, probeer sy vir Ava oorreed om saans na werk saam met die ander jongklomp van die werk uit te gaan.
“Ek kan regtig aan niks ergers dink om op ’n Vrydagaand te doen nie. ’n Partytjie beteken baie mense. Ek het ’n boek …”
Greta kom sit langs haar rekenaar op die tafel. “Asseblief, kom saam? Dit klink vir my vir die ses maande wat ek in Engeland was, leef jy soos ’n kluisenaar. Dis in elk geval wat die ander leerklerke sê. Dis nou die wat nie dink jy is net gewoon stuck-up nie.”
“Ek is nie stuck-up nie, ek verkies net om by my eie plek te wees en te doen wat ek wil doen.”
“Wel, jy sal moet leer om te sosialiseer as jy aan die einde van die jaar ’n vaste aanstelling by die firma wil kry. Die klomp direkteure hou van gesellig verkeer na werk. En heelwaarskylik is die nuwe CEO wat Maandag begin, is ook ’n partytjiedier.”
Ava druk haar vingerpunte teen haar slape waar ’n hoofpyn dreig. Greece. Dis darem heel ordentlik vir ’n tema, veral een waarby Greta betrokke is. Om Greta vir eens en vir altyd stil te kry, sal gaan gesig wys. Wat Greta nie hoef te weet nie, is hoe vinnig sy gaan wegglip. “Oukei, Greta, ek sal saamkom, maar …”
“Great! Jy hoef jou oor niks te bekommer nie. Ek gaan vir ons outfits kry, kom tot by my, ons gaan sommer almal daar aantrek en saamry.”
***
Vrydagaand staar Ava verstom na die piepklein toppie wat Ava op die bed neergesit het. “Jy is nie ernstig nie …” Sy lig die piepklein toppie op. “Het jy nie gesê die tema is Greece nie? Ek het my voorgestel ’n lang swart romp met ’n geborduurde voorskoot …”
Greta en die ander klompie van die werk, lag heerlik. “In ’n lang swart romp en voorskoot?” giggel Greta. “Nee, ons praat van Grease, die movie. Die een waarin John Travolta en Olivia Newton-John way back gespeel het, seker nog toe ons oumas jonk was. Jy moes dit darem seker al iewers gesien het?”
“Ek het die musical gesien …” begin Ava.
“Dan weet jy hierdie is Sandy se outfit,” val Greta haar in die rede. “Sy was mos aanvanklik so ’n goody two-shoes en toe gee haar pelle haar ’n make-over en sy verander in hierdie hot girl. Presies wat ons nou met jou gaan doen.”
Ava druk haar bril vas. “Wel, om hot te lyk, was nog nooit vir my ’n doelwit nie, ek verseker jou. Buitendien, ek kan nie eens my been in dié toppie kry nie, wat nog te sê my bolyf!” Ava sit die toppie vinnig neer en vat haar handsak. “Wel, julle moet lekker kuier, ek gaan terug huis toe.”
“Probeer net, toe?” keer Greta.
Ava kreun hardop. Hierdie een gaan sy nie wen nie.
***
“Ek het gewéét ek moes by die huis gebly het,” brom Ava terwyl sy ure later die ruitveërs van haar klein Fiat vinniger stel. Die partytjie was presies die nagmerrie wat sy gedink het dit gaan wees. Toe die hoeveelste Danny Zuko vir haar wou sing en vasdruk, het sy net eenvoudig gevlug. Hulle moet maar verder Grease sonder hierdie Sandy.
Die reën val nou met mening en sy vee-vee met haar hand op die ruit wat vinnig al hoe wasiger raak. Dis ’n absolute wonderwerk dat sy nie haar enkels in hierdie belaglike bloedrooi hoëhakskoene gebreek het nie. En die frieken stywe toppie en spanbroek waarin Greta en kie haar geboelie het, is stadig maar seker besig om die meeste van haar organe te beskadig. Greta se kort swart leerbaadjie bied effens beskerming teen die winterkoue, maar sy sal nie verbaas wees as sy griep kry nie.
Haar happy place is in haar woonstel tussen haar boeke – dis mensloos, stil, rustig sonder enige vreemde vibrasies. Dit het haar lank geneem om te besef hoekom sy eerder saans sit en lees as om uit te gaan – sy is ’n introvert, sy kry haar energie wanneer sy op haar eie is. Mense maak haar oneindig moeg. En baie mense in een vertrek is gewoon scary. Die baie asems, die baie woorde, harde stemme, oe, nee. Sy begin sommer hiperventileer.
Al waarna sy nou uitsien, is om uit hierdie klere te kom, haar gesig skoon te was, haar pajamas en pantoffels aan te trek en die boek waarmee sy besig is, klaar te lees. Môre is, dankie tog, Saterdag en sy hoef eers weer Maandag te ‘mens’.
Die kuierplek waar die partytjie is, is in die middel van Stellenbosch en hierdie tyd van ’n Vrydagaand is die strate omtrent besig. Dis al tienuur, maar die meeste studente peul nou eers uit gate om te begin kuier. Parkering is altyd ’n probleem en wanneer dit reën, is die strate soveel besiger.
By die volgende kruising draai sy links, maar sy moet vinnig remtrap. Reg voor haar in die pad, staan ’n plat sportmotor. Hoekom ry hy nie?
In haar tru-spieëltjie, sien sy ligte wat vinnig op haar Fiat afjaag, maar sy kan nêrens heen gaan nie, aan weerskante van die pad is voetgangers. Sy toet-toet en leun vorentoe om oor die venster voor haar te vee sodat sy kan probeer uitmaak wat aangaan.
Die volgende oomblik stamp iets agter haar motor, haar Fiat word vorentoe gedryf, en met ’n aaklige geluid van metaal teen metaal, tref haar motortjie die sportmotor. Sy vries. Flippenheltog. Agter haar hoor sy bande skree. In die truspieël sien sy die motor wat in haar vasgery het, probeer ’n U-draai maak. Hy wil wegjaag! Ontsteld, spring sy uit. Wie dit ookal is, gaan nie so maklik wegkom nie, sy gaan hom keer.
Eers toe sy ’n paar tree in die rigting van die ander motor gee en amper omval, onthou sy wat sy aanhet. Sy gryp net betyds na die dak van haar motor om regop te bly. In die hoë hakke gaan sy niemand keer nie.
“Wat de hel? Jy’t in my vasgery!” bulder ’n stem agter haar. Vinnig draai sy om. ’n Beer van ’n man staan reg agter haar. Breë skouers, swart hare, belaglike blou oë, frons tussen sy oë.
Die reën sif neer. Die man se oë swiep oor haar, van haar Sandy-haarstyl af tot onder by haar die bloedrooi hoëhakskoene. Hoe Sandy se haarstyl teen die tyd lyk, wil liewer nie weet nie.
Sy trek haar skouers agteroor. “Dit was nie my skuld nie, die motor agter my het in my vasgery en …:”
“Watter motor?” blaf hy uit.
Maar haar oë begin volg ’n reëndruppel wat op sy wenkbrou vassit. Gefassineerd kyk sy hoe dit op sy wang plons en stadig afgly tot …
“Watse motor?” vra die man weer, nou ewe skielik heelwat nader aan haar as netnou.
Sy kyk oor haar skouer. Die motor het intussen weggery. “Dit was … nou net daar, regtig, iemand anders moes dit ook gesien het …” Sy soek op die sypaadjie rond waar mense gewoonlik sit, maar niemand is in sig nie, selfs die voetgangers van netnou het verdwyn. “Wel, dis nie my skuld nie.”
Die man vat haar aan haar hand en beduie na die agterkant van sy motor waarteen haar Fiat nou ewe tevrede rus. “Kyk mooi,” sê hy in ’n stem wat ’n mens vir ’n tweejarige sal gebruik. “Jou motor het in myne vasgery. Daar is geen ander motor nie.”
“Kom kyk jy, ek het ook iets om vir jou te wys,” sê sy in dieselfde stemtoon as wat hy gebruik het en vat sy hand in beide van hare. Die skielike hol kol op haar maag, ignoreer sy heeltemal. Dis só nie die tyd om nou oor ’n man te swoon nie.
Sy trek hom agter haar aan tot aan die agterkant van haar motor. “Sien?” Sy beduie na die stamp teen haar Fiat se agterkant, duidelik sigbaar in die straatligte. “Ander motor.”
Hy skud sy kop. “Hoe weet ek dit het vanaand gebeur? Dit kan net sowel ’n stamp wees wat jy lankal gekry het. Hoe jy met daardie skoene kan bestuur, weet nugter.”
Teen dié tyd het Ava genoeg gehad. Die toppie en die stywe broek is besig om die bloedvloei na al haar belangrike organe af te sny, sy wil by die huis kom, so gou as moontlik. “Kyk, Meneer of Dokter of wie jy ookal is. Ek was by ’n partytjie. Ek het gedink dis ’n Greek-partytjie, soos in Griekeland met lang swart rompe en geborduurde voorskote, maar dis toe ’n Grease-partytjie en ek moes soos Sandy lyk. Nie my idee nie. Partytjies is nie my idee nie, mense is nie my nie idee nie. Gee my ’n sweetpak en ’n boek enige aand en ek is happy. Maar Greta het aangehou en aangehou. Sy en ek was kamermaats, ons is nou kollegas, sy sê ek raak ’n kluisenaar. So ek het gegaan. Dit was aaklig. Baie mense wat baie en hard praat, ek … kan nie. En toe vlug ek. Net om vir jou in die middel van die pad te kry. En toe jaag iemand anders in my vas. So of jy my nou glo of nie, dis wat gebeur het. So wat wil jy hê? Enigiets, sê net, maar my woorde is nou op. Ek is ’n leerklerk en verdien nie baie nie, maar ek kan dit oor ’n paar maande afbetaal, miskien ….”
Sy probeer somme maak, iets wat gewoonlik vanself gebeur, maar op die oomblik is haar brein besig om te wonder hoe die man se hare onder haar vingers sal voel, hoe dit sal wees as hy haar soen. Uiteindelik besef sy hy staar na haar, sy oë op haar mond. “… in elk geval, ek sal dit afbetaal,” kry sy uit.
Verbeel sy haar of is hy weer baie nader as netnou? Demmit, sy hou nog steeds sy hand in hare vas. Sy los dit vinnig, maar met sy oë op hare, gryp hy haar vingers vas.
Hy lig haar ken. “Enigiets?”
Sy swart wimpers is nat van die reën. “Vir betaling, bedoel ek …” kry sy uit.
Sy kop sak af. “Presies wat ek ook bedoel,” prewel hy en soen haar.
***
Teen Maandagoggend vlam Eva se wange nog bloedrooi elke keer as sy net aan Vrydagaand dink. Wat op aarde het haar besiel om stil te staan terwyl die wildvreemde man haar soen? Doodstil. Sy het nie geroer nie. Selfs lank nadat hy weggery het, het sy net daar bly staan.
Haar enigste troos is dat sy die man hopelik nooit weer in haar lewe sal sien nie. En indien die onwaarskynlike gebeur, sal hy haar beslis nie herken nie. Vanoggend is haar Sandy-haarstyl met haar eie besadigde poniestert vervang, die stywe toppie en broek met haar gewone, ordentlike swart broek en baadjie en wit hemp.
Greta loer om die deur. “Jy het vinnig Vrydagaand verdwyn?”
“Ek kon nie meer asemhaal nie,” sê Ava. “Ek het die sak met die uitrusting op jou lessenaar gesit. Ek hoop ek sien dit nooit weer nie.”
“Wel, ek kan vir jou sê daar gaan nog lank gepraat word oor jou Sandy-uitrusting,” giggel Greta. “Niemand wou glo dis jy nie.”
“Jammer om julle te onderbreek.” Dis die stem van een van die direkteure. Vanwaar sy sit, kan Ava hom sien nie, maar hy moet agter Greta staan, sy het omgedraai. “Ek stel die nuwe CEO aan almal voor. Stian Claassen, dis een van ons nuwe leerklerke, Greta van Biljon en hierdie …” Hy stap in Ava se kantoor en glimlag in haar rigting, “… is Ava Basson, ons hoop om haar om te praat om aan die einde van die jaar by ons aan te sluit. Ava, Stian Claassen.”
Teen die tyd wat Ava om haar tafel beweeg het, stap die nuwe CEO in. Blou oë ontmoet hare, al die suurstof word summier uit die vertrek gesuig. Sy gryp die lessenaar langs haar vas. As sy reg verstaan, dis nou te sê as haar brein nog normaal funksioneer, is die man wat haar Vrydagaand gesoen het en haar nuwe baas, een en dieselfde persoon.
Hy frons en stap stadig nader na haar toe en steek sy hand uit. Asof gehipnotiseerd, kan sy net na hom staar. Die oomblik toe hulle vingers ontmoet, verdwyn sy frons en sy een mondhoek lig baie effens.
“Aangenaam, Ava.”
Teen agtuur is Ava terug in haar woonstel, in haar sweetpak met ’n boek op die bank. Hopelik kan sy nou uiteindelik ontspan. Sy het die hele dag gewag dat Stian haar roep en afdank of iets vir haar sê, maar sy het hom nie weer gesien nie. Wat net een ding beteken – hy het haar nie herken nie. Dankie, tog.
Sy probeer lees, maar die woorde spring so rond, sy laat val uiteindelik die boek. Die interkom raas. Dis net Greta wat die tyd van die aand kom kuier sonder ’n afspraak. Sy druk die knoppie om die hek op die onderste vloer oop te maak en stap kombuis toe om ’n bottel wyn te soek. ’n Glas wyn is gewoonlik die eerste ding wat Greta soek.
Toe Greta klop, staan Ava reg met die glas wyn. Sy maak die deur oop, maar haar glimlag vries. Dis nie Greta voor haar deur nie, dis Stian.
Hy het ’n sweetpak aan en in sy hand is ’n boek. Maar dis die lig in sy oë wat haar asem wegslaan. “Is ek nog betyds?”
“Waarvoor?”
Hy stap in, druk die deur agter hom toe en neem die glas wyn by haar. Hy sit dit saam met sy boek op die tafel by die voordeur neer en trek haar nader. “Vir jou introvertpartytjie. My gunsteling.”