Kortverhaal 8

Onverwags

Elsa Winckler

Dis seker nie dié meet-cute van meet-cutes nie, maar dit was cute. Of liewer, dit sóú cute gewees het as sy tien jaar jonger was. Skoon bewerig sak Tessa vinnig op haar sitplek langs die sypaadjie neer. ’n Ouerige man sit reeds in die hoek met sy koerant oop voor hom. Meet-cute wat haar sopas gehelp het om haar tas bo in die bagasieruim te sit, gaan sit so skuins voor haar, ook teen die paadjie. 

Donker hare. Seëgroen oë. Sy het net ’n breukdeel van ’n sekonde na hom gekyk, maar die presiese skakering van groen het registreer. 

Dis al Martine se gepraat oor jonger mans gisteraand wat haar vanoggend so laf maak. 

“Dis tyd om uit jou grot te kruip,” het haar jarelange vriendin, Martine ferm gesê. “Jou man het jou verruil vir ’n jonger nommertjie, maar dit beteken nie jy hoef op te hou lewe nie. Daar is lewe na egskeiding, glo my. Jy kan in elk geval net beter doen. Tim het dalk geld, maar hy is só boring, ek weet nie hoe jy dit met hom uitgehou het nie. Dis tyd om die waters te toets, Tessatjie. En dit hoef nie ou skottelgoedwater te wees nie, hoor? Helder, vars water is wat jy moet probeer. Gaan vir ’n jonger man, soos in sommer tien of vyftien jaar jonger as jy. Die mooiste liefdesverhale gebeur onverwags met iemand onverwags – wees te alle tye gereed daarvoor!”

Dit het nie gehelp om Martine daaraan te herinner sy wat Tessa is, het pas vyftig geword nie. 

Wel, die man wie se warm hand oor hare gevou het om haar met haar tas te help, is beslis nie ou skottelgoedwater nie. Inteendeel.

Haar wange raak sommer weer rooi. Sy buk vinnig en tel haar handsak op. Sal sy nou sit ek kwyl oor ’n man wat seker haar kind kon wees. Bea het ’n boodskap gestuur wat sy nog nie gelees het nie, sy haal haar foon uit. Haar meisiekind is elke drie weke op iemand anders verlief, sy het heelwaarskynlik iets te vertel oor ’n nuwe liefde. Die vreugde van jonkwees. 

Kom eet by my as Ma land? Ek het ’n verrassing J

Tessa glimlag. Sy weet klaar wat Bea se verrassing is – haar volgende liefde. Moenie sommer settle nie, raak gereeld verlief, was haar raad aan Bea na haar egskeiding. En dit lyk asof Bea haar letterlik opneem. Elke paar weke is daar ’n ander man wat haar meisiekind kortasem maak. Sy tik ’n boodskap.

Ek sien uit om hom te ontmoet.

Sy stuur die boodskap net toe daar ’n gewoel in die paadjie is. Tessa druk haar handsak onder die sitplek voor haar in. ’n Groot vrou kom waggelend die paadjie afgestap en stop langs haar. 

“Skuif op!” beveel sy vir Tessa ongeskik.

Tessa wil-wil haar vererg, sy het betyds haar plek bespreek, self bespreek. Op die internet. ’n Oorwinning vir haar. Maar vir konflik sien sy nie kans nie en sy buk om haar handsak op te tel sodat sy kan skuif. 

“Neem my sitplek.” 

Dis Meet-cute. En o, aarde, die man se warm whiskey-stem dop haar binnegoed heel om. Hy beduie vir die vrou waar sy sitplek is. Sonder om dankie te sê, waggel die vrou tot by sy sitplek en plons neer. 

Tessa hou haar handsak teen haar vas. 

“Mag ek?” vra Meet-cute met ’n skewe glimlag en beduie na die oop sitplek langs haar. 

“Dis oukei, ek kan skuif …” begin sy en staan op. Voor sy nog kan beweeg, glip hy voor haar verby en neem plaas op die middelste sitplek.

Die lugwaardin kom die paadjie afgestap en Tessa gaan sit. Verbouereerd soek sy na haar gordel. 

“Kom ek help,” sê Meet-cute en voor sy kan keer, klik hy die gordel vas en trek dit styf. “Nou’s jy veilig.”

Veilig? Nie die woord wat sy sou gebruik het nie. Die spul vlinders op haar maag is ’n duidelik aanduiding sy is alles behalwe ‘veilig’.

Die vliegtuig styg op, Meet-cute haal sy rekenaar uit en begin werk, sy ontspan baie effens en maak haar oë toe.

Sy is so bly sy het al haar moed bymekaar geskraap en tog maar die naweek by Martine in Johannesburg gaan kuier. Om self ’n vliegtuigkaartjie te bespreek, was traumaties, maar sy was so in haar skik toe sy dit maklik reggekry het 

Tim het gewoonlik hulle geldsake bestuur, sy sekretaresse het vliegtuigkaartjies bespreek en selfoon-aankope hanteer. Dit was regtig nie vir haar nodig om ’n rekenaar te hê nie, het Tim gereeld beduie. Dit was nou voor sy nuwe sekretaresse sy vrou geword het.

Die aanvanklike skok om skielik alleen te wees, het oor die afgelope jaar geleidelik in verligting verander. Martine is reg, Tim ís baie boring. En sy geniet die uitdaging om nuwe dinge aan te leer. Sy het deesdae selfs ’n rekenaar en ’n e-posadres. Sy kan Whatsapp en sy het self ook Telegram gekry op Bea se aanbeveling.

Langs haar beweeg Meet-cute en sy been druk teen hare. Haar oë vlieg oop en sy draai haar kop. Seegroen oë bekyk haar geamuseerd. 

“So jy slaap nie regtig nie?” vra hy.

Sy skud haar kop. 

“Ek het werk om te doen, maar ek het nie geweet ek gaan langs so ’n mooi vrou sit nie. Jy hinder my.” Sy grinnik maak haar lam tot in haar tone, dis ’n goeie ding sy sit.

“Ek is baie ouer as jy,” sê sy styf en haal die tydskrif wat in die sakkie voor haar gedruk is, uit. 

“Jy’s gorgeous en as jy dit nie weet nie, is dit baie hartseer. Ek weet nie hoe oud jy is nie en dit maak ook nie saak nie. Jy hinder my.” Hy draai terug na sy rekenaar en begin tik.

Tessa blaas haar asem stadig uit. Sy dink nie sy het al ooit in haar lewe ’n man ge-‘hinder’ nie. Die blote gedagte maak haar skoon lighoofdig. O, flip, dit gaan die langste twee ure van haar lewe wees.

***

Teen die tyd wat sy aan Bea se deur klop, het haar binnegoed darem effens tot bedaring gekom. Maar o, aarde, die uitdrukking in Meet-cute se seegroen oë, sal sy nie gou vergeet nie. 

Die deur vlieg oop. “Mamma!” roep Bea en slaan haar arms om haar. “Ek het na jou verlang. Ek hoor by Martine julle het so lekker gekuier en van alle dinge oor skottelgoedwater gesels,” giggel sy. Sy leun effens vooroor. “Ek het ’n verrassing vir jou,” fluister sy.

Tessa gee vir haar meisiekind ’n drukkie. Sy is so trots op haar. Bea het einde verlede jaar haar leerlingklerkskap by ’n prokureursfirma voltooi en is van die begin van die jaar af een van die senior prokureurs by die maatskappy. 

Hulle stap deur tot in die ruim woonkamer. Voor die groot vensters staan ’n donkerkop man en nog voor hy omdraai, registreer Tessa twee dinge: dis Meet-cute van die vliegtuig en die feit dat hy hier is, beteken net een ding – hy is die nuwe liefde in Bea se lewe. Haar maag en hart duik gesamentlik grond toe.

“Mamma, ontmoet vir Conrad. Conrad Viviers. Ons het mekaar in die hysbak ontmoet, hy het sy eie IT-maatskappy op een van die ander vloere in die gebou waar ons kantore ook is. Conrad, my ma, Tessa Viviers.”

Vandat Bea begin praat het, het die uitdrukking op sy gesig deur ’n hele paar veranderinge gegaan. Op die oomblik glimlag hy baie effens, maar daar is honderde vrae in sy oë. 

Die voordeurklokkie lui weer. 

“Net ’n oomblik. Conrad, skink asseblief solank vir my ma iets om te drink, sal jy?”

Conrad stap na die tafel waar twee bottels wyn en glase staan. “Tessa,” sê hy. “Ek het gewonder wat jou naam is. Dit pas by jou. Wat drink jy?” vra hy.

“Uhm …” Sy kyk na die bottels op die tafel, maar sy neem nie regtig in wat sy sien nie. Al waarvan sy bewus is, is Conrad se teenwoordigheid. Ten minste hoef sy nie meer aan hom te dink as ‘Meet-cute’ nie, hy’t nou ’n naam.

“Die rosé?” vra hy en tel die bottel op. “Ek het hierdie al gedrink – heerlik droog met note van rooswater, kiwi en lemoenbloeisels.”

Sy kan sien sy mond beweeg, maar sy neem hoegenaamd niks in wat hy sê nie. Haar oë het op sy mond vasgesteek en dis moeilik om aan enigsins logies te dink om te sê. Hoe sal dit wees om hom te soen? ’n Kreun glip amper uit. Liewe aarde, waaraan dínk sy?

Hy skink wyn in die een glas een gee dit vir haar. “En as jy langer so na my kyk, gaan ek geen keuse hê as om jou te soen nie.” 

Agter haar is voetstappe en Bea se vrolike lag. Verlig, draai Tessa om. Wat ’n situasie om in te wees. Sy het skoenlappers op haar maag en dit oor haar dogter se boyfriend! En erger nog – hy flirt met haar en hy is veronderstel om by Bea te wees. Iewers sal sy die moed bymekaar moet skraap om vir haar kind te sê wat gebeur het. 

Maar die dag het nog ’n skok. Bea is nie alleen nie. ’n Ander man, sy arm styf om Bea se lyf, stap saam met haar in. Bea se oë blink.

Wat op aarde …?

“Mamma, ontmoet vir Rick. Rick Schoeman. Rick, dis my ma, Tessa Viviers.”

Sonder om sy arm van Bea se skouers af te haal, groet Rick vir Tessa met ’n stywe handdruk.

“Hallo … Rick. Bea, uhm …wie is …?

“Mamma, Rick en ek … ons …” Bea se wange vlam rooi en laggend leun sy teen Rick skouer.

“Wat Bea sukkel om te sê,” lag Rick en soen haar, “is ons is bymekaar. Ek vrek oor jou dogter, Tessa. Mag ek maar Tessa sê? Jy is heeltemal te jonk vir ‘tannie’.”

Tessa kyk na Conrad en toe na Rick terwyl haar brein sukkel om al die deurmekaar kolletjies te verbind. As Rick en Tessa saam is, wat is Conrad van Bea?

“Mamma, kom help gou vir my in die kombuis,” sê Bea en hou haar hand uit.

Tessa gryp haar meisiekind se hand vas en stap saam met haar kombuis toe. “As Rick jou boyfriend is, wat is Conrad?” fluister sy. “Of date jy albei?”

Bea lag uit haar maag. “Mamma,” kry sy uiteindelik uit, “… jy’s so snaaks!”

Tessa vou haar arms om haarself. “Wat is so snaaks? Ek sit langs die man in die vliegtuig, hy … hy sê vir my allerhande goed … en toe’s hy hier. By jou. En ek aanvaar hy is jou boyfriend en …” 

Teen die tyd wat Tessa klaar is haar onsamehangende gebrabbel, is Bea se wenkbroue tot teen haar haarlyn opgetrek. “Back up. In die vliegtuig? Wil Mamma vir my sê julle het op die vliegtuig ontmoet? Vandag? En wat het hy vir jou gesê? Want jy het ’n …” Sy beduie met haar hande, “… glow om jou.”

“Ek het hom nie regtig ontmoet nie, maar …” Tessa gooi haar hand in die lug. “Hy het langs my op die vliegtuig beland.”

“En toe?” vra Bea, half uitasem.

“En toe niks nie.” Tessa lag moedeloos. “Hy kon my kind gewees het.”

“Hy is twee-en-veertig, my liewe Ma. Toe Martine vanoggend vir my laat weet julle het oor ou skottelgoedwater gesels, het ek dadelik geweet wie ek aan jou wil voorstel.”

“Jy is heeltemal laf, Bea. Ek is ’n ou vrou …”

“Jy’s gorgeous, ek het jou al gesê,” sê Conrad agter haar.

Vervaart draai sy om. “Conrad … dis heeltemal belaglik, ek weet wat Bea besiel het nie …”

“Ek neem solank die slaai in,” sê Bea, haar stem vol lag.

Skielik weet Tessa nie wat om met haar hande te maak nie. Maar dit maak nie saak nie, wat Conrad weet. Hy tel dit op in syne en trek haar nader. “Ons ken mekaar nie. Maar ek wil alles van jou af weet. Toe ek jou vanoggend sien, het ek hier …” Hy druk sy hand teen sy lyf, “… net geweet ons hoort bymekaar.” Terwyl hy praat, trek hy haar nader totdat sy styf teen hom staan, hulle monde sentimeters van mekaar af.

“Ek is geskei …” begin sy.

Sy kop buig stadig af. “Ek het ook bagasie.”

Warm lippe vou om hare en elke liewe beswaar wat sy gehad het, verdwyn in die niet. Hierdie man weet van soen. 

Hy lig sy kop. “En Tessa,” prewel hy teen haar mond. “Ek wil nooit weer sonder jou wees nie.”

Sy knik. Praat is nog nie moontlik nie.

Hy vat haar hand. “Kom ons hoor by Bea watter datum sal haar pas.”

“Datum?”

“Ek het jou gesê ek wil nooit weer sonder jou wees nie. Ek is miskien nie die eerste man wat liefgeraak het vir jou nie, maar ek wil die laaste een wees.”

Op wolke stap sy saam met hom terug na die woonkamer. Liefgeraak. Sommer so binne die bestek van ’n dag. Onverwags met iemand onverwags. 

Martine kry beslis die eerste uitnodiging.

Kortverhaal 8
Share this post with your friends

Leave a Reply