Kortverhaal

n Pakkie blou inkleurkryte

Elsa Winckler

“Uiteindelik,” glimlag Chloë. Haar drie vriendinne het opgedaag vir hulle weeklikse middagete-kuier. “Middagete is net vyf-en-veertig minute, onthou? Ek het al cappuccino bestel.”

“Emma het Pinterest ontdek, dis hoekom ons laat is. Sy stop elke paar minute om iets voor te lees,” glimlag Liné. “En anders as die meeste ander thirty somethings, soek sy nie na die nuutste modes nie, maar na corny sêgoed oor die liefde. 

“Luister hier,” sug Emma en druk haar hand teen haar hart, “Kiss me like you don’t need air, hold me like you can’t let go.”

Chloë kreun. “Watter man sal nou ooit so iets sê? Ek bedoel, seriously? Miskien na ’n paar biere en dan ook net om snaaks te wees, maar ken julle mans wat sulke goed sê? Kom ons wees nou maar eerlik, mans weet nie meer hoe om romanties te wees nie.”

“Jy’s baie sinies, Chloë,” sê Megan. “Ek aanvaar gisteraand se date was ook …”

“… so vol van homself en sy kwalifikasies, hy het nie nog tyd gehad vir gewone ordentlikheid nie,” sê Chloë. “Hy het op ’n stadium net verdwyn, gaan rugby kyk by die kroegtoonbank.”

“So jy is weer met Uber huis toe?” lag Liné.

“Uber praat ten minste nie heeltyd oor homself nie,” sê Chloë grimmig. “Romanse, my liewe vriendinne, is morsdood.” Sy beduie na Emma se foon. “Die belaglike gediggies/woorde/versies wat daagliks op sosiale media platforms verskyn, is ’n outydse konsep wat ’n mens nog net in liefdesverhale kry. Ja, mans wil jou hê, maar móénie rose en kerse verwag nie.” Sy onthou haar voorlaaste date. “Oukei, miskien kerse – hy kan, het ek gesien, weliswaar ’n braaivleisvuur daarmee aansteek.”

“Dis tog lekker om te droom,” sê Megan. “Hoe hou jy van I wanna spend the rest of my sunsets with you? En luister hier. As ’n man dít vir my sê, loop ek agter hom aan: ‘I’ll never finish falling in love with you.’ Chloë, Vriendin, ek hoor wat jy sê, maar daar moet êrens nog romantiese mans wees.” Sy sug. “Dalk nie noodwendig in Kaapstad nie, maar iewers, ek wil dit graag glo.”

“Luister na dié ene, Chloë,” sê Liné, dik van die lag. “You are my blue crayon, the one I never have enough of, the one I use to colour my sky.”

Emma kry sowaar trane in haar oë. Geïrriteerd, gluur Chloë haar aan. “As jy huil, betaal ek nie vir jou cappuccino nie.”

“Sies vir jou,” snuif Emma. “Megan is reg, dis tog moontlik dat ’n man bestaan wat so iets vir een van ons sal sê en dit bedoel. Daar is mooi stories daarbuite van mense wat mekaar ontmoet en lank en …”

“… ongelukkig saamleef,” brom Chloë. 

“Jou ouers is al lank en gelukkig getroud, nie waar nie?” vra Emma.

Chloë knik. “Dis omdat my pa nog steeds romanties is, maar helaas, dit het heeltemal uitgesterf,” sê Chloë. “Vandag se mans praat eerder oor hulle velsorgmiddels voor hulle soetsappighede in jou oor fluister.”

Emma leun vorentoe. “Jy kan darem nie alle mans oor dieselfde kam kan skeer nie. Oukei, jou laaste twee dates was minder aangenaam, maar is jou standaarde nie ’n bietjie hoog nie?”

“Te hoog? Ek dink nie so nie. Maak my die hof, stuur vir my blomme, fluister mooi dinge in my oor – dis darem nie te veel gevra nie, of hoe? As dit beteken my standaarde is te hoog, bly ek eerder sonder ’n man.”

“Gepraat van mans,” sê Liné, “ek hoor daar is nou so ’n sexy besturende direkteur by jou werkplek? Glo ’n lus vir die oog. Donker, lank …”

Chloë skuif ongemaklik rond. Oor Marko Koch, die nuwe besturende direkteur van die ouditeursfirma waar sy administratiewe hoof is, wil sy liewer glad nie praat nie. Vandat hy vier maande gelede sy nuwe pos begin het, hinder die man haar. Daar is iets in sy oë wat haar heeltemal bewerig maak, nie ’n gevoel wat sy ken nie en nie ’n gevoel wat sy vertrou nie. “Hy’s ’n man. Dis vir my genoeg rede om sover as moontlik uit sy pad te bly.”

“Luister hier,” sê Megan. Sy maak haar stem sag en gevoelvol: “The best kiss is the one that has been exchanges a thousand times between the eyes before it reaches the lips. Dis baie waar, né?”

Choë lig haar cappuccino met albei hande op terwyl sy drink. Hopelik merk nie een van die drie haar rooi wange op nie. Is dít wat Marko se oë probeer sê – hy wil haar soen? Sy stik amper en sit haar koppie neer. Dis al die simpel sêgoed wat haar aan sulke belaglikhede laat dink – dit onderstreep net haar argument.

Emma kyk op haar horlosie en staan op. “Ek moet hardloop, ek sien ’n kliënt oor ’n paar minute. Selle tyd volgende week?”

“Asseblief, ek sien elke week so uit na hierdie kuiers,” sê Megan terwyl sy en Liné ook opstaan. ‘En wie weet, dalk ontmoet een van ons dié week ’n regte, egte romantiese held.”

“Ek hou nie my asem op nie,” roep Chloë agter hulle aan. Dis haar week om te betaal en sy lig haar hand vir die kelner. Terwyl sy wag, staan sy op en kyk in die koffiewinkel rond. So skuins agter hulle tafel sit ’n donkerkop man.

Dis mos … Dit kan nie wees nie. Haar wange vlam bloedrooi en sy draai vervaard om. Sy druk hopeloos te veel geld in die verbaasde kelner se hand en stap by die winkel uit. 

Marko Koch was die hele tyd ook in die koffiewinkel.

Sy is lam tot in haar tone. Kon hy hoor wat hulle sê? Die tafels is taamlik na aan mekaar. Die kanse is baie goed hy het hulle gesprek woordeliks gevolg. Kan die aarde asseblief oopgaan en haar heel insluk? 

Moet sy iets vir hom sê? Met ’n kreun glip sy by die kantoor in. Gelukkig het sy vanmiddag ’n vergadering met die leerklerke, een wat haar die hele middag agter ’n toe deur sal hou. 

Teen die tyd wat die laaste leerklerk uitstap, is Chloë ’n wrak. Sy het skaars met die vergadering begin, toe Marko instap en homself teen die oorkantste muur tuismaak. Hy het nie ’n woord gesê nie, net die hele tyd na haar gekyk. 

Wat alles uit haar mond gekom het, weet sy regtig nie, maar te oordeel aan die geamuseerde kyke van die leerklerke, was sy nie baie samehangend nie. 

Sonder om in sy rigting te kyk, maak sy haar goed bymekaar en stap deur toe, haar enigste gedagte om so gou en so ver as moontlik van Marko af weg te kom. Hy is egter reeds by die deur en druk dit toe voor sy kan uitstap. 

Gereed om hom in te vlieg, draai sy om net om uit te vind hy staan baie, baie naby aan haar. As sy wil, kan sy padgee. Sy kan omdraai, die deur oopmaak en uitstap en sy weet hy sal haar nie keer nie. Maar sy blou oë hou haar gevange.

Hy sit sy hande in sy broeksakke en buk vorentoe sodat sy mond by haar oor is. “Ek wonder al vier maande lank hoe ek deur jou skanse gaan breek, toe volg ek jou koffiewinkel toe. Nou weet ek. Ek kan vir jou sê vandat ek jou die eerste keer gesien het, droom ek oor jou, ek kan vir jou sê ek wil die res van my sonsondergange by jou wees, ek kan vir jou sê jy is my blou inkleurkryt, die een waarmee ek die lug inkleur, alhoewel ek nooit binne die lyne inkleur nie, ek kan vir jou sê ek sal nooit ophou verlief raak op jou nie en ek kan vir jou sê om jou te soen, is al waaraan ek dink wanneer ek na jou kyk. Ek kan ook vir jou sê ek wil jou soen totdat jy nie meer suurstof nodig het nie en ek wil jou vashou omdat ek jou nooit weer wil laat gaan nie, maar,” sê en lig sy kop, “ek het nog altyd gedink ’n pratery is ietwat overrated, ek sal jou baie eerder wil wys. Vanaand half sewe?”

Haar asem en haar woorde het in haar keel vasgesteek en elke liewe een van haar vooropgestelde idees vlieg by die venster uit. Sy knik, die enigste aksie waartoe sy op hierdie oomblik in staat is.

Sy glimlag verhelder die hele vertrek en voor sy kan asemskep, soen hy haar. Sy mond is ferm en warm en vol heerlike beloftes, presies soos sy oë al maande lank belowe. Net voor hy uitstap, druk hy druk iets in haar hand. Verdwaas kyk sy af. 

Dis ’n pakkie inkleurpotlode – almal blou.

Toe sy minute later op wankelrige bene terugstap kantoor toe, weet sy twee dinge, twee dinge wat sy volgende week met haar pelle kan deel: ’n gepratery is inderdaad heeltemal overrated en romanse is nog glad nie dood nie. 

’n Pakkie blou inkleurkryte het dit sopas bevestig. 

Kortverhaal
Share this post with your friends

Leave a Reply