{"id":1742,"date":"2022-02-08T08:14:57","date_gmt":"2022-02-08T06:14:57","guid":{"rendered":"https:\/\/elsawinckler.com\/?p=1742"},"modified":"2022-02-08T08:38:09","modified_gmt":"2022-02-08T06:38:09","slug":"kortverhaal-5","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/elsawinckler.com\/?p=1742","title":{"rendered":"Kortverhaal 5"},"content":{"rendered":"\n<p><strong>Die moeilikheid met Pi\u00f1a Coladas<\/strong><\/p>\n\n\n\n<p>Elsa Winckler<\/p>\n\n\n\n<p>Een<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk het jou ges\u00ea Gerrit Bos se o\u00eb sit te na aan mekaar,\u201d s\u00ea Brenna voor sy die kelner weer \u2019n keer nader wink.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk kan nie glo hy\u2019t jou ontwerp gesteel en as sy eie aan jou baas voorgel\u00ea nie. En dit terwyl hy maak asof hy belangstel in jou. As ek hom darem in die hande kry \u2026\u201d dreig Ellen.<\/p>\n\n\n\n<p>Mientjie kan nie eens glimlag vir die idee dat die fyne Ellen dink sy kan iets aan Gerrit doen nie; sy\u2019s net te kwaad. Kwaad omdat sy haar laat flous het deur die man se bre\u00eb glimlag; kwaad omdat sy so na\u00efef was om te dink hy stel werklik in haar as mens belang, en absoluut woedend omdat hy nie dink hy hoef verskoning te vra nadat hy haar idee vir \u2019n nuwe logo vir een van hulle groot kli\u00ebnte gesteel het nie. Stommerik wat sy was, het sy dit vir hom so maklik gemaak \u2013 sy het dit ewe vir hom gewys.<\/p>\n\n\n\n<p>Sy neem \u2019n lang sluk deur die strooitjie van haar pi\u00f1a colada en beduie vir Brenna sy wil nog een h\u00ea. \u201cNie net het hy my idee gesteel nie, hy het ook die bevordering gekry wat myne is. Myne!\u201d&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Dis Donderdag, amper naweek, en almal in die besige kuierplek in die hartjie van Kaapstad is meer luidrugtig as gewoonlik, so niemand sal hulle aan haar uitbarsting steur nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk dink net nie jy moes sommer bedank het nie; hoekom het jy nie eerder net vir jou baas ges\u00ea dis j\u00f3\u00fa ontwerp nie?\u201d vra Sunette.<\/p>\n\n\n\n<p>Mientjie trek die naalde uit haar bolla wat styf op haar kop vasgemaak is en skud haar hare los. \u201cGmf, wie dink jy gaan hy glo? Nee, wat. Die klomp mans het mos hulle eie klub. Ek moes net eenvoudig bedank; daar\u2019s nie \u2019n manier dat ek weer saam met daai vent kan werk nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMaar wat gaan jy nou doen?\u201d vra Brenna. Altyd die praktiese een.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cAnnie, my kleinsus, trou Saterdag. Ek sou in elk geval m\u00f4re na werk gery het; nou kan ek vroe\u00ebr ry.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDit was darem alles baie skielik. Het sy nie maar nou die dag die man ontmoet nie?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDrie maande gelede,\u201d antwoord Mientjie. \u201cHulle het iewers letterlik in mekaar vasgeloop en volgens haar, het sy dadelik geweet Eben is haar trouman.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWaar is die troue nou weer?\u201d vra Sunette. \u201cIewers in die boendoes?\u201d&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cIewers in die Cederberge. Dalk bly ek sommer \u2019n paar dae langer.\u201d Mientjie gooi haar hande in die lug. \u201cEk het tyd. Vir die eerste keer vandat ek begin werk het, sal ek actually tyd h\u00ea vir myself.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Die kelner bring \u2019n skinkbord met nog pi\u00f1a coladas vir elkeen. \u201cBring asseblief nog \u2019n rondte?\u201d vra Mientjie terwyl sy haar glas by hom neem.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDie moeilikheid met pi\u00f1a coladas is, dit smaak soos koeldrank, \u201d begin Ellen en Mientjie sien hoe sy onderlangs na hulle ander twee vriendinne loer. \u201cEn \u2019n mens doen dalk net dinge wat jy nie m\u00f3\u00e9s gedoen het nie. Dink nie jy moet stadig nie? Jy drink mos nie eintlik nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cPresies. Ek is die goody two shoes. Ek drink nie, ek slaap nie rond nie, oukei, behalwe daai een keer, en ek doen my werk. En kyk wat het gebeur?! Mense loop sommer bo-oor my. Nee wat, dis tyd dat ek die lewe met albei hande aangryp.\u201d Sy beduie met haar hande voor sy weer aan haar strooitjie suig. \u201cEk het klaar besluit. Die eerste man wat vanaand in my rigting kyk, vat ek huis toe.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Brenna stik in haar pi\u00f1a colada, Sunette giggel en Ellen se o\u00eb rek.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cSeriously?\u201d kry Ellen uit.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cSeriously.\u201d Mientjie draai om in haar stoel en kyk rond in die gepakte vertrek. \u201cHelp my na \u2019n kandidaat soek. Een met sulke ek-wil-jou-opeet o\u00eb.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMoenie laf wees nie, Mientjie,\u201d raas Brenna. \u201cDis nie in jou aard om rond te slaap nie. In di\u00e9 tyd en dae kan jy nie sommer enige javel optel en huis toe vat nie, jy is s\u00f3 nie die one-night stand tipe nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDis die pi\u00f1a coladas wat praat,\u201d giggel Ellen.<\/p>\n\n\n\n<p>Sunette grinnik en beduie met haar o\u00eb na regs. \u201cWel, hier langs ons sit \u2019n paar manne wat almal drop-dead gorgeous is, maar daar is een wat nog nie sy o\u00eb van jou kon afhaal nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWaar?\u201d vra Mientjie en draai haar kop in die rigting wat Sunette beduie. \u2019n Paar pers-blou o\u00eb sluk haar feitlik in. Om haar raak dit doodstil. Gehipnotiseer gly haar o\u00eb oor die man se vierkantige kakebeen, af teen sy nek tot waar gespierde boarms styf pas in \u2019n wit hemp. Sy das is losgetrek, die boonste knoop oopgelos. \u2019n Paar slierte van sy inkswart hare val oor sy voorkop tot teenaan sy digte wenkbroue.<\/p>\n\n\n\n<p>Haar binnegoed word omgedolwe. \u2019n Versengende hitte versprei binne sekondes deur haar lyf en dreig om haar te verswelg. Asemhaling is feitlik onmoontlik.<\/p>\n\n\n\n<p>Sonder om sy o\u00eb van haar af te haal, staan hy op, gooi geld op die tafel en begin in haar rigting beweeg.<\/p>\n\n\n\n<p>***<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEn nou?\u201d roep Lafras agter hom, maar Tiaan haal sy o\u00eb nie van die blondekop af nie. \u201cWaarnatoe gaan jy? Ons is nog besig om ons planne vir die naweek te finaliseer,\u201d probeer sy broer weer sy aandag kry.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk het gedink hy\u2019s nog dikbek oor die laaste girl wat hom vir \u2019n Italianer gelos het,\u201d lag Marnus.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWel, hy\u2019s duidelik oor haar,\u201d s\u00ea Reinier. \u201cOns het mos klaar gepraat oor wie wat saamneem. Ons sien Tiaan hopelik m\u00f4re by die werk. Hy is darem een van die strooijonkers by Saterdag se troue; hopelik sal hy nie daarvan vergeet nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Maar Tiaan steur hom nie aan sy broers nie. Hy het die blondekop en haar vriendinne raakgesien toe hulle instap. Al vier vrouens is aantreklik en sexy, maar daar was net iets in die gloed op die blondine se wange, en die manier waarop sy haar ken hou, wat dit moeilik gemaak het om weg te kyk. Duidelik is sy ontsteld oor iets.<\/p>\n\n\n\n<p>Dit was erg genoeg om haar dop te hou terwyl sy aan haar strooitjie suig, maar toe sy haar hare losmaak en haar goue lokke oor haar skouers val, het begeerte se vuishou hom op die krop van sy maag getref. Heeltemal onverwags. Hy hou van vrouens, weet wat begeerte is, maar wat hy n\u00f3\u00fa voel, is \u2019n eerste.<\/p>\n\n\n\n<p>Hy het die pi\u00f1a coladas wat sy verorber het, getel. Drie glase. Die tafels in die kuierplek is naby mekaar en dit was nie moeilik om te hoor waaroor die vrouens gesels nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Die rede vir haar ontsteltenis het gou duidelik geword, maar dit was toe sy begin rondkyk vir iemand wat sy kan \u201chuis toe vat\u201d, soos sy dit gestel het, dat hy net eenvoudig moes opstaan en sy hulp aanbied.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Hulle ma het hulle mooi grootgemaak om te help waar hulle kan en met \u2019n one-night stand k\u00e1n hy help. Om die waarheid te s\u00ea: hy verkies dit. En in hierdie geval hoef hy nie eens vooraf te probeer verduidelik dis net een nag nie \u2013 dis presies waarna di\u00e9 girl soek.<\/p>\n\n\n\n<p>Trou en kinders grootmaak is nie deel van sy toekomsplanne nie. Sy eie ouers is geskei toe hy en sy broers in die ho\u00ebrskool was en waardeur hulle is, wens hy niemand toe nie; ver\u00e1l nie sy eie kind nie.&nbsp;&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>So, as hy die girl vir een aand kan uithelp, doen hy dit graag. En om die een of ander rede is die idee van haar saam met \u2019n ander man, glad nie iets waaraan hy wil dink nie. Sy\u2019s beautiful, sexy en &#8230;<\/p>\n\n\n\n<p>Sy staan op, haar o\u00eb op hom. Onder haar kort, wye rompie flits \u2019n paar sexy, bruingebrande bene. \u2019n Ligblou T-hemp pas styf om haar bolyf, maar dis die stywe puntjies wat teen die sagte materiaal beur, wat sy aandag vasvang.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Begeerte hang swaar in die lug om hulle.<\/p>\n\n\n\n<p>Met nog een tree, is hy by haar. \u201cTiaan.\u201d Dis nie die tyd vir lang sinne nie.<\/p>\n\n\n\n<p>\u2019n Pienk tong glip oor haar onderste lip, sy keel trek toe. \u201cMientjie.\u201d Haar stem is hees.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWaar bly jy?\u201d Hy vleg sy vingers met hare.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cGroenpunt.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk is nader. My motor is in die parkeergarage langsaan.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cOukei.\u201d Sy glimlag. Sy mond word kurkdroog.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cOukei,\u201d kry hy uit voor hy vinnig in die rigting van die deur beweeg.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Twee<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan het sy hand op haar bobeen gesit en waar sy vel aan hare raak, gloei dit soos \u2019n kool vuur. Rukkerig probeer sy asem skep. Dis \u2019n wonderwerk sy het nog nie in vlamme uitgeslaan nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Nie een van hulle twee het weer \u2019n woord ges\u00ea vandat hy uit die stad weggery het nie. Al wat hoorbaar is in die beperkte ruimte van sy sportmotor, is albei se onre\u00eblmatige asemhalings.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan. Sy naam is letterlik al wat sy van hom weet. Die moeilikheid met pi\u00f1a coladas is nie net dat dit soos koeldrank smaak nie; dit maak haar ook heerlik onbevange. Sy is glad nie op haar senuwees nie. Inteendeel.<\/p>\n\n\n\n<p>Sy is opgewonde. Dis asof sy haar hele lewe vir hierdie oomblik wag. Vir hierdie hitte, hierdie intensiteit, hierdie emosies. En dis net by hom moontlik. Sy het nog nooit so gevoel nie en sy weet sy gaan nooit weer s\u00f3 intens begeer nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Dis nie asof sy by die huis sit en wag vir \u2019n ridder op \u2019n wit perd nie, sy gaan uit, maar sy het al begin dink sy is miskien maar een van daai koue vrouens waarvan \u2019n mens soms hoor. Geen man kon al die vlammetjie in haar binneste aansteek soos wat vanaand gebeur het nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Die kanse dat sy hierdie man ooit weer gaan sien, is nul en dis ook oukei. Want g\u2019n mens kan s\u00f3 begeer vir \u2019n leeftyd lank nie;, sulke intense gevoelens sal \u2019n mens vernietig. Sy glimlag. Maar eendag sal sy vir haar kleinkinders kan vertel bandelose passie bestaan wel en dat \u2019n mens jouself een nag daarvan mag gun.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEn di\u00e9 glimlag?\u201d vra hy.<\/p>\n\n\n\n<p>Sy skud haar kop. \u201cEk het nie geweet dis moontlik om so &#8230; so &#8230;\u201d&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201c&#8230; intens te begeer nie?\u201d Sy hand gly hoog teen haar been op en stop teen haar hitte.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Mientjie snak na haar asem en gryp sy hand vas. Sy vingers vou krampagtig om hare, die motor skiet vorentoe. Binne minute draai hy by \u2019n oprit in. \u2019n Hek gaan oop en hy ry tot binne.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Sy het geen idee waar in die Kaap hulle is nie, sy het nie na die pad gekyk nie, en sy gee regtig ook nie om nie. Al wat sy op hierdie stadium weet, is dat sy hierdie man so gou as moontlik uit sy klere wil kry.<\/p>\n\n\n\n<p>Voor die motor nog behoorlik stilhou, spring sy uit. Haar hele lyf ruk soos iemand wat koorsig is.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan rek sy tre\u00eb om die motor, vat haar hand in syne, en stap tot by die voordeur. Hy probeer die deur oopsluit, die sleutel val, hy swets. Sy giggel.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cJy dink dis snaaks?\u201d Sy o\u00eb glim in die half-lig van \u0149 straatlamp.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cKom ek probeer?\u201d vra sy.<\/p>\n\n\n\n<p>Hy gee vir haar die sleutel. Terwyl sy buk om die sleutel in die slot te sit, is hy agter haar. Groot, warm hande vou om haar heupe. Die sleutel val. Hy buk eerste, tel die sleutel op di\u00e9 keer sluit hy die deur oop.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Haastig stap sy voor hom in. Sy hoor hom die deur agter haar sluit. \u2019n Leeslamp is die enigste lig in die vertrek. Skielik is dit doodstil. Die stad se geluide is \u2019n veraf gedreun, elkeen van haar sintuie is ingestel op die man agter haar.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Niemand het nog ooit presies s\u00f3 na haar gekyk nie. Dis opwindend, verterend \u00e9n \u2019n klein bietjie vreesaanjaend. Hy gee \u2019n tree nader en toe is sy in sy arms.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cIs jy seker?\u201d prewel hy terwyl sy mond teen haar gesig afgly. \u201cEk sal jou enige tyd terugvat. Dit sal heelwaarskynlik my einde beteken, maar ek sal dit doen.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDie moeilikheid met pi\u00f1a coladas, hoor ek,\u201d begin sy en vou haar hande om sy nek, \u201cis dit smaak soos koeldrank. Ek het dalk te veel gedrink, want ek kan aan geen ander plek dink waar ek wil wees nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>En toe soen hy haar. Honger, passievol, intens. Sy het beslis vantevore haar tyd met ander soene gemors. Hierdie man k\u00e1n soen. En die manier waarop hy na haar kyk, is ook \u2019n eerste. So asof hy nie kan glo sy is hier by hom nie; asof hy haar r\u00e9gtig begeer. Maar meer as enigiets is sy verstom oor die gevoelens wat hy in haar wakker maak.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Haar hande gly oor sy borskas, maar eintlik wil sy sonder enige belemmering aan sy lyf vat. Haar rustelose vingers sukkel met die hemp se knope. Hy swets onderlangse, pluk sy hemp oor sy kop. Tevrede sug sy en sprei haar hande oor sy gespierde borskas. Sy vel is warm, sy hartklop onre\u00eblmatig. Soos hare.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cLaaste kans,\u201d prewel hy.<\/p>\n\n\n\n<p>Sy kan net knik. Praat is heeltemal onmoontlik. Met een beweging tel hy haar in sy arms op en begin stap. Hiervan hou sy. Sy kaal bolyf is sommer hier by haar mond, sy kan net haar kop draai. Haar tong volg dieselfde pad waar haar hande netnou was.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie,\u201d kreun hy voor hy haar teen hom laat afgly. Sy warm hande beland op haar heupe, trek haar styf teen hom vas; styf genoeg sodat sy presies kan voel hoe hy haar begeer.<\/p>\n\n\n\n<p>\u2019n Glimlag speel om sy mond. \u201cEk is so vandat ek jou vanaand sien instap het. En daai flippen strooitjie waaraan jy gesuig het &#8230;\u201d Dringende vingers glip onder haar T-hemp in en hy lig dit oor haar kop.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Sy o\u00eb sak af tot by haar bloedrooi satyn-en-kant bra. Sy moet tog onthou om vir haar ma dankie te s\u00ea dat sy haar geleer het om altyd mooi onderklere te koop.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Toe hy weer opkyk, is sy o\u00eb amper swart. \u201cJy\u2019s s\u00f3, s\u00f3 sexy,\u201d prewel hy. Sy hand gly oor die ronding wat bokant haar bra uitsteek. Hy het nog nie regtig aan haar gevat nie, maar sy wil in vlamme uitbars.<\/p>\n\n\n\n<p>Nog nooit het sy aan haarself as sexy gedink nie, maar op hierdie oomblik voel sy sensueel en sexy.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Hy buk af terwyl hy \u2019n tree nader gee. Agter haar wag die bed. Vir \u2019n oomblik vou paniek om haar keel, maar sy mond vang hare vas en saam syg hulle op die bed neer. Groot hande gly liefkosend oor haar lyf en die angstigheid maak plek vir \u2019n nuwe vlaag passie. Hiervan gaan sy nooit genoeg kry nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Die moeilikheid met pi\u00f1a coladas is ook dat sy hoegenaamd geen inhibisies het nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Haar hande gly deur sy hare, haar lyf buig sonder instruksie op na hom toe. Sy mond gly oor haar gesig, sentimeter vir sentimeter, af teen haar nek. Gefrustreerd haak sy haar been om syne. Sy mond is nog nie waar sy dit wil h\u00ea nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Hy lig sy kop en grinnik voor hy sy mond om een harde puntjie vou. Die kreun wat vanuit \u2019n diep plek binne haar uitglip, kan sy op geen manier keer nie. Golwe lyflike genot spoel oor haar. Is dit moontlik om dood te gaan hiervan? Op hierdie oomblik klink dit glad nie vergesog nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Dit was die kreungeluid uit haar keel. Begeerte was nog die hele tyd daar, gloeiend op die oppervlakte, maar die gebroke geluid verander die atmosfeer binne sekondes na \u2019n intense, desperate hitte.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Terwyl sy mond elke bors liefkoos, gly sy hande om haar lang, soepel bene te bemin. Haar spiere span styf, haar vel sidder. Rusteloos beweeg haar hele lyf onder hom.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Haar geur maak hom mal, hits hom aan om haar te verorber. Maar met inspanning katrol hy homself in. Want hy weet, wanneer hy die leisels laat los, word beide van hulle verteer.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Ongeduldig, pluk hy aan haar romp. Sy help hom. Sy hart struikel. Die bloedrooi piepklein driehoekie laat hom omtrent kwyl. Hy lig homself op, skop sy broek uit. Haar o\u00eb rek.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Binne sekondes is hy weer by haar en vind sy hand uiteindelik haar hitte. Haar lyf ruk boontoe, \u2019n kermgeluid glip oor haar lippe terwyl haar hand om hom vou.<\/p>\n\n\n\n<p>Deur die waas van begeerte voel sy hoe sy beheer toeneem. Sy mond wat weer om \u2019n bors vou, is meer desperaat, sy vingers wat haar kern bo-oor satyn liefkoos, rukkerig. Hy klop warm in haar hand; sy wil seker maak hy ervaar net soveel genot soos sy, maar sy liefkosing dryf haar meedo\u00ebnloos oor die eerste krans.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Toe sy weer grond vat, sien sy deur halfmas o\u00eb hoe sy mond teen haar afgly, laer en laer en &#8230; Koorsige o\u00eb vang hare vas voor hy afbuk en haar met sy mond liefkoos.<\/p>\n\n\n\n<p>Haar lyf span styf soos \u2019n boog, maar hy hou nie op nie. Binne sekondes skiet sy weer geruisloos oor die volgende krans.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Hy wag totdat sy haar o\u00eb oopmaak voor hy nogeens haar mond vasvang met syne. Passie brand witwarm; saam rol hulle oor die bed. Hygend, sidderend vou sy haarself om hom, haar lyf sidderend in afwagting.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cGereed?\u201d kreun-vra hy en hys hom bokant haar op.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cNog altyd.\u201d Sy hou haar arms uit na hom toe. Hierdie prentjie sal hy nooit vergeet nie. Haar mond nat van sy soene, haar blonde hare uitgesprei oor sy kussing, haar blou o\u00eb vol vertroue op hom.<\/p>\n\n\n\n<p>Met \u0149 enkele beweging is hy in haar. Hitte ontmoet hitte; die ontploffing van lyflike genot is vinnig, oorweldigend, \u2019n harde en onstuimige storm wat sy siel, sy hele wese, oorstroom. Haar kermgeluide en sy gehyg is die enigste geluide in die kamer.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Nog. Dis al waaraan hy kan dink. Hoe sal hy ooit genoeg van haar kry? Sy hande vat die bedkopstuk bokant hulle vas sodat meer van hom deel van haar kan word. Sy buig op, aanvaar hom.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Hy hou haar gesig dop; absorbeer elke emosie in haar o\u00eb. Eers toe sy sy naam uitsnik, neem hy haar vinniger en ho\u00ebr as voorheen oor die volgende krans en terwyl sy onder hom smelt, stort hy agter haar aan, met haar naam op sy lippe, ver na benede.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Drie<\/p>\n\n\n\n<p>Teen die tyd wat sy Vrydagmiddag Ceres binnery, is Mientjie se binnegoed nog aan\u2019t bewe. Nooit in haar hele lewe drink sy weer \u2019n pi\u00f1a colada nie. Sy\u2019t \u2019n one-night stand met \u2019n wildvreemde man gehad. Een wat sy in haar hele lewe nooit sal kan vergeet nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Van slaap was daar hoegenaamd nie sprake nie. Teen seweuur vanoggend het sy \u2019n halfhartige poging aangewend om huis toe te gaan, maar hy het by haar in die stort geklim.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk dink die pi\u00f1a coladas is uitgewerk, of hoe?\u201d het hy gevra.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Toe sy weer kyk, was dit agtuur.<\/p>\n\n\n\n<p>Hy het \u2019n Uber vir haar bestel, eers na die man se ID gekyk voor hy die motor se deur vir haar oopgemaak het. Sy was nog in \u0149 dwaal; sy het nie eens aan haar eie veiligheid gedink nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Voor hy haar in die motor gehelp het, het hy haar vir oulaas gesoen.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDit was &#8230; onverwags, maar onvergeetlik.\u201d Sy laaste woorde.<\/p>\n\n\n\n<p>Sy was nie gebore in staat om iets te s\u00ea nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>By die huis het sy op haar bed gaan l\u00ea met wydgesperde o\u00eb en tot haar verbasing aan die slaap geraak. Sy het heeltemal verslaap en eers halfvyf wakker geskrik. En die eerste ding waaraan sy gedink het? Tiaan. Sy weet nie eens wat sy van is nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Haar foon lui. Dis die bruid. Met \u2019n sug antwoord sy. Sy is hopeloos laat, sy weet.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie, waar\u2019s jy?!\u201d vra Annie sonder om te groet. \u201cJy moes al lankal hier gewees het. Ek het jou nodig. Jy\u2019s my suster \u00e9n my strooimeisie en jy\u2019s nie hier nie!\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cAs jy nie so oorhaastig was om te trou nie, was ek dalk nie laat nie,\u201d brom Mietjie.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cAs \u2019n mens weet, dan weet jy. Hoekom wag?\u201d&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cJa, oukei, ek weet hy\u2019s jou soulmate en al daai dinge, maar hoekom moet julle in\u2019ie mirrel van flippen n\u00earens trou?\u201d Mientjie rol die foon se skerm terug na die aanwysings.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cS\u00ea asseblief net vir my jy\u2019s darem al by Piketberg verby?\u201d vra Annie.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cPiketberg? Ek het sopas in Ceres aangekom.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWa-a-at?!\u201d gil Annie. \u201cMaar jy moes nie Ceres omgery het nie! Wat op aarde het jou &#8230;?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Die volgende oomblik is haar pa op die foon. Dis duidelik die bruid is ietwat uitgefreak. Annie is gewoonlik die rustigheid self, maar die vinnige troure\u00eblings is skynbaar een te veel vir haar.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie, my liewe kind,\u201d s\u00ea haar pa, \u201c&#8230; jy moes die N7 gevat het; ek het mos vanoggend vir jou \u2019n boodskap gestuur?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDit was &#8230; die dag was \u0149 bietjie deurmekaar,\u201d mompel Mientjie. Om van die vorige nag nie te praat nie. Haar wange begin sommer weer gloei.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cOukei, jy kan nie nou meer omdraai nie. Luister mooi, ek sal verduidelik, maar ek sal ook vir jou die aanwysings aanstuur. N\u00e1 Ceres sal jy oor die Gydo-pas moet ry. Ek wens jy kon vroe\u00ebr wegkom; dit word nou vinnig donker en ek hou nie van die wolke wat ek sien nie. Jy gaan deur Op die Berg ry. Jy sal \u2019n bord sien met Cederberge\/Ceres Karoo op. Daar draai jy regs. Ry totdat jy \u2019n grondpad kry &#8230;\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cGrondpad?!\u201d Sy rol haar o\u00eb. Dit kom nou van te veel pi\u00f1a coladas &#8230;.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk is bevrees, ja, seker so \u2019n uur en \u2019n half se ry. Onthou, jy kan nie vinnig ry nie. Jy gaan verby Mount Ceder, ry net reguit aan. Die volgende punt is Cederberg Oasis. Wag daar vir my, ek sal ry tot daar, want dis moeilik om die pad van daar af tot by die Lodge te verduidelik.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cOukei, Pappa. Dankie. Sien later.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMooi ry, Ounooi.\u201d Haar pa se rustige stem is presies wat sy nou nodig het.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Sy groet haar pa en kyk weer na die aanwysings op haar foon. Toe sy vyfuur wakker skrik, moes sy nog inpak en haar motor se tenk vol maak. Sy het die adres op haar foon getik en begin ry, duidelik nie altyd die beste plan nie.<\/p>\n\n\n\n<p>By die volgende stopstraat sien sy die aanwysing na die Gydo-pas. Ten minste weet sy nou sy ry in die regte rigting en sy ry weg uit die Kaap, weg van Tiaan en sy bultende spiere, sy sexy o\u00eb en sy dringende hande.<\/p>\n\n\n\n<p>Haar hart begin weer wild in haar binneste klop. Al word sy \u2019n honderd jaar oud: laasnag sal sy nooit, ooit in haar lewe vergeet nie. Maar sy sal die man nooit weer sien nie en sy is innig dankbaar daaroor. Wat tussen hulle gebeur het &#8230; Haar asem raak sommer weer weg.<\/p>\n\n\n\n<p>Sy loer deur die voorruit na die dreigende wolke wat van n\u00earens begin saampak. Flippit, dis die begin van Desember, dis die Boland, dis nie veronderstel om nou te re\u00ebn nie.<\/p>\n\n\n\n<p>En natuurlik. Die volgende oomblik stort emmers water oor haar Fiatjie neer.<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan pluk sy natgeswete T-hemp oor sy kop voor hy die bier by Marnus vat. Sy ander broers, Lafras en Reinier, het klaar hulle hemde uitgetrek; dit was baie warm toe hulle gaan draf het. Hulle het so \u2019n uur gelede by die Cederbeg Oasis aangekom waar hulle vir die naweek plek bespreek het. M\u00f4re wil hulle voor die troue van die roetes verken en het daarom vandag al \u2019n drafsessie ingepas.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cOns moet maar vroeg m\u00f4reoggend die 4X4-roete gaan ry,\u201d stel Lafras voor. \u201cDie troue begin vieruur, en Eben het gevra ons moet asseblief teen halftwee by hom wees.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cVir wat so vroeg?\u201d brom Reinier.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cSeker foto\u2019s en stuff,\u201d s\u00ea Lafras. \u201cEk het nie gevra nie. Die arme ou weet nie of hy kom of gaan nie; di\u00e9 troue is mos binne drie maande gere\u00ebl. Maar ons is sy strooijonkers, en ons is hier om dinge vir h\u00f3m makliker te maak.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Marnus se foon lui en hy stap \u2019n end weg om te antwoord.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cHet jy weer iets van jou blondine gehoor?\u201d terg Reinier.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan maak of hy nie hoor wat Reinier s\u00ea nie. Sy broers terg hom al heeldag omdat hy so laat by die werk opgedaag het. Hulle wou details weet, maar hy het hulle net ignoreer.<\/p>\n\n\n\n<p>Hy het haar nie verwag nie. Mientjie. Hy probeer sy asem intrek, maar dis asof \u2019n band styf om sy borskas geklamp is sedert sy weg is met die Uber; hy sukkel om asem te haal. Laasnag is nog in sy kop, in sy lyf, en hy is nie seker wat om met al die gevoelens te maak wat in hom rondkarring nie. Vir sy broers se tergery en \u2019n flippen troue is hy regtig nie lus nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Marnus kom teruggestap. \u201cDit was Pieter. Vanmiddag se onderhoud het toe nie \u2019n grafiese kunstenaar opgelewer wat aan ons vereistes voldoen nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cHoekom is dit so moeilik? Ek dog mense soek werk?\u2019 vra Reinier.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWel, soos jy weet is ons baie spesifiek met wat ons wil h\u00ea. Nie almal weet wat \u2019n internet- en sagteware maatskappy doen nie,\u201d beduie Lafras voor hy frons. \u201cMaar as ek reg onthou, is die bruid se suster \u2019n grafiese ontwerper. Sy werk glo by \u2019n advertensiemaatskappy. Dalk is s\u00fd \u0149 moontlikheid, of wat dink julle?\u201d voeg hy lig spottend by. Maar die onderdrukte toon van desperaatheid ontgaan nie die ander nie.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cKom ons kyk maar eers hoe lyk die sussie,\u201d s\u00ea Reinier met \u0149 glimlag. \u201cDie hoop beskaam immers nooit.\u201d&nbsp;&nbsp;&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Buite val die re\u00ebn hard.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cSal ons eerder binne braai?\u201d vra Marnus.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk dink so,\u201d antwoord Tiaan. \u201cDie hout is agter in my kar. Ek gaan kry dit gou.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Hy pluk die voordeur oop en verstar. Die stoep se lig is aan en val oor \u2019n sopnat gere\u00ebnde vrou. Haar hande is onder haar armholtes ingedruk; haar hare nat slierte oor haar gesig.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Maar die groot blou o\u00eb is onmiskenbaar h\u00e1\u00e1r o\u00eb. S\u00fd Mientjie s\u2019n.<\/p>\n\n\n\n<p>Vir minute staar hulle na mekaar. Die stywe band om sy lyf gee skiet, maar sy asem het in sy keel gestol. Hy kan nie \u2019n woord uitkry nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u2019n Motor toet iewers in die donker agter haar, sy kyk oor haar skouer en voor hy kan keer, draf sy weg en klim in die motor. Toe eers kry sy voete lewe.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie!\u201d roep hy, maar die motor se ligte het reeds om die hoek verdwyn.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cNa wie roep jy?\u201d vra Reinier van die deur af.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk &#8230; dit was &#8230;.\u201d Tiaan laat sak sy hand. \u201cNiemand nie. Ek bring die hout.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Hy kry die sak hout agter uit die bagasiebak en stap terug na die ou plaashuis wat hulle vir die naweek huur; sy gedagtes \u2019n totale warboel. Mientjie hier? Hoe\u2019t sy hier gekom en wat soek sy hier? Hy moes haar ingenooi het, vir haar \u2019n handdoek aangebied het, maar in plaas daarvan, het hy net na haar gestaar.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cAls oukei?\u201d vra Lafras met sy foon in sy hand. \u201cDit lyk of jy \u2019n spook gesien het.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk\u2019s fine. Wat neuk julle so?\u201d brom Tiaan en begin die hout uithaal.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Hoe kry hy Mientjie weer in die hande? Want van een ding is hy nou baie seker \u2013 een nag saam met haar was nie naastenby genoeg nie. \u2019n Leeftyd sal nie genoeg wees nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Teen die tyd wat Mientjie die volgende middag in die paadjie voor die drie ander strooimeisies uitstap, het haar hart nog nie sy l\u00ea gekry nie.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan was die allerlaaste mens wat sy gisteraand verwag het om in die enigste gebou met ligte aan by die Watsenaam Oase te kry. Maar dit w\u00e1s hy. Elke gespierde sentimeter van hom. Reg voor haar. En wat doen sy? Sy hol weg.<\/p>\n\n\n\n<p>Laasnag het sy weer niks geslaap gekry nie. Die paar kere wat sy wel weggeraak het, het stomende drome van warm hande, s\u00fd hande, oral op haar lyf, haar in elk geval wakker geruk.<\/p>\n\n\n\n<p>In die voorste bank sit haar ma met o\u00eb nat van trane. Sy buk vinnig af en gee haar \u2019n drukkie voor sy verder stap. Annie se bruidegom staan voor die kansel; sy o\u00eb agtertoe op die deur. Sy glimlag. Sy is s\u00f3 bly vir haar sus. Net voor sy haar plek inneem, kyk sy vir die eerste keer na die vier strooijonkers wat so \u2019n ent agter haar amperswaer staan.<\/p>\n\n\n\n<p>\u2019n Paar persblou o\u00eb sluk haar feitlik in. Sy struikel effens voor sy haar balans kry. Die een kant van sy mond trek op. Hy lag vir haar, die ellendeling. Letterlik val sy amper voor sy voete en hy lag vir haar!&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Sy druk haar hand op haar maag waar \u2019n hele swerm skoenlappers baldadig rondflap. Hy\u2019s hier. By die troue. En sy kan nie eens \u2019n pi\u00f1a colada skuld gee vir die manier waarop haar lyf op sy teenwoordigheid reageer nie.<\/p>\n\n\n\n<p>Die troumars se eerste noot vul die vertrek, Annie verskyn in die deur, maar Mientjie se kop swaai weer vanself na links. Tiaan se o\u00eb is op haar.<\/p>\n\n\n\n<p>Help.<\/p>\n\n\n\n<p>Die troufotograaf het die hele gevolg en familie aan die agterkant van die trouvenue bymekaar gekry. Van hier is daar \u2019n lieflike uitsig op die berge; die foto\u2019s behoort pragtig te wees. Op die oomblik is die fotograaf besig met foto\u2019s van die bruidspaar en hulle ouers.<\/p>\n\n\n\n<p>Sy voel Tiaan agter haar voor sy hom sien.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie.\u201d&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Met \u2019n bomenslike poging plak sy \u2019n glimlag op haar gesig voor sy omdraai. \u201cTiaan. Dis \u2019n verrassing om jou hier te sien.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan maak sy mond oop om iets te s\u00ea, maar vinnig naderende voetstappe laat hom opkyk.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie!\u201d roep Marnus en kom met lang tre\u00eb aangestap. Reinier en Lafras is \u2019n kortkop agter hom. Hy steek sy hand uit. \u201cMarnus Weber, Tiaan se een broer. Ons hoor nou net by Eben jy\u2019t bedank by jou werk. Ons is dringend op soek na \u2019n nuwe grafiese kunstenaar. Stel jy belang?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEn julle is?\u201d vra sy verbouereerd.<\/p>\n\n\n\n<p>Lafras staan ook nader en steek sy hand uit. \u201cLafras. Ons is Weber Vier. \u2019n Internet- en sagteware maatskappy.\u201d Sy o\u00eb vernou. \u201cMaar het ons jou nie al iewers &#8230;\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan sit sy hande op haar heupe en trek haar styf teen hom vas. Sy broers se o\u00eb rek. \u201cDis my broers. Die een wat jy nog nie ontmoet het nie, is Reinier. Jammer julle, sy kan nie vir ons werk nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk het met Mientjie gepraat,\u201d s\u00ea Marnus. \u201cEk het nie geweet jy ken haar nie?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk ken haar &#8230; baie goed. En tensy julle \u2019n gedeelte van die maatskappy se beleid verander, kan ons nie vir Mientjie aanstel nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Mientjie is verstom oor die gesprek wat om haar aangaan; sukkel om \u2019n woord uit te kry. Maar toe sy Tiaan se laaste woorde hoor, draai sy verontwaardig om en gluur hom aan. \u201cEn hoekom nogal nie?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWil ek ook weet,\u201d reageer Reinier. Al drie sy broers kyk hom vraend aan. \u201cWatter deel van die beleid?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan tel Mientjie se hand op en bring dit na sy lippe toe. \u201cDie deel wat s\u00ea dat \u2019n getroude paar nie vir die maatskappy mag werk&nbsp;<a>nie<\/a><a href=\"applewebdata:\/\/A0602DDD-5F52-46EC-9BDD-A4BC89539F1D#_msocom_1\">[WE[1]<\/a>&nbsp;.\u201d<a>&nbsp;<\/a><a href=\"applewebdata:\/\/A0602DDD-5F52-46EC-9BDD-A4BC89539F1D#_msocom_2\">[LE2]<\/a>&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMaar &#8230;\u201d stotter Reinier.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWat &#8230;?!\u201d roep Marnus uit.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cWel, die hele direksie is hier, ons kan dadelik \u2019n besluit neem,\u201d lag Lafras.<\/p>\n\n\n\n<p>Maar hy steur hom nie aan sy broers \u00f3f die ander lede van die trougeselskap wat naderstap nie.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cDie afgelope vier-en-twintig uur wil ek nooit weer oor h\u00ea nie. Ek het jou gemis. Jou glimlag, jou stem, jou geur, jou lyf. Vir jou.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie, wie is di\u00e9 vent?\u201d vra die bruid se pa en, het hy agtergekom, Mientjie se pa ook. \u201cEn hoekom weet hy hoe jy ruik?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan steek sy hand uit. \u201cEk is Tiaan Weber, Oom. Gee my asseblief net \u2019n nog \u2019n minuut? Ek wil graag met u praat.\u201d&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>\u2019n Ouer vrou met Mientjie se blou o\u00eb, sit haar hand op die ouer man se arm en hy raak sigbaar rustiger. Tiaan glimlag. D\u00edt verstaan hy. Hy kyk weer af na Mientjie.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cGisteraand was nie genoeg nie. Waarskynlik sal ek sonder jou kan funksioneer, maar ek wil nie. Ek wil by jou wees. Ek het jou nodig. Altyd. Trou met my?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Mientjie knip haar o\u00eb. Sy moet hallusineer, of regop staan en droom. Dis heeltemal moontlik. Die afgelope twee nagte het sy nie geslaap nie. Maar toe sy haar o\u00eb oopmaak, staan Tiaan nog voor haar, sy vraag van netnou nog steeds in die lug om hulle.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Die fotograaf gooi sy hande in die lug.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMientjie?\u201d&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Mmm &#8230; so hy is nie so seker soos wat hy graag wil lyk nie. Sy druk \u2019n vinger teen haar ken in \u2019n kom-laat-ek-bietjie-dink gebaar. \u201cDis moeilik. Ek moet eers weet of ek \u2019n werk het.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan kyk na sy broers.&nbsp;<\/p>\n\n\n\n<p>Reinier glimlag breed. \u201c\u00c9k het nie \u2019n probleem nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk ook nie,\u201d grinnik Lafras.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cMiskien sal sy help om jou betyds soggens by die werk te kry,\u201d lag Marnus.<\/p>\n\n\n\n<p>Tiaan verstrengel sy vingers met hare. \u201cMientjie?\u201d<\/p>\n\n\n\n<p>Vreugde ontplof in haar binneste. Sy weet maar vir vier-en-twintig uur van Tiaan se bestaan, maar sy weet hoe hy bemin en sy weet hoe hy omgee. Sy weet hoe hy liefhet.<\/p>\n\n\n\n<p>Hy trek haar nader.<\/p>\n\n\n\n<p>\u201cEk het reeds vir ons pi\u00f1a coladas bestel,\u201d fluister hy by haar oor voor haar pa keel skoonmaak.<\/p>\n\n\n\n<hr class=\"wp-block-separator\"\/>\n\n\n\n<p><a><\/a><\/p>\n\n\n\n<p>&nbsp;<a href=\"applewebdata:\/\/A0602DDD-5F52-46EC-9BDD-A4BC89539F1D#_msoanchor_1\">[WE[1]<\/a>Ek hou so van die einde! Maar oukei \u2013 ek val in by julle besluit&nbsp;J<a><\/a><\/p>\n\n\n\n<p>&nbsp;<a href=\"applewebdata:\/\/A0602DDD-5F52-46EC-9BDD-A4BC89539F1D#_msoanchor_2\">[LE2]<\/a>NOTA: Volgens die keurder se voorstel moet die verhaal hier eindig.<\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Die moeilikheid met Pi\u00f1a Coladas Elsa Winckler Een \u201cEk het jou ges\u00ea Gerrit Bos se o\u00eb sit te na aan mekaar,\u201d s\u00ea Brenna voor sy die kelner weer \u2019n keer nader wink. \u201cEk kan nie glo hy\u2019t jou ontwerp gesteel<\/p>\n","protected":false},"author":1,"featured_media":1741,"comment_status":"open","ping_status":"closed","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"footnotes":""},"categories":[9,6,4],"tags":[231,232,214,218,227,243,242],"class_list":["post-1742","post","type-post","status-publish","format-standard","has-post-thumbnail","hentry","category-other-blogging","category-books","category-writing","tag-ekskryfliefde","tag-ekskryfsoene","tag-kortverhaal","tag-liefdewen","tag-maandvanliefde","tag-pinacolladas","tag-liefdemetdieeerstesoen"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts\/1742","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/users\/1"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fcomments&post=1742"}],"version-history":[{"count":2,"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts\/1742\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":1745,"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/posts\/1742\/revisions\/1745"}],"wp:featuredmedia":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=\/wp\/v2\/media\/1741"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fmedia&parent=1742"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Fcategories&post=1742"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/elsawinckler.com\/index.php?rest_route=%2Fwp%2Fv2%2Ftags&post=1742"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}