Proloog – Omdat ons saam is

(Daar was nie plek vir die proloog van Omdat ons saam is nie, so ek plaas dit hier – lekker lees!) Elsa

Dertien jaar gelede

Wian sit met sy hande op die stuurwiel van sy ou Vollatjie. Hy het in die garage parkeer, maar hy kan nog nie uitklim nie. Hy staar na die tien SMS’e op sy foon, almal van sy broers. Daar is vyf van Alec, drie van Reinier en twee van Conrad. 

Binne sekondes gaan hulle drie vanaf die kombuis uitstorm en hulle gaan wil weet wat sê die prokureur en waar is tannie Barbara. En wat de hel sê hy vir hulle? Ons liewe tante het ’n dobbelprobleem en sy is landuit met al die geld wat Pa en Ma vir ons in die trustrekening agtergelaat het?

Alec is tweedejaar medies, Reinier is in matriek, hy maar begin ook volgende jaar medies swot en Conrad is maar vyftien. Vir ’n oomblik dam trane agter in Wian se oë op, maar hy vee dit vinnig weg.

Om te huil, help net mooi niks nie. Dit het hy twee jaar gelede besef toe albei hulle ouers in ’n motorongeluk dood is. Maar het die prokureur toe beduie, daar is genoeg geld vir almal se studies, genoeg om die huis in stand te hou en hulle ma se ongetroude suster, tannie Barbara was so vriendelik en gaaf om in te stem om na hulle te kom kyk.

Fronsend wag hy vir die garagedeur om agter hom toe te gaan. Pa het nooit baie van Ma se suster gehou nie en hy het ook nie ’n geheim daarvan gemaak nie. Hulle het haar nie baie gesien nie, maar ’n dag na die verskriklike nuus van hulle ouers se dood, het sy by die huis opgedaag met twee groot tasse klere en in Pa en Ma se kamer ingetrek. Sy was die ene smiles.

Nie hy of Alec of Reinier of Conrad was vreeslik opgewonde daaroor nie, maar hy kon ook nie aan ’n ander oplossing dink nie. Hy was in Potch besig om sy graad in Aptekerswese klaar te maak en ten minste was daar iemand wat ’n oog kon hou oor Reinier en Conrad terwyl hulle op skool is. Alec het naweke huis toe gekom van Tygerberg af en hy wat Wian is, kon universiteitsvakansies huis toe kom. 

Aanvanklik het tannie Barbara gehelp. Maar na ’n paar maande het hy begin agterkom sy is selde by die huis. Sy het ’n huishoudster aangestel om kos te maak en die huis te hou terwyl sy, hoor hy nou by die prokureur, die geld wat vir hulle bedoel was, gebruik het om haar dobbelgewoonte te finansier. Wat sy nie uitgemors het nie, het sy geleidelik na haar eie bankrekening oorgeskuif het en toe het sy verdwyn.

Die kombuisdeur vlieg oop, sy broers kom stadig nader. Alec is voor, agter hom Reinier en in die deur bly Conrad staan.

“En?” vra Alec. “Wat sê die prokureur? Waar is tannie Barbara?”

“Ek sal nie spyt was as sy nie weer terugkom nie,” sê Reinier.

Conrad sê nie iets nie, sy oë raak net donkerder.

“Kom ons gaan in, ons het baie om oor te praat.” Wian stap voor hulle verby tot in die kombuis en gaan sit by die tafel. Alec en Reinier trek stoele uit, maar Conrad bly staan stroef in die deur.

“Conrad, kom sit,” sê Wian en trek vir hom ’n stoel uit.

“Gaan jy my wegstuur?” vra Conrad.

Wian wil hom vererg, maar toe hy vinnig opkyk, sien hy die effense bewing van Conrad se onderlip raak. Hy beduie weer na die stoel. “Kom sit,” sê hy heelwat sagter. “Ons moet planne maak, maar ek belowe jou, ons stuur niemand weg nie. Wie is ons nou weer?” vra hy met ’n sweem van ’n glimlag.

“Die vier muskateers,” prewel Conrad en gaan sit op die punt van die stoel.

Wian sit sy hand op Conrad se skouer. “Presies. Een vir almal en almal vir een. Ons gaan mekaar help.” Hy trek sy asem in voor hy vir sy broers so onemosioneel soos wat hy kan, vertel hoekom die krag afgesit is en die water afgesny is, hoekom rekeninge nie betaal is nie en waar tannie Barbara is. 

Sy broers staar hom minute lank verstom aan.

“Ek het nie geweet sy dobbel nie. Nou verstaan ek hoekom Pa so opgewerk geraak het as sy by Ma wou geld leen. Kan ons nie iets aan haar doen nie?” vra Alec. “’n Saak maak of iets?”

“Dit was die prokureur se voorstel ook, maar tant Barbara is landuit en ek voel ons moet aanbeweeg. Vir lang, uitgerekte hofsake het ons in elk geval nie geld nie.”

“Wat van ons studies?” vra Alec, nou taamlik bleek.

“Sy kon gelukkig nie aan die geld daarvoor raak nie, dis in ’n aparte rekening. Maar ons sal moet planne maak om aan die lewe te bly. Ek locum gelukkig nog vir res van die maand hier op Stellenbosch. Dit sal my genoeg kans gee om ’n permanente werk te kry. Dit gaan knor, maar ons kan dit maak werk.”

“Wat van die werk in London?” vra Aec.

Wian skud sy kop. Hy oorweeg ’n aanbod van ’n groot farmaseutiese maatskappy in London, maar dit sal nie op die oomblik kan werk nie. “Nee wat. Wanneer julle klaar geswot het, kan ek weer daarna kyk.”

“Ons sal almal help,” sê Alec. 

“Julle studies is prioriteit, maar ja, dit sal help as julle julle eie sakgeld kan verdien, ek sal sorg vir kos op die tafel. En …” Hy laat gly sy oë oor sy drie broers, “… laat hierdie vir ons almal ’n les wees. Ons vertrou mekaar, maar niemand anders daar buite nie.”

“Sy het al ma se goed ook ingepak,” sê Conrad.

“Wat se goed?” vra Alec.

“Alles. Ma se kas is leeg,” antwoord Conrad.

“Ma se juweliersware ook?” vra Reinier. “Sy het nog …” Hy sluk. “Haar ringe …?”

Wian sit ’n hand op sy skouer. Vir ’n oomblik is hulle almal stil. Hulle ma het kort voor hulle ouers se dood vir hulle gewys watter van haar ringe hulle elkeen eendag gaan kry om vir hulle aanstaande bruide te gee. “Ek sal gaan soek. Dalk het Ma dit op ’n ander plek gebêre.” Hy twyfel, haar juwele was maar altyd in die kissie op haar spieëlkas, maar dit hoef sy broers nie nou te weet nie.

“Wel, ek is in elk geval nie van plan om ooit te trou nie,” sê Wian na ’n rukkie. 

“Ja, hoe weet ’n mens jy is nie met nog ’n flippen Barbara deurmekaar nie?” vra Reinier.

Alec is die eerste een wat begin lag. Binne oomblikke skater hulle almal. Dis miskien eerder ’n half histeriese lag, maar ten minste sit en huil sy drie broers nie. Hierdeur sal hulle ook kom. 

Proloog – Omdat ons saam is
Share this post with your friends
Tagged on:                 

Leave a Reply