Kortverhaal 7

Wat ’n vrou wil hê

Elsa Winckler

Klara kners op haar tande en begin tussen die mense deur in die stampvol kuierplek in die hartjie van Kaapstad ’n pad oopveg.

Sy moes eintlik maar huis toe gery het, in die bed geklim het en haar kop toegetrek het op die dag, die aand en al haar patetiese pogings om op dertig ’n man te kry vir een date. Dis nie asof sy met die vent wil trou nie. Asseblief nie. As die oudste van ses kinders wat moes help grootmaak aan haar sibbe, het sy geen behoefte om ooit weer ’n baba vas te hou nie.

Om aandele in die besigheid te koop waar sy werk, dís haar doel in die lewe. Oor dividende kan sy droom, om nooit, ooit afhanklik van iemand anders te wees nie, dís wat sy wil bereik. Mans en babas? Seriously?

Een date. Vir die kantoor se jaareindfunksie. Sy het nog altyd dié partytjie op haar eie bygewoon. Maar as sy ernstig opgeneem wil wees, het die grootbaas se sekretaresse verduidelik, sal sy pogings moet aanwend wat daarop dui sy gaan nie gou bedank nie. Byvoorbeeld, bring ’n man na die funksie sodat jy kan wys jy het ’n stabiele persoonlike lewe.

Asof ’n man noodwendig stabiliteit beteken. Maar oukei, sy kan die game speel, so goed soos enige man.

Daarom was op soek na ’n man wat sy kan voorstel aan die baas, een wat haar kan help om haar droom te verwesenlik om eendag onafhanklik te kan lewe. En dis nie asof sy ’n ellelange lys vereistes het nie. Glad nie. Sy het lank terug uitgevind om nie veel te verwag van die teenoorgestelde geslag nie – hulle stel gewoonlik teleur. 

Kry vir jou iemand aanlyn, het haar vriendinne haar aangemoedig, almal doen dit. Binne minute het hulle vir haar ’n aanlynprofiel opgestel en kon sy begin kies. En daar was sowaar ’n paar mans wat op papier in elk geval, heel aanvaarbaar gelyk het. 

Maar die afgelope week se afsprake het haar opinie oor mans net bevestig. Ewe hoopvol het sy elke aand een van die gesigte wat sy aanlyn  mee kontak gemaak het, ontmoet. Maar haar voorneme om ongetroud en sonder kinders te bly, is net bevestig. As die spulletjie lamsakke ’n voorbeeld is van vandag se mans, moet hulle beslis ontmoedig word om ooit voort te plant. 

Sy skuifel-skuifel vorentoe. Dankie, tog. Ava se poniestert is ’n entjie vorentoe al sigbaar.

Mense stamp teen haar en die volgende oomblik word sy vasgevang tussen die rugkante van twee mans, haar gesig styf teenaan een in ’n spierwit hemp.

Grimmig druk sy teen die rug voor haar en trek haar asem in om die man te vra om asseblief pad te gee. Maar ’n hemelse reuk wat haar laat dink aan soel nagte trek tot diep in haar longe. Wow. 

“Klara!” hoor sy van veraf. Agter haar is ’n beweging, sy is nie meer vasgedruk nie en kan aanstap, maar … 

Asof vasgevang deur ’n vreemde krag, kyk sy op na die man se breë skouers. Die vertrek kantel.

Die lyf in die wit hemp beweeg, oor sy skouer lag donkerbruin oë af na haar. Alles om haar word stil, die gedruis van die mense vervaag, sy kan nie wegkyk nie. 

“Hallo.” Sy stem is diep, sexy. En genade, sy het al van gebeitelde kakebene gehoor, maar die man s’n is heeltemal belaglik.

’n Blos kruip teen haar nek op. Sal sy nou na ’n man se skouers en kakebene staan en staar soos … soos … Niémand doen so iets nie! 

“Jy staan die paadjie toe,” brom sy voor sy wegvlug. 

Weke lank soek sy al na ’n man wat haar net min of meer interesseer. Na vanaand se aaklige date het sy moed opgegee. En sowaar, terwyl sy op pad is om vir haar pelle te sê sy gaan vrede maak met die feit dat sy nie deel van die maatskappy waar sy werk, gaan word nie, loop sy ’n man raak wat haar knieë lam maak, haar kop laat draai en al die lawwe gevoelens in haar wakker maak waarvan haar vriendinne gereeld vertel en wat sy nog nooit, ooit in dertig jaar ervaar het nie.

Sy het wragtig tot haar kinders in sy oë gesien. Die simpel reël uit een of ander song het haar altyd ’n kramp gegee, maar sy kan sweer dis wat sy sopas gesien het. Kinders. In die oë van ’n man wat sy heelwaarskynlik nooit weer gaan sien nie.

“Klara!” Uiteindelik sien sy die tafel waar Ava, Lientjie en Mara vir haar sit en wag.

“Dit was ’n gesukkel. Hoekom op aarde het julle dié plek gekies?” Klara gaan sit vinnig, haar binnegoed nog skoon bewerig.

“Kom sit, ek verduidelik,” sê Lientjie. “Ek weet nou hoekom al jou dates flop.” Sy en haal ’n tydskrif uit haar groot handsak, “Ons het die hele ding verkeerd benader. Die aanlyn-ding het beperkinge waarvan ek nie geweet het nie.” 

“Hierso,” sê Mara en stop ’n glas vonkelwyn in haar hand. “Jou gunsteling. Ek dink Lientjie het iets beet.”

“Dié keer kan jy maar luister,” voeg Ava ook by.

Klara neem ’n groot sluk van die vonkelwyn. Die man in die wit hemp se geur is nog om haar, in haar. Haar oë soek na hom tussen die mense, maar hy het verdwyn.

“Jy moet ’n man van aangesig tot aangesig ontmoet, dis die enigste manier hoe jy kan seker maak hulle sal bymekaar pas.” Lientjie beduie na die  klein verhogie waar lede van ’n band begin regmaak vir die aand se show. “Een van die dinge wat belangrik is as jy ’n man soek, is om te kyk hoe hy dans.”

Klara skud haar kop. “Ek soek nie verder ’n man nie. Die maatskappy ken my werk en as dit nie goed genoeg is nie …” Sy lig haar skouers op.

Ava se oë rek. “Maar sê nou die volgende ou wat jy ontmoet, is die regte een?”

Klara maak keelskoon. “Wel, om die waarheid te sê …”

Lientjie maak die tydskrif oop. “Wag nou, man en luister. Daar is navorsing gedoen oor wat vrouens in mans wil hê. Ons kies onbewustelik ’n man by wie ons gesonde kinders kan hê, daarom …”

“Kinders?” Klara snak na haar asem.

“Ja, oukei, oukei, ek weet hoe jy oor kinders voel. Onthou, ek het gesê, onbewustelik.” Half geïrriteerd gaan Lientjie voort. “Lengte is belangrik. Lang mans is glo gesonder, sien, geniet meer respek en verdien meer as hulle korter kollegas. En tweedens, sy bou. Vrouens verkies mans wat sterk, gespierd en atleties gebou is. Jy weet, die tipiese smal heupe en …”

“… breë skouers,” prewel Klara.

“Presies! En derdens, vrouens is aangetrokke tot mans met ’n sterk gesig. Dis baie interessant. Hoe meer testosteroon ’n man afskei gedurende puberteit, hoe swakker is sy imuunstelsel.  Wanneer hulle siek is, hou die liggaam testosteroon terug om eers die virus of siekte te beveg.  Mans wat wat ’n sterk, manlike gesig het, het dus ’n hoë dosis testosteroon as tiener gekry – en was gesond en sterk. Daarom maak dit sin dat hulle ook goeie pa’s sal wees.  Hulle is dus goeie voortplantingsmateriaal.” 

Lientjie haal ’n slag asem. “En dan moet jy ’n man kan ruik. Dis wat my laat besef het die aanlyn-ding gaan nie werk nie. ’n Man se reuk vertel jou of julle genetiese pakket genoegsaam verskil sodat julle mooi kinders kan maak. Daar is baie interessante eksperimente daaroor gedoen,” voeg sy by. “En dan natuurlik, sy stem. Ons is aangetrokke tot mans met ’n diep stem …”

“… ook om die genepoel te versterk,” sê Mara by.

“En laastens …” begin Lientjie en en sit agteroor toe die eerste note van die band in die vertrek opklink. “Jy moet kyk hoe hy dans, how he moves. Dit verklap so baie dinge – hoe oud hy is, of hy gesond is, hoeveel energie hy het …”

“… en dit wys natuurlik ook … uhm … hoe sy moves in die slaapkamer sal wees.” Ava se oë vonkel. 

Klara hap in die lug.

“Ek weet,” sê Lientjie en druk haar hand. “Dis ’n lang lys en jy dink jy sal nooit, ooit so ’n man ontmoet nie. En jy wil nie trou nie en jy wil nie kinders hê nie, maar …”

Klara skud haar kop en lag verdwaas. “Ek dink ek hét so iemand gesien. Breë skouers, diep stem, sterk kakebene, hy ruik soos niemand anders nie en ek kan nie glo ek sê dit nie, maar ek het sweerlik my kinders in sy … Dis so corny, ek kan dit nie eers hardop sê nie!” Sy lag en druk haar gesig in haar hande.

Mara gryp haar hand. “Kinders. Jy praat oor kinders. Waar is die man?” 

“Hy was hier. Nou net. Maar,” Klara gooi haar hande in die lug, “hy’s nou weg en wat is die kans ek loop hom weer raak?”

Agter haar skuif ’n stoel en die volgende oomblik leun die man in die wit hemp oor haar. Donkerbruin oë vonkel.

“Die kans is honderd present. My naam is Douw. Douw van Wyk. Kom ons dans, Klaradyn dan wys ek jou my moves.”

***

Die kantore maak reeds die dag na Nuwejaar oop. Die baas roep haar vroegoggend kantoor toe. 

“Klara, goeie nuus. Die besluit was eenparig – as jy jou nog aan ons maatskappy wil verbind, wil ons graag vir jou aandele gee. Jy kan ook bykoop. Soos jy weet, is die dividende uitstekend en jy sal nooit weer oor jou toekoms bekommerd hoef te wees nie.”

Klara glimlag breed. “Baie dankie, ek aanvaar graag julle aanbod. Ek moet egter ook noem ek het ook ’n ander verbintenis aangegaan.”

Haar baas frons. “Ek weet nie of dit aanvaarbaar sal wees nie …”

Sy steek haar hand uit sodat hy die ring aan haar vinger kan raaksien. 

“Dis ’n verbintenis met ’n ander soort dividend, een, het ek besef, waarsonder ek ook nie wil wees nie.” 

Kortverhaal 7
Share this post with your friends
Tagged on:                 

Leave a Reply