2016

Die kinders.

Van alles wat die jaar gebeur het, was dit die lot van kinders wat my die meeste ontstel het. Einde verlede jaar spoel die driejarige Aylan Kurdi se lyfie uit op ’n strand naby die Bodrum in Turkeye. Hy het ’n rooi hempie aan. ’n Sarsie rubberkoeël tref my teen my vel.

Die foto van die verdwaasde vyfjarige Omran Daqneesh agter in ’n ambulans nadat hy uit puinhope van Aleppo gehaal is, laat my desperaat soek na ’n manier om die wanhoop in my te laat bedaar.

’n Joernalis skryf die kinders in Aleppo huil nie meer nie. My hart breek.

Koerante is vol van ouers wat kinders seermaak, kinders wat ouers doodmaak. Wreed.

’n Wailing wall soos die een wat May Boatwright in Sue Monk Kid se The secret life of bees gehad het, begin sin maak. Op een of ander manier moet die seer op ’n plek kom weg van my waar ek dit nie meer kan voel nie.

Ons boeta is siek. Dis ’n lang, uitmergelende pad. Van die groot, sterk man is teen die einde min oor, net die vonkel in sy oog glim nog so af en toe totdat die blou oë heeltemal dof word. Hy’s op ’n goeie plek, ons weet, maar ek mis sy lag. Hy het die lewe met soveel oorgawe bestorm.

Ons meisiekind woon ver oor die water. Sy is gelukkig, ons gaan kuier, sy kom kuier, maar ek mis haar lyf, haar lag, haar reuk.

En ons middelste kom sê hy gaan weer Sjina toe. Dis ver, dis vreemd, dis aan die anderkant van die aardbol. Die verlange kom sit in ’n rou knop in my keel wat ek maar net nie weggesluk kry nie.

Oudste het ’n rowwe jaar. Ons bid, ons praat moed in, verwonder ons aan hulle vaste geloof dat alles sal uitwerk. Oudste kleinseun breek sy arm, ouma se lyf is te klein.

Die klaagmuur begin al hoe meer sin maak.

’n Vriendin verloor haar werk, ’n vriend raak siek, ’n vriendin verloor haar man, ’n ander die pa van haar kind. Vriende se kinders dwaal iewers langs die pad af. Verlore lewens. Dié sarsie koeëls is meededoënloos.

Ons ma word 91, die groen oë wat so vurig kon blits, is vaal, kyk ver na dinge waarvan ons niks weet nie. Die ma wat ek geken het, wat my so op my tone gehou het, is lankal nie meer hier nie. In haar plek is ’n verdwaasde wese en net soms breek ’n glimlag deur en herken haar oë iemand.

Ek wonder oor die sin van so ’n lewe.

’n Maand of wat terug kyk ek met verwondering na die supermaan. Dit word wetenskaplik verduidelik, ek weet, maar iets van die grootheid van die heelal, van die liefde van ons Hemelse Vader vir ons woelige aardse wensens, kry lêplek in my hart.

Ek het ’n Wailing Wall. So tussen al die hartseer het ek net vir ’n rukkie van Hom vergeet.

’n Mooi 2017 vir jou.

6 thoughts on “2016

  1. Erens tussen al die vrae en hartseer is daar klein krakies van lig. Daar gaan krap mens met dankbaarheid tot die lig deurskyn en nie noodwendig sin maak van als nie maar in jou binneste vrede gee dat jy tog verskil maak waar jy is en die wete dat jy bevooreg is om lewens te deel met almal wat so groot impak maak in jou lewe. Waardeer die oomblikke. Moet nooit daai hart van omgee laat hard word nie. Ons wereld verander ten goede agv van daai omgee. Jy maak n verskil.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *